Kyk, kom ons wees nou eerlik!

Hierdie jaar wat voor ons lê gaan ons geloof op sekere punte uitdaag.

En miskien is jy nog vol moed en entoesiasme vir die jaar.

Miskien is dit vir ons hier in die kerklike tyd van Epifanie nog idillies om te vra:

“Hoe gaan ons Geloofsagtewarein hierdie jaar hierdie Jesus, oor wie ons Kersfees gevier het, volg.

 

Maar net so al te dikwels dan bekruip die twyfel en ongeloof ons en dreig om ons geloofsbootjie om te kantel.

En waarskynlik is dit deel van ons post-moderne tydsgees om alles te bevraagteken.

Ons het rede om sinies te wees oor baie dinge.  Baie dinge het nie so uitgewerk soos ons gedink het nie.  En baie dinge gebeur nie soos belowe is nie.

En baie dinge loop so vreeslik skeef dat ons rede het om te twyfel – veral ook oor God!

 

Iemand sê: Twyfel is die vriend van geloof.

Dit mag vir jou baie vreemd en paradoksaal klink.

Hopelik verstaan jy dit bietjie later bietjie beter…!

Moet net nie paniekerig raak as jy sinies begin twyfel nie.

Immers, twyfel beteken dat jy nog op ’n geloofstandpunt staan,

maar dat jy inderdaad begin vrae vra oor die geloofswaarhede

wat vir jou voorheen so maklik was.

 

As jy twyfel beteken dit ook dat jy immers eerlik genoeg is om die vraagtekens van jou hart te begin verwoord.

 

In ’n baie kosbare artikel van Brian Mclaren wat ook op die gemeente webwerf is (en waaruit ek ook later sal aanhaal) vertel hy van die eerlikheid van jong gelowiges wat maar onlangs tot bekering gekom het.  Dan maak hy die opmerking dat hulle “nog nie soos die ou  gelowiges al geleer het om oneerlik te wees oor hul twyfelvrae nie”.

 

Die vraag is of jy nog eerlik genoeg is om jou ongeloof/geloofsworstelinge te erken en te verwoord?

 

In Joh 1: 43 begin die verhaal van hoe Jesus vir Natanael roep as dissipel.

Maar eers is dit Filippus wat geroep word.  Nie lang verduidelikings en motiverings en kontrakte nie. Net twee woorde:  “Volg My!” (Die kortste sin wat daar kan wees!)

As Filippus reageer,  vra hy nie vrae nie.   Hy doen net!

Welliswaar kan die verwysing na Andreas en Petrus wat van dieselfde dorpie as hy kom, vir ons ’n aanduiding gee dat hulle hom moontlik al so bietjie ingelig het oor hierdie Jesus.

Dit is mos die styl van die dissipel van die Here Jesus.  Hy vertel oor!

Waar die hart van vol is….

 

Met die uitbring van die boodskap by Natanael gaan dit egter nie so maklik nie.

Hy is amper ‘n tipiese kritiese post-moderne mens wat sinies is oor alles.

 

“Kan daar nou uit so ’n agterlike ou dorpie soos Nasaret iets goeds kom.”

Natuurlik verstaan hy niks van waar Jesus regtig vandaan kom nie.

Maar hy verwoord sy ongeloof baie eerlik.

 

Mens sou kon wonder waar sy siniese ongeloof vandaan kom.

 

Daar kan baie redes wees waarom mense vandag soms in die modderpoel van kleingeloof en ongeloof beland:

As daar ’n motorongeluk is en ’n vriend sterf.

As daar ’n kanker-diagnose is.

As die plaasmoord nie net nog statistiek is nie, maar jou familie.

Dan vra jy:  Waar is God dan? Waar is sy liefde/alwetendheid/almag/sorg?

Is God hoegenaamd daar?

So word ongeloof soms bo-oor ons geloof gebore en probeer dit ons geloof versmoor.

 

Filippus kan ook nie met Natanael ’n teologiese debat oor sy vrae voer nie.

Hy vat die kortpad:  “Kom kyk! Jy met al jou twyfel…kom kyk self en oordeel vir jouself!”

 

En Filippus se skielike plannetjie werk, want waar mens vir Jesus self ontmoet, kan jy nie anders as om verwonderd te staan nie.

 

Wat gebeur daar dan tussen Jesus en Natanael?

 

’n Baie interessante verloop!

Jesus spreek sy waardering uit vir Natanael se karakter:

   “’n Ware Israeliet, ’n man in wie daar geen bedrog is nie.”

 

Die Israeliete is juis die kinders van Jakob, die bedrieër, maar hierdie kind van Jakob is tog anders! ….. sonder bedrog!

Hy maak nie ’n moordkuil van sy hart nie. Eerlik, reguit, krities!

 

Natanael sou dit as ’n heuning-om-die-mond-smeerdery kon ervaar.

Daarom vra hy: “En waarvandaan ken U my miskien?”

 

Hierdie is duidelik ’n uitdaging aan Jesus.

En Jesus vat die uitdaging, want Hy is God.

Hy weet!          Hy ken!

Hy ken ook die donker en die soekende hoekies van ons harte.

 

“Natanael, voordat Filippus jou geroep het, toe jy nog onder die vyeboom was, het ek jou al gesien.”

 

En Natanael skrik eintlik!

Onder die vyeboom!?  Ja, ja!

Wat daar presies onder die vyeboom gebeur het, weet ons nie.  Miskien was daar ’n baie besondere geestelike gebeure onder daardie vyeboom daardie oggend.

Miskien het Natanael daardie oggend onder die vyeboom weer met God geworstel oor die vervulling van sy beloftes van die Messias.

Of miskien het hy maar net daar eensaam onder ’n vyeboom in die skaduwee gerus.

 

Maar hy sien dat Jesus sien.

Hierdie Jesus sien die onsigbare!

Hierdie Jesus weet die onweetbare

Hierdie Jesus kyk in harte!

 

En dit is vir Natanael genoeg!

Oor sy lippe breek die duidelikste geloofsbelydenis tot op hierdie stadium in die evangelie:

“Rabbi, U is die Seun van God, U is die Koning van Israel.!”

 

 

Die mooi vir my in hierdie gebeure is juis hoe hierdie twyfel en siniese vraag van iemand as deel van ’n proses deel word van ’n dawerende geloofsbelydenis.

Mclaren, na wie ek verwys het, onderskei vier moontlike fases wat soos ’n groeispiraal na bo kan beweeg:

  1. Eenvoud/kinderlike geloof
  2. Kompleksiteit
  3. Perpleksiteit / ontnugtering / bevraagtekening
  4. Volwassenheid / nederigheid en leer leef met die misterie

” I describe how faith seems to grow in a kind of interative, ascending spiral that has four stages.

  1.  I call the first stage simplicity, where everything is simple and easy, black and white, known or knowable.
  2. Then there’s complexity, where you focus on techniques of finding the truth – since the scenario has gotten more complex.
  3. Then there’s perplexity, where you become a kind of disillusioned learner, where you doubt all authority figures and absolutes, where everything seems relative and hazy.
  4. I used to call the fourth stage maturity, but a friend pointed out it would be better called humility, because in stage four you come to terms with your limitations, and you learn to live with mystery, … as an honest realization that only God understands everything. You carry out of stage four a shorter list of tested and cherished beliefs that you base your life on, and a lot of your previous dogmatisms are now held more lightly. In a sense a person keeps finding faith and then becoming frustrated with it and in a sense losing it, and then finding a better version of it, and so on, maybe like a software upgrade….”

Sien volledige leeswaardige artikel op webwerf

Miskien is jy besig met een van hierdie fases van jou geloof.

Vertrou die Here daarmee.

Die wonderlike is dat jy die Here Jesus kan vertrou dat Hy met jou in interaksie tree soos met ’n Natanael.

En in daardie interaksie ontdek jy meer as wat jy gedink het…

 

So werk die Here in jou en my lewe.

Mag die Here jou nederig genoeg maak om te besef dat jy Hom ook maar net nog gedeeltelik geken het.

Ons persepsies van die Here het altyd ruimte om gekorrigeer te word.

Ons geloof het altyd ruimte om versterk te word.

 

Maar onthou dat Hy jou vyeboom ken.

En dat Hy dus jou hart ken.

En onthou dat Hy raaksien as jy opregte Israeliet is sonder bedrog

– selfs met jou twyfel-vrae soms!

 

Amen