Paas GrafdoekeDit lyk my of ons nie meer in ons dag geprogrammeer is vir verbasing nie.

Niks is meer so asemrowend dat dit ons verbaas kan laat nie.

ALLES is mos moontlik, trouens ons verwag as’t ware die onmoontlike-gewone.

Die laaste keer wat ons oopmond-verbaas gestaan het, was toe die Twin Towers voor ons oë op ons TV-kassies in duie stort.

Dit was egter meer skok-verbasing as verwondering.

 

Paasfees is eintlik ’n fees van verwondering.

En Paasfees het alles, maar ALLES, te make met LEWE!

Dit gaan oor die opstanding uit ’n graf … her-lewing!

Maar dit gaan ook oor baie meer as dit.

 

Dit gaan eerstens oor wie Jesus is:

As ons reg aan die begin vir Johannes vra: “Wie is Jesus?”

Dan sê hy in 1:4 (reg aan die begin van die Evangelie):

In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”

 

As ons dan uiteindelik, aan die einde van die evangelie, vir hom vra:

“Wat is dit wat Jesus vir mense kom gee?”

Dan antwoord hy in Joh 20:31:

“Maar hierdie wondertekens (semeia) is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.”

(Joh 21 is ’n aanhangsel wat later deur ander skrywers bygevoeg is by Joh se oorspronklike Evangelie.)

En reg deur die evangelie, van die eerste komp tekenwonders af,  loop dieselfde refrein:

As ons dus vir Johannes vra:  Waaroor gaan dit alles?, sal hy sê:

“Dit gaan oor die lewe!”  

Nou wat is hierdie lewe?

Daar is ’n wonderlike ervaring wat ons elke dag beleef as ons wakker word.  Dit is die besef:  Ek leef en ek voel ’n stukkie vitaliteit met daardie eerste oog-oopmaak. Gewoonlik eers ’n bietjie verward om jouself te oriënteer tov die dag van die week…  Selfs al is jou eerste ervaring – met die ouderdom –  pyn, is dit ook ’n wonderlike teken dat jy nog leef!

Dit is wonderlik, maar dit is nie Johannes se “lewe” nie.

Partykeer is daar iets lekkers wat jy doen: Jy duik in die seebranders in, of jy voel die gloed van die braaivleisvuurtjie op jou lyf saam met jou familie en vriende saam met jou en jy sê: “Dit is nou die lewe!”

Dit is ook wonderlik, maar dit is ook nie Johannes se “lewe” nie.

 

Johannes noem dit dikwels die ewige lewe.

Maar dit is nie die lewe na die dood nie.  Al dink ons dikwels en normaalweg so daaroor.

Joh 5:24 sê:  Wie luister en glo “het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.”

 

So! Die lewe het te make met (om Joh 15 se beeld te gebruik):

Om ingeënt te wees op Hom as die wingerdstok.

Dit is om deur die geloof aan Hom as die Lewe verbind te wees.

Daardie ou afgesnyde wingerdlootjie het geen toekoms as hy nie ingeënt word op die wingerdstok nie.

Daarsonder is sy voorland verdroog – net ’n kwessie van tyd!

Hy kry eers ’n toekoms en die moontlikheid om vrugte in hierdie wêreld te dra as hy met ’n wonder ingeënt word op die wingerdstok.

Jesus is daardie Lewensbron waarop daar in die geloof sterwende lote ingeënt word.

 

Dit het dus te make met geloof.

En een van die sleutelelemente van daardie geloof is  dat jy kan glo in die opstanding van Jesus.

Om dit te glo is egter ’n wonderwerk van die Heilige Gees.

Daarsonder sal jy die teks van Joh 20 kan lees en herlees tot jy blou is en selfs die “songs” van Paassondag kan saamsing, maar dan het jy nog nie Jesus se lewe nie.

 

Kom ons lees net eers Joh 10:17 (konteks van die gesprek van die Goeie Herder):

Luister mooi hoe die Paasgebeure hier vooruitgeloop word:

“Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem.  Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.”

 

Jesus se opstanding is moontlik omdat Hy die volmag (die Grk: eksousia) daarvoor het.

Onthou hoe ons ook nou al by herhaling gesê het dat die sterwe en die opstanding van Jesus is vir Johannes een groot Paasgebeure.  En dit is iets wat die Vader en die Seun saam doen.

Hierdie Paasfees is teken van die Here se volmag en almag!

Maar toe lees ons van die genesing van die man daar by Betesda se bad.

En ons vra: wat is die teenpool van lewe?

Onthou nou, die man lê al 38 jaar lank moedeloos daar!   En dan word hy genees!

Maar die interessante van die verhaal is dat hierdie man nie dood was nie, net verlam.

Maar Jesus se gesprek verder handel oor dood en lewe.

 

Wat in die verhaal is nou die teenoorgestelde van die lewe waaruit hierdie man verlos moes word?

Hierdie man lê 38 jaar langs die bad!

Ten spyte daarvan dat hy al dikwels probeer het om betyds eerste in die roerende genesende water te kom, was hy altyd te laat! Later het hy plannetjies gemaak dat iemand hom moet kom ingooi, maar dit was ook nie suksesvol nie.

Later het hy seker nie eers meer probeer nie.

Geen wonder nie dat Jesus vra of hy genees wil word.  Eers klink dit na ’n onnodige vraag.

Maar dalk het sy gees ook al verlam geraak.

Verlamming van die gees.

Die wegsterf van verwagting en hoop.

Dit is die skaduwee van geestelike dood.

 

’n Verdere aspek van hierdie man se “doodsheid” was die feit dat hy sy genesing nie van God verwag het nie.

Ons lees niks van geloof of van gebed nie.

Ons lees net van sy eie pogings om aan te sukkel en sy plannetjies waarmee ander hom moet help.

 

Geen verwagting van God nie.

God het stelselmatig uit sy lewe verdwyn.

 

Dit is nie net verlamming nie.

Dit is dood.  Dit is doodsheid.

Dit is wanneer jy lewe nodig het.

Dit is wanneer jy die Lewensbron nodig het om jou pad te kruis – sodat jy in die geloof op Hom ingeënt kan word.

Dit is wanneer Paasfees gebeur.

 

Nou hoe kry jy dit?

Want miskien is jy ook besig om stelselmatig verlam te raak.

Miskien is jy besig om al jou opgewonde verwagtinge van God te verloor!

 

Jy kry dit as ’n geskenk –  wanneer Jesus, die Lewe, jou pad kruis!

Vers 6:  “Jesus het hom sien lê en het geweet….”

Hy sien en Hy weet!

Hoe voel dit vanoggend as jy besef …. Hy sien en Hy weet? Ja, Hy weet van jou teleurstellings en jou bekommernisse.

Daar is in elkeen van ons se lewe een of ander vorm van moedeloosheid en (wat ons dink) hoop-loos situasies is.  Miskien is dit in ons gedeelde konteks in Afrika.

Paasfees roep ons op om met nuwe oë na die situasies te kyk.

 

(Toe ek  hierdie teks skryf, toe begin dit saggies te reën – ’n Stil Saterdag Paasfeesteken van hoop op ons droë aarde!)

 

Die opmerking wat my in die teks die diepste getref het is die woorde:

“Die Vader het die Seun lief en hy wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys sodat julle verbaas sal staan.” (:20)

 

Die Grieks is “thoumadzete” – verwondering, verbasing, verstomming.

Presies dit was die reaksie van Maria, Johannes en Petrus … en ons ook weer vanoggend by die boodskap van die oopgerolde Paasgraf.

 

Die onmiddelike konteks van die thoumadzete sou natuurlik al Johannes se wondertekens wees, selfs tot by Lasarus se voortydige Paasfees.

Maar watter groter verbasing is daar as die reaksie wat ’n mens op die boodskap van die kruis, maar veral op die opstanding van Christus Jesus.

 

Daarmee sluit ek af:

Die lewe begin wanneer jy vanoggend weer die graf sien wat oop lê!

Kyk mooi, soos ’n Sherlock Holmes, in daardie graf in dat jy al die tekens alles fyn kan raaksien.

 

Jy sou ook sinies met jou tipies menslike vooroordeel (van wat moontlik en nie moontlik is nie) kan kyk.

Sonder enige noemenswaardige verwagting.

Dan is jy eintlik nog dood soos die man by Betesda.

Of, as jy meer noukeurig kyk en bly kyk, uitkom by ’n verbasing en ’n verwondering.

En dit is die LEWE!

Verwondering oor God en Sy Paasfees-lewe!

–       selfs IN jou kreupelheid en moedeloosheid!

 

Amen