kairostydVanaf Sondag is dit die jaarlikse sg Groot Lydensweek.

Maar kom ons kry net vir onsself die prentjie mooi reg om te verstaan wat histories in hierdie week gebeur het, want dit was sewe dae wat die wêreld verander het:

Sondag: Op hierdie Sondag ry Jesus op die rug vn ’n donkie Jerusalem binne terwyl die skare met die Hosanna’s die profesie van Sag 9:9 vervul.

Maandag: Jesus stap die tempel in en Hy smyt die verkopers en geldwisselaars se tafels om. Sien, die Romeinse geldeenheid met Ceasar se kop op mag nie in die tempel gebruik word nie. Net die Joodse sikkel was toelaatbaar. (’n Lekker geleentheid vir bietjie kommissie!)

Dinsdag: Jesus leer die volk in gelykenisse, waarsku die mense teen die Fariseërs en voorspel die verwoesting van Jerusalem.

Van Woensdag weet ons niks. Die evangelieskrywers swyg. Moontlik was dit ’n dag van rus – een uit die sewe.

Donderdag laat Jesus die bovertrek vir die Pasga gereed kry en die aand vier hulle die Pasga wat Jesus met nuwe betekenis kom vul – die eerste nagmaalgeleentheid. Later die aand word die tuin van Getsemane vir Jesus ’n plek van pyn en wroeging.

Op Vrydag volg die verraad en arrestasie (ons Donderdagaand), maar ook die vals verhore, veroordeling, marteling … en dra Jesus die kruis oor Kopbeenheuwel waar Hy gekruisig word.

Saterdag lê Jesus in die graf van die ryk man Josef.

Op Sondag is die passie verby. Die steen voor die graf is weggerol!? Die dissipels hoor: “Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan!”

Dit is die kliniese chronologiese verloop van die Paasfees.

Van die liefde daaragter, die trauma, die wroeging, die nood en die pyn word nie veel vertel nie en ook nie verstaan nie – tot op ons dag.

Dit is waarom Mel Gibson se film Passion of the Christ ’n beperking op het: “Rated: R.”

“Restricted – under 17 requires accompanying parent or adult guardian.”

SKRIFLESING: Lukas 19:28-48

Tema:

Om die ‘kairos’-moment van beslissing aan te gryp

Ons begin op ’n ligter noot:

Ons is mos baie sensitief vir diefstal van voertuie.

Maar dit lyk of dit nie té ’n groot probleem was terug in Jesus se tyd nie.

Jesus laat haal die donkie en die eienaar laat hulle maar begaan.

As Alfred of Attie (wat ons motors opppas) nou hier inkom en sê iemand is besig om jou motor te steel, sal jy seker baie vinnig hier uit hardloop en baie skerp reageer.

As jy daar twee jong ouens met skroewedraaiers kry wat aan jou motordeur peuter, sal jy net klippe soek om hulle te verwilder.

Maar wat as hulle vir jou sou sê: “Ons is besig met ’n uitreik. Die Here het jou voertuig nodig. Ons sal hom later terugbring!”

Wat sou jou reaksie wees?

Ek weet!!

Maar in Jesus se tyd was daar nog nie baie voertuigdiefstalle nie. Ook nie immobiliseerders vir voertuie nie. Tensy die vasmaak-tou van die donkie ’n immobiliseerder was!

En so land Jesus op ’n donkie.

Dis ’n triomfantelike skare wat vir Jesus met ’n triomftog die stad inlei.

En die skare skree: ”Hosanna! Prys Hom!”

Letterlik beteken Hosanna in oorspronklike Aramees “Red ons!” Dus ’n gebed-roep.

Red ons van hierdie Romeine wat ons lewe so versuur!

En presies dit was hul nasionalistiese bevrydingsverwagting.

Maar die Hosanna bly nie lank nie.

Die toejuiging verflou so deur die loop van die week, en sommer aan die einde van die optog …. en uiteindelik stop dit heeltemal!

Nee! Die “Hosanna!” maak plek vir die “Kruisig Hom!”

Dit is die grootste tragedie waaraan ons kan dink. En terselfdertyd die grootste triomf van Jesus … heel paradoksaal.

As ons vra waarom die “Hosanna” gestop het, dan was dit waarskynlik presies hierdie teleurgestelde verwagting.

Want Markus vertel wat gebeur in Jerusalem:

Mark 11:11

Jesus het in Jerusalem na die tempel toe gegaan en alles daar bekyk. Dit was al laat middag toe Hy en die twaalf weer na Betanië toe gegaan het.

Ja, Jesus staan en kyk!

Hy doen niks!

Hy mobiliseer nie ’n enkele soldaat nie!

Hy organiseer nie ’n optog!

Hy staan net en kyk! En toe gaan Hy terug Betanië toe!

                          Loser!

“Kruisig hom!”

Duidelik het hulle nie mooi opgelet nie. Jesus het op ’n donkie gery en nie op ’n oorlogsperd nie.

En die donkie is die simbool nie net van ’n koning nie, maar ook van vrede.

Loser!

Hulle nasionalistiese en militêre verwagtinge word verpletter.

En dis wat hulle gevrees het.

En hulle maak hul keuse.   En dis nie vir die Loser nie.

Een van ons grootste afgode is natuurlik vrees.

Ons neem ons paniek en vrees baie ernstig op – so asof ons nie ’n God het nie.

En hier voel dit vir die Jode ook of hulle nie ’n God het nie.

Veral nie een wat kan red nie.

En daarom hul wanhoop en teleurstelling.

Hierdie Hosanna se “red ons!” sal ons nêrens bring nie.

Ons wanhoop is te groot.

Ons vrese is te groot!

Ons nuutgevonde Messias is te klein … ’n loser!

Terug na die optog: Hosanna! Maar so halfpad teen die Olyfberg af is daar egter ’n antiklimaks:

Terwyl die skare nog optimisties Hosanna!, kyk Jesus na die stad en Hy raak vreeslik hartseer:

Vers 41:

Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.

Verlede week het ds Andre gepreek oor die leerbare gees.

En hy het gevra: Wat is daar wat ons die afgelope tyd nuut van God geleer het?

Hierdie gedeelte leer ons van Jesus:

As Petrus ook later ’n oor met die swaard afkap, dan is dit Jesus wat sê: “Stop!” en die oor optel en terugsit.

Ja, Jesus gee om!

En sy hart breek!

Sy hart breek oor hul verhardheid.

Sy hart breek oor hul beperkte insig!

Sy hart breek oor hul gebrek aan ’n leerbare gees.

Sy hart breek oor die bloed en trane wat nog sal vloei as gevolg daarvan.

Vers 44 gee die oorsaak van die komende ramp:

Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het (om jou te red), nie besef het nie.”

Die woord wat vir tyd gebruik word is kairos (Grk: καιρς).

Grieks het twee woorde vir tyd. Chronos en Kairos.

Miskien onthou jy iets soos ‘n Kairos-dokument wat aan die einde van die apartheidstyd deur gelowiges onderteken is.

Dit was ‘n dokument wat wou sê: Ons is by ’n beslissende moment in die geskiedenis en ons kan nie nou stil bly nie! Ons kies vir God en dit waarvoor Hy staan. En ons kom staan hiermee aan Sy kant!

Presies dieselfde appél het hier gegeld: Die Jode was by ’n beslissende moment.

Hulle was by ’n kruispad en hulle moes ’n keuse maak.

Daardie keuse sou die verskil maak tussen dood en lewe, tussen vrede of trauma, tussen geloof en ongelof, tussen “Hosanna!” en “Kruisig Hom!”

Die probleem was: hulle het nie verstaan dat hulle by daardie kruispad gestaan het nie.

Hulle het die beslissende moment misgekyk!

Dit is die “insig” van vers 41 wat hul gemis het.

 

Ek sluit af:

Waar laat dit ons op Palmsondag?

Allereers roep dit ons op tot ’n hernude keuse.

Dit roep ons tot geloof in Jesus Christus.

Dit roep ons om Hom te erken as die Koning, maar die Koning op die donkie.

Palmsondag plaas ons voor hierdie kruispad:

Die donkie of die oorlogsperd,

Die “Hosanna!” Of die “Kruisig Hom!”

Die gewigtigheid van hierdie keuse is belangrik.

Self het ons nie regtig die insig om te verstaan hoe belangrik die keuse is nie.

Die Heilige Gees sal ons hierdie begrip moet gee.

Al wat ons weet is dat dit ’n kairos-moment is.

En hierdie moment en die keuse bepaal nie net jou redding nie.

Dit bepaal al die fasette van jou lewe.

Dit bepaal jou gesin en werk, dit bepaal jou vrede en jou vrese.

Dit bepaal ook jou omgewing.

Die Jode se verkeerde keuse het gelei tot die verwoesting van Jerusalem.

As jy nie die regte keuse maak op hierdie Palmsondag nie, kan dit baie dramas en traumas tot gevolg hê.

Een stukkie troos:

Vir party dinge in die lewe kry jy net een kans.

Om vir die Koning op die donkie te kies mag jy miskien meer kanse kry.

Maar daaroor het jy nie ’n versekering nie.

Miskien het jy al baie keuse-oproepe gehad.

Maar genadetyd mag uitloop.

As die Heilige Gees egter vandag aan jou hartsnare pluk, besef die erns daarvan.

Selfs al sou jy op jou sterfbed kies vir die Hosanna!, dan sou Jesus daaroor bly wees, maar steeds treur oor al die geleenthede wat verbygegaan het om

Soek om mooi te verstaan hoe belangrik dit is om in die beslissingsmoment van elke dag vir die Koning op die donkie te kies …. ook in die kairos-momente van 2016!

Amen.