dancing-fire-abstract-painting-6-1André Oosthuizen  andrej@webafrica.org.za

My ouma het altyd ’n storie so met ’n ompad benader.  Ek wil vanaand die storie van die Barmhartige Samaritaan ver terug begin.  By die ballingskap!

Daar was mos 2 ballingskappe.  Eers deur Assirië en toe deur Babel.  Toe die Assiriërs die Israeliete weggevoer het in Ballingskap hier in die jaar 722 vC het daar nog ’n klompie mense in Israel agter gebly.  Hulle het in ’n gebied in die Noordelike koninkryk gebly.  En die plan wat die Assiriërs gehad het met hierdie mense, was om hulle te laat vermeng met ander volke.  Want as hulle vermeng met ander, dan maak hulle die Israeliete swakker.  So het die Jode wat daar agtergebly het met ander volkere getrou, hulle het die heidense gebruike en godsdienste aangeleer.  Hierdie mense het bekend gestaan as die Samaritane en het hulle in Samaria gevestig. 

Toe die Jode terugkom in ballingskap en hulle in hierdie gebied wil vestig het die Samaritane teen hulle opgestaan.  Want, die Jode het met al hulle wette en reëls ’n irritasie geword vir die Samaritane.  Van daar af was daar konflik tussen die Jode en die Samaritane. Trouens die Jode het neergesien op die Samaritane.  Die Samaritane was die bastervolk waarmee die Jode eintlik niks te doen wou gehad het nie.

Apartheid was so erg dat hulle nie eers deur Samaria wou beweeg nie!  Hulle het ompaaie geloop om die Samaritane.

Die geskiedenis met die Samaritane herhaal homself in die Nuwe Testament waar Jesus Hom vasloop in die Samaritane.  Ons lees in Lukas 9:51: “Toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin en boodskappers voor Hom uit gestuur.  Hulle het vertrek en in ’n dorp van die Samaritane gekom om daar vir Hom verblyf te reel.  Maar die inwoners wou Hom nie ontvang nie, omdat Hy na Jerusalem toe op pad was…  Daarna het hulle die reis voortgesit na ’n ander dorp toe.”

Behalwe dat Jesus hom vasgeloop het teen die Samaritane, het die Jode Jesus in dieselfde asem as die Samaritane genoem.  In belediging in daardie tyd vir enige Jood.  Ons lees in Johannes 8:48: “Die Jode het toe vir Hom gesê: “Ons het mos gesê jy is ’n Samaritaan en van die duiwel besete!”

En nou word Jesus gevra: wie is jou naaste?  En ’n mens hou eintlik so bietjie asem op, want vanuit hierdie eeue oue agtergrond tussen die Jode en Samaritane sou hulle sekerlik ’n goeie saak kon uitmaak dat jou naaste almal behalwe die Samaritane is!  Ons het ook mos baie redenasies en argumente oor wie is nou regtig jou naaste?  Maar dan skok Jesus sy gehoor toe Hy juis die Samaritane gebruik as voorbeeld van naasteliefde. Met ander woorde, ons naasteliefde sluit selfs hulle in wat ons ompaaie om wil loop.  Hulle wat ons beskou as minderwaardig.  En dan vat Jesus hierdie naasteliefde ding nog ’n stappie verder.  Liefde gaan verder, gaan oor in barmhartigheid.  Want jy sien, om te sê jy moet vir iemand lief wees is een ding.  Dit is maklik om te sê ons moet vir almal lief wees.  Maar die toets van liefde kom by die wys!  Wanneer hierdie liefde gewys word is dit Christelike naasteliefde!  Jy sien vriende, naasteliefde is nie net ’n belydenis nie, dit is nie net woorde nie, dit is dade van barmhartigheid, liefdesdiens!

En ’n Samaritaan van alle mense, van wie ons barmhartigheid die minste verwag, word ‘n voorbeeld van naasteliefde en liefdesdiens – barmhartigheid.  Iets wat die hoorders van hierdie storie geweldig moes raak.

In Jesus se storie noem Hy 2 belangrike eienskappe van hierdie Samaritaan.  Hy het die man innig jammer gekry (v33) en medelye gehad met die een wat seergekry het, wat gewond is deur die lewe (v37).

Nou die woord wat met medelye vertaal word kry ons ook in Ef 2:4 waar dit na God verwys.  “God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.”  God is ryk in barmhartigheid.  Met ander woorde, God het medelye met ons!  En jy sien, dit is die geboorte van barmhartigheid!  Barmhartigheid word gebore uit God se ontferming en medelye met die verwondes.  Hy is die Een wat Hom ontferm oor sondaars, oor mense wat langs die pad lê; verlore, verworpe, alleen.

En daarom vriende, kan ons nie die verhaal van die barmhartige Samaritaan lees sonder ’n opregte dankbaarheid teenoor God en sy medelye met ons nie.  Want ek en jy is die grootste gewonde sondaar waarby God nie verby geloop het nie!  Hy het my kom optel en versorg en genees!  Jy sien, dit is die hart van barmhartigheid.  Barmhartigheid word gebore uit die wete dat God nie by my verby geloop het nie!  En omdat God nie by my verby geloop het nie, loop ek nie sommer by ander verby wat langs die pad lê nie.

Daniel Louw skryf so mooi: “God se barmhartigheid staan nie los van sy kinders se dade van barmhartigheid nie.  God se liefde kry sigbare hande wanneer sy kinders soos sy kinders lewe: deur weeskinders te beskerm; vreemdelinge te huisves; armes in hulle nood te help.”

Ons het dit al baie gehoor, maar steeds loop ek dikwels wye draaie om die geleenthede om barmhartig te wees.  Want jy sien, om met die verwondes te dans, soos God, kom nie maklik en outomaties nie.  Dit is dikwels vrek moeilik.  Hierdie naasteliefde wat sigbaar word in opregte liefdesdiens waarvan Jesus hier praat, is nie ’n gevoel nie vriende.  Dit is ’n keuse.  Dit is ’n keuse wat jy maak, dikwels teen jou beter wete en vooroordele in.  Dit is elke keer ’n keuse teen jou eie ondervinding in.  Dit is ’n keuse om lief te hê, ’n keuse om uit te reik, ’n keuse om te versorg, ’n keuse om medelye te hê vir die Samaritane, hulle wat dit nie verdien nie en wat eerder wil weghou.

En hierdie keuse vra dat ek en jy, net soos hierdie Samaritaan bereid moet wees om sekere grense oor te steek.  Thomas Merton skryf: “Barmhartigheid is meestal aan die begin stram en teësinnig, maar soos ’n mens al meer betrokke raak by die nood van die persoon wat jy help word jou koue hart aangeraak.  En op die ou end is die vreugde van die liefde wat jy gegee het, die beloning wat jy terugontvang en ook al wat jy wil hê.”   (Thomas Merton)

Naasteliefde, naastediens waarvan Jesus hier praat vriende is aanvanklik stram en selfs teësinnig.  Maar hoe meer jy dit doen, hoe minder stram sal dit raak.  Maar die verhaal los ons elkeen met ’n keuse.  Jy kan verby loop en gevolglik strammer raak, of stop en die vreugde ervaar van God se barmharigheid wat deur jou vloei.

Slot:

Ek lees die mooi getuienis oor die eerste Christene wat by uitnemendheid ’n barmhartige geloofsgemeenskap was.  Ons lees dat hulle gereeld saam geëet het, armes versorg en hulle goed met mekaar gedeel het.  Hoekom was hulle so vurig in hulle barmhartigheid?  Want die liefde van Jesus was brandend in hulle harte.

Favius Josephus skryf oor die eerste Christene: As hulle van iemand weet wat arm of honger is, en hulle het self nie iets ekstra om te gee nie, sal hulle twee of drie dae lank vas sodat hulle die persoon in nood ten minste met die nodige kos kan help.

Geesvervulde mense is mense wat toelaat dat die Gees vir hulle ’n sensitiwiteit gee vir hulle wat jou naaste is.  Omdat God met my as stukkende verlore mens begin dans het, kies ek om ook te begin dans met dié wat langs die pad lê en wag vir my hulp.  Nee, nie net my hulp nie, wag vir God se liefde en barmhartigheid.  Mag die Gees ons elkeen lei, hoe stram of moeilik dit mag wees vanuit God se barmhartigheid vir ons, barmhartig te wees.  Amen