André Oosthuizen :andrej@webafrica.org.za

Ons leef in ’n wêreld van die ongewone.  Want daar is soveel goed wat ons besig hou dat die gewone goed eenvoudig nie meer ons aandag trek nie. Juis om hierdie rede spandeer maatskappy baie geld om jou so ver te kry om hulle produk raak te sien tussen al die ander soortgelyke produkte.  En een van die mees suksesvolle bemarkingstrategië is dié van “Disruptive marketing”.  In Afrikaan sou ’n mens seker sê “Ontwrigtende bemarking”.  Al wat dit is, is om die gewone uit te daag en daardeur aandag te trek.  Daar is baie voorbeelde, maar vat hierdie een van NIKE.  Hulle ontwrig jou gewone gang om met die roltrap op te ry en laat jou trappe klim.  En as jy net ’n gedagte kry dat jy nie lus is nie, sien jy die handelsmerk “Just do It!”  Dit daag die gewone uit om jou aandag te trek en jou te laat dink. 

Nou gee die Here Jesus vir sy dissipels met sy hemelvaart die opdrag om in Jerusalem te bly en daar te wag op die gawe van die Heilige Gees.  “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.” (1:4)

En dan lei ek af daar was by die dissipels groot onsekerheid oor wat nou verder gaan gebeur.  Hulle vra vir Jesus in (1:6): “Here is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?”  Here, het die tyd nou gekom dat U ons polities en ekonomies gaan bevry?  Hulle het seker ook gewonder, hoe gaan ons nou weet wanneer die beloofde gawe van die Heilige Gees dan nou uitgestort word?  En om alles te kroon is Jesus vir ‘n 2de keer weg en bly hulle paartjies nou alleen agter om te wag vir iets om te gebeur, voor hulle met hulle lewe kan aangaan.

Nou as Jesus ’n bemarkingspan moes gehad het in die hemel, sou hulle darem rondgeskarrel het in daardie 40 dae tussen die hemelvaart en die vervulling met die Heilige Gees ’n ordentlike plan op die tafel te sit van hoe hierdie gebeurtenis van die vervulling met die Heilige Gees aan die wêreld bekendgestel gaan word.  Want watter strategie gebruik jy sodat die wêreld op so ’n manier daarvan kennis neem dat dit vir geslagte daarna nog bekend sal wees.  En sodat dit vir geslagte daarna nog nuus sal wees!

En dan gebruik Jesus “disruptive marketing” (ontwrigtende bemarking) om die vervulling met die Heilige Gees aan te kondig!

Ons lees in 2:1: “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.”

Nou die eerste noemenswaardige ding in hierdie plan van God om die vervulling met die Heilige Gees bekend te maak, is die tydsberekening.  Die pinksterfees was ’n tradisionele Joodse feesdag waar die verbond wat God my sy volk by Sinaï gesluit het, gevier is.  Maw, hulle het feesgevier oor die feit dat God hulle God is.  Dat God by hulle is.  Wanneer die Gees op hierdie tradisionele Pinkstersondag in Handelinge uitgestort word, was dit ‘n sigbare teken dat God van nou af op ’n nuwe manier by sy kinders gaan wees!  Sy kinders, die kerk, ons almal wat glo, word nou die nuwe permanente aardse adres van die Heilige Gees!

So, op die dag waarin die volk tradisioneel God se teenwoordigheid gevier het, word die Gees uitgestort as ’n aankondiging dat God op ’n nuwe, spesiale manier nou by sy kinders gaan wees.  Die tydsberekening in die hele aankondiging van die vervulling met die Heilige Gees was dis baie betekenisvol.

Maar hoe die uitstorting van die Gees aangekondig is, sodat die wêreld daarvan kon notisie neem, was nog meer betekenisvol en opspraakwekkend. Trouens, die vervulling met die Heilige Gees word gekenmerk deur disruptive marketing!  Want daar gebeur ongewone dinge wat die wêreld se aandag trek!

Vers 2:

Vers 4:

“Almal is met die Heilige Gees vervul…”

Ongelooflik ongewoon! Nog nooit het iemand so iets gesien of so iets ervaar nie! Wind, vuur, tale!

En die resultaat van hierdie ontwrigtende bekendstelling was presies wat die Here wou gehad het!  Mense van alle tale, nasies en kulture wat op daardie stadium op een plek bymekaar was, Jerusalem, het kennis geneem van die uitstorting van die Heilige Gees!  En ons lees in 2:12, die mense was verras en verbaas oor wat hulle gesien en gehoor het!  En dit is presies wat moes gebeur sodat die wêreld kan kennis neem van hierdie ongewone gebeurtenis.

Natuurlik was die reaksie op die uitstorting van die Gees uiteenlopend.  Party was uit die veld geslaan, soos ons lees in 12 en het nie geweet wat dit alles beteken nie.  Ander was eenvoudig skepties en het dit afgemaak as ’n dronkpartytjie (v13).  Maar die mense wat daardie dag deur die Gees van God gevul is, was nooit weer dieselfde nie!  Hulle lewe is ontwrig deur die vervulling met die Heilige Gees.  Want gewone mense het toe ongewone dinge begin doen.

Hulle was beGEESterd!

Die gevolg van hierdie weird mense wat so ongewoon geleef en opgetree het?  Vers 47… “En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”  Elke dag!  Ongewoon!

Gaan lees maar Handelinge en jy sal sien hoe ongewoon hierdie groepie gelowiges geleef het.  Ongewoon itv hul vrygewigheid, ongewoon itv hul toewyding, ongewoon itv hul omgee, ongewoon itv hul moraliteit.  En vriende, hulle ongewone lewe was die rede waarom die wêreld deur ’n groepie beGEESterde mense verander is!

Slot:

Ons leef in ‘n wêreld vandag waar mense, meer as ooit tevore, nie meer kennis neem van die gewone nie.  Vir die wêreld om God in ons raak te sien, is dit eenvoudig nie meer goed genoeg om so gewoon soos die wêreld te wees nie.  Jy gaan net die wêreld verander deur ’n ongewone beGEESterde lewe te gaan leef.  Ek sê nie daarmee jy moet snaakse goed gaan doen nie.  Maar jy moet dit wat God van jou verwag om te doen, ongewoon goed gaan doen.

Daarom beGEESter die Heilige Gees jou ook op hierdie historiese Pinksterfees tot ’n ontwrigtende, ongewone lewe.

 

En so word jy deel van die span wat die wêreld ontwrig en God en sy koninkryk laat help kom. Amen