Picture1André Oosthuizen   andrej@webafrica.org.za

Het julle al opgemerk hoeveel spieels daar in die gym is?  Toegegee, partykeer is dit moeilik om die spieels raak te sien want dit word gewoonlik toegestaan deur fris ouens wat na hulleself staan en kyk en omdraai en gewigte stoot.  Baie snaaks!  Maar wat my nogal opval is dat daar gewoonlik baie naby die spieel ook een of ander prentjie is met ‘n motiveringspreuk.  So die oomblik as jy vir jouself in die spieel kyk is daar gewoonlik ‘n prentjie van ’n ou wat groter of mooier of maerder as jy is.  En dit dien natuurlik as motivering om langer en bietjie harder te oefen.

Pinkster hierdie jaar gaan in wese daaroor om die spieel te kyk.  Sondagoggend om te kyk hoeveel water jy drink, Maandagaand om op te let na jou asemhaling, Dinsdagaand na jou oefenprogram, hoeveel jy doen en wat jy doen, Woensdagaand na jou gehoorsaamheid en toewyding aan God.  En dit is natuurlik belangrik om in die spieel te kyk sodat jy kan sien hoe lyk jou geestelike groei en jou geestelike spiere.  Maar langs die spieel is daar ook ’n prentjie, ’n motivering.  En dit is die prentjie of dan die beeld van Jesus.  Paulus bid in Kol 3:10 … “leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper…”  En jy sien vriende, dit is waaroor Pinkster gaan. Om in die spieel na jou eie geestelike lewe te kyk maar dan terselfdertyd na die prentjie van Jesus en vir jouself te sê dit is soos ek wil lyk! Dit is waarvoor ek oefen!  Dit is waarmee die Heilige Gees my moet help!  Om soos Jesus te lyk!  Om soos Jesus te praat! Om soos Jesus te doen!  Om soos Jesus om te gee.  Om soos Jesus te dink!

Nou alles wat die Heilige Gees hierdie week vir ons geleer het is natuurlik om ons meer soos Jesus te laat lyk. Maar vanaand iets oor ons eetgewoontes, of dan ons geestelike spyskaart. Want jy sien, om geestelik te groei, om meer en meer soos Jesus te lyk moet die Heilige Gees ook ons eetplan, ons spyskaarte in die hande kry.  Die Heilige Gees moet soos ’n goeie dieetkundige vir ons leer om die regte kos te eet sodat ons geestelik sal groei om meer soos Jesus te lyk.

Nou vriende, baie gelowiges se geestelike spyskaart kry hulle by die drive thru pizza hut.  En ek wil twee opmerkings maak oor ’n pizza geloof en ’n drive thru dieet.

 

Pizza geloof

Die lekkerste pizza is die een met die dun basis waarop jy dan ’n klomp lekker goed kan pak.  Baie keer is gelowiges op ’n pizza-dieet.  Hulle het ’n baie dun en oppervlakkige geloofsbasis.  Allerhande geestelike gedagtes en gewoontes en rituele en teologieë is aanvaarbaar.  Hulle meng sommer ’n klomp goed saam, net solank dit lekker smaak.  En dit wat nie lekker smaak nie, word sommer baie maklik afgehaal of uitgespoeg.

In my Veritas werk lei ons heelwat leiers op in klein onafhanklike kerkies.  Een van die algemene opmerkings van leiers is dat hulle selektief met die Woord van die Here moet omgaan, want die oomblik as hulle iets sê waarvan die mense nie hou nie, dan loop hulle kerke eenvoudig leeg.  Daar is ’n voorbeeld van ’n ou wat feitlik sy hele gemeente verloor het toe hy die waarheid van die Woord onomwonde begin preek het en mense aangespreek het oor sonde.  Jy sien, dit is ’n pizza dieet.  Jy eet lekker, maar net aan dit wat jy self kies en waarvan jy hou en wat jy wil hoor.  Dit is nie baie gesond nie, laat jou ook nie groei nie.

Drive-tru dieet

Die ander ding van hierdie pizza geloof is dat dit soveel beter is as ek dit by ’n drive thru kan bestel.  Want jy sien, hierdie drive-thru eetplekke is baie gewild, veral omdat mense vandag vreeslik besig is.  Jy hoef nie eers uit te klim of iets te doen nie.  Jy stop by ’n venstertjie, sit jou bestelling in en chop-chop is jy weg met ’n ete.  Dit is geestelik ook baie gewild.  Die kerk is vir baie mense vandag so ’n drive-thru eetplek.  Storm hier in Sondae, sit die bestellings in terwyl die personeel moet bontstaan om almal tevrede te hou en die orders uit te kry, en gaan huistoe.  So ’n drive thru geestelike aptyt vat nie baie lank om te bevredig nie, dit vra nie regtig van jou iets nie, jy hoef nie eers jou handjies uit jou moue te steek soos ons Woensdag gehoor het nie.  So in die hardloop elke week kry ons hier en daar iets om aan te peusel.  Voor ons aan die slaap raak maak ons ’n stop by die hemelse drive-thru.  Bestel ’n paar goed, sê ’n paar dinge, kla oor die diens so lank vat en daar gaan ons.  Ja, dit hou jou op ’n manier aan die lewe, maar dit is nie kos wat volmaak nie.

Jy sien, en so was die geestelike dieet van gelowiges juis die bekommernis van die Hebreërskrywer.  Hy het agtergekom dat die gelowiges nie groei soos hulle behoort te groei nie.  En waar het die probleem gelê?  By die kos wat hulle geëet het!  By hulle dieet!  Groot mense het nog melk gedrink en purtiy geëet!  Met die gevolg dat hulle nie geestelik gegroei het nie.    Hulle het geestelike babas gebly!

Skriflesing: Heb 5:11-14
Jy sien, daarom is die regte geestelike eetplan of spyskaart baie belangrik om geestelik te groei.

En daar is veral een belangrike dis op die Heilige Gees se dieetplan.  Kos waarsonder jy nie kan klaarkom nie.  En Tim Noakes sal van sy stoel af val as hy dit moet hoor, maar die belangrikste dis op die Heilige Gees se spyskaart is brood!

Vir baie mense is brood hul stapelvoedsel.  Ek dink ’n groot deel van die wêreld vandag word aan die lewe gehou met brood.  En net so is die stapelvoedsel van jou geloofsdieet ook brood.  Jesus sê Johannes 6:35: “Ek is die brood wat lewe gee.”  En vriende, die brood is natuurlik die Here Jesus.  Dit is jou geloof in die Here Jesus as jou Verlosser en Saligmaker.  Die brood is die geloofswaarheid dat as ek Jesus aanneem, het ek die ewige lewe!  Jy sien, sonder hierdie brood, sonder Jesus het jy nie die lewe nie!  Daarom kan geen gelowige leef sonder brood nie!  En ek dank die Here dat hier vanaand, so glo ek, nie een sit wat nie die brood geëet het nie!

Maar weet jy, brood alleen is nie genoeg in jou geestelike dieet nie.  Dit is nie genoeg om vanaand hier te sit en te sê ek het die brood geëet, vir Jesus aangeem en nou hoef ek niks meer te eet nie.  Jesus sê self dat brood alleen nie genoeg is nie.  In Matteus 4:3 kom die duiwel by Jesus en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”  Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: ’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

En Jesus gebruik hier die teks uit Deut. 8:3 waar daar staan: “Jy moet onthou hoe die Here jou God jou nou veertig jaar lank in die woestyn gelei het.  Hy het dit gedoen om jou nederig te laat word en om jou op die proef te stel sodat Hy kan weet wat jy dink en of jy sy gebooie sal gehoorsaam of nie.  Hy het jou laat swaarkry, laat honger ly en toe met manna gevoed, iets waarmee nog jy nog jou voorvaders bekend was.  Hy het dit gedoen om jou te leer dat ’n mens nie net van brood leef nie, maar dat hy leef van elke woord wat uit die mond van God kom.”

Jy sien, as jy die brood geëet het moet jy aanbeweeg en jou dieet aanvul.  En die probleem wat die Hebreërskrywer met die gelowiges gehad het was juis dat hulle vasgehaak het by die brood.  Luister wat sê hy: “Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ’n leefwyse wat tot die dood lei, of oor geloof in God, die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.  Ons sal dus verder gaan as God dit toelaat.”  Brood vir die Hebreër skrywer is bekering, geloof in God, doop.  En natuurlik, sonder hierdie brood kan jy nie lewe nie!  Dit is die stapelvoedsel van geloof, maar dit is kos wat ons almal al gehad het!  Daar is meer as dit vir ons om te eet!  En wat is daar?

Jesus sê: “Elke woord wat uit die mond van God kom!”  Openbaring 10 praat van die klein boekie wat ons maar net moet vat en eet.  Die boekie wat sweet and sour is.  Wat lekker is om te eet, maar dit wat hy sê is moeilik om te doen.

Liewe kind van die Here, ek glo die Heilige Gees moet ons spyskaarte in die hande kry en ons dieëte aanpas.  Maar die Heilige Gees sal vir ons elkeen individueel moet wys wat ons moet los en waar ons meer moet eet.  Die geestelike spyskaart van die Heilige Gees is nie ’n Weigh-less program met ’n klomp voorgeskrewe kosse en planne nie.  Dit is ’n vreeslik eenvoudige eetplan.  Eet die Woord.  Eet eenvoudig elke Woord.  Ja, dit kan ’n vinnige peuselhappie wees, maar dit kan nie net peuselhappies wees nie.  Dit kan ’n wegneemete wees waar iemand iets vir jou in die verbygaan sê wat jou laat dink, of bemoedig, maar dit kan nie net wegneem etes wees nie.  Jy het ook weekliks ‘n aansit-ete nodig waar jy hier in ’n erediens vaste kos behoort te kry.  Somtyds kry jy nagereg – ’n spesiale Woord wat op die regte tyd kom en lekker smaak en jou moed en krag gee.  Jy sien dit alles is maniere hoe die Heilige Gees sorg dat jy naas die brood, genoeg vaste kos kry om te kan groei.  En die Heilige Gees gee genoeg plekke en geleenthede om te kan eet.  Jou eie stiltetyd, eredienste, die Bybelskool, omgeegroepe, wyksbyeenkomste en Bybelstudiegroepe.  Jy kan kies waar jy wil gaan eet.

Ek wil ’n laaste opmerking maak.  Hoe ons eet is net so belangrik soos wat ons eet.  As jy alleen is, eet jy sommer enige ding net om jou vol te maak.  Want ek dink nie dit is so lekker om net vir jouself kos te maak nie.  As jy saam met mense eet moet jy dink oor wat jy gaan voorsit.  En weet jy, die Here Jesus het nog altyd waarde daaraan geheg dat gelowiges saam met mekaar moet eet.  Jesus het saam met baie mense geëet.  Trouens, die eerste gemeente in Handelinge het uitgestaan om ’n paar redes, waarvan die grootste sekerlik was dat hulle gereeld saam geëet het.  En anders as wat baie mense vandag dink, kan jy nie op jou eie kerk wees nie.  Saam eet, is die plek waar jy vaste kos kry!  Dit is die plek waar jy saam kou aan die Woord.  Dit is die plek waar jy nie net kan eet wat jy wil hoor nie, maar somtyds ook ’n lepel of twee groente inkry wat jy nie alleen vir jou sou maak nie.

En saam eet is ’n gemeenskap en gemeente ding.  Maar weet jy, die saam eet begin nie in die kerk nie, maar sommer in jou eie huis wanneer man en vrou saam die Woord eet en ouers en kinders die Woord eet.  En so groei die gesin tot geestelike volwassenheid en word ’n gemeente gebou op ’n breë fondasie, ’n dik basis van mense, gesinne, huwelike wat die geestelike kos van die Woord gereeld eet.

Mag die Heilige Gees jou vanaand bewus maak van wat jy eet en hoe jy eet.  Ja, miskien is dit nodig dat die Heilige Gees ons diete so bietjie moet aanpas.  Maar die regte kos sal jou help om te groei, te werk en te dien.  Amen