HekatontargIn die Evangelie van Lukas ontmoet Jesus baie verskillende mense.

Miskien moet ons dit eerder omdraai: Baie verskillende mense het ’n ontmoeting met Jesus. Dit is vir hulle  lewensveranderende ontmoetings.

Maar dit vertel ook vir ons wie almal, uit verskillende situasies en agtergronde, God se dansmaats is.

En dit plaas ons voor die Pinkstervraag: Is ons bereid om met God en sy dansmaats te dans? Waardeer ons hulle as ons dansmaats?

So kom daag Pinkster 2016 ons uit om nuwe dansmaats te ontdek.

Vandag dan die kosbare verhaal van die offisier. In die ND Vertaling is sy betiteling hekatontarg, owerste oor 100 Romeinse manskappe. Hy het die gebied bestuur in noue patronaatskap met die Joodse familiehoofde.

In ons tyd sou hy iets kon wees soos ’n regiment-sersant-majoor.

Tema: Dans met die geloofsreuse.

Ons praat vanaand oor verwondering.

Ek wonder wat is dit wat jou tans verwonder?

Ek verwonder my tans aan twee dinge:

Ek klim my weer verlede week flou in die Sederberge met hul majestieusheid.

En ek verwonder my daaroor!

Ek hoor van die arctic tern (’n seevoël) wat non-stop 11 000 km vanaf Alaska tot in Nieu Zeeland vlieg.

En ek verwonder my daaroor!

 

En ek waardeer weer mense wat in die geloof kan volhard jaar in en jaar uit sonder om skynbaar moeg te word om goed te doen. En ek weet daar is ’n geheim daaragter.

Die Heilige Gees is daar binne aan die werk!!

En ek verwonder my daaroor!

Net twee maal in die evangelies word gesê dat Jesus hom verwonder het.

Jesus was verwonderd toe Hy dit hoor. Hy draai toe om na die mense wat agter Hom aangekom het en sê: “Ek sê vir julle: In Israel het Ek nie so ‘n groot geloof teëgekom nie.” (:9)

Die ander keer dat Jesus Hom verwonder was in Markus 6:6 waar Jesus verbaas staan oor die ongeloof van die mense in sy tuisdorp, Nasaret.

Daar word gesê dat Jesus daar geen enkele wonderwerk kon doen nie, behalwe ’n paar genesings. En die rede word aangegee: hul ongeloof.

Hier is dit ’n hekatontarg se geloof wat Jesus verwonderd laat.

Dit is op sigself eintlik vreemd dat Jesus, God self, verwonderd staan oor iets… en oor geloof.

Ek meen, Jesus weet mos alles. Hy is die inisieerder daarvan.

Hoe is dit moontlik dat Jesus hom kan verwonder?

Kyk, ons kan ons verwonder oor ’n nuwe sterrestelsel wat die sterrekundiges miljoene ligjare weg ontdek.

Maar God kan hom mos nie oor so iets verwonder nie. Hy het dit dan geskep!!

Hoe kan Jesus hom dan verwonder oor geloof? Asof Hy nie die geloof-gewer is nie!

Ek dink dit is die manier van die verteller om te sê dat dit vir Jesus wonderlik was.

En dit was groots omdat Jesus die situasie in ag neem.

Die situasie was dat die offisier ’n heidense soldaat was, iemand van wie jy dit nie sou verwag nie.

Jesus vergelyk dan ook sy wonderlike geloof met diegene van wie jy dit nie sou verwag nie: die mense van Israel, mense met wie God so ’n lang verbondspad geloop het.

Hulle, hulle ken die geloofsverhale. God is nie ’n nuwe konsep in hul woordeskat nie.

Maar die Romeinse offisier is die een met die groot geloof!

Die Romeinse offisier raak vandag ons ‘onwaarskynlike’ dansmaat.

Maar wat weet ons van die offisier?

Nou moet ons die posisie van slawe van daardie tyd in ag neem.

’n Slaaf was bloot ’n besitting. ’n Besitting met waarde slegs vir soverre dit diens kon lewer. ’n Slaaf was ’n instrument. In daardie sin ook seker hoogs vervangbaar.

As jou slaaf sterf, ag, dan kry ek maar ’n ander een. Miskien ’n beter een?

Maar die offisier gee blykbaar regtig om vir die slaaf en hy doen moeite om genesing vir hom te vind.

Waar sy deernis vandaan gekom het, verstaan ons nie regtig nie.

In sy harde militêre leefwêreld was dit miskien die laaste wat ons sou verwag.

Dit laat mens weer wonder oor God se algemene genade.

Mens vind die spatsels van God se genade soms op baie onverwagte plekke in hierdie wêreld.

Om ’n mens met deernis en omgee te wees, is blykbaar nie beperk tot gelowiges nie.

Jy kry soveel mooiheid, goedheid, deernis in ongelowiges dat jy besef dat die Heilige Gees in sy groot wye genade hierdie gawes ook uitdeel aan ongelowiges.

Ons kan soms baie leer by ongelowiges. En dit is iets waaroor ons ons kan verwonder. Die Heilige Gees werk sy vrugte uit onder ’n veelheid van mense.

En dan onthou ons in Pinkstertyd dat nederigheid, net soos goedheid, ook ’n vrug van die Heilige Gees is.

Dit beteken dat die Heilige Gees ’n mens help om jou plekkie in die samelewing reg te evalueer. Jy is nie die kat se snor nie.

Daar is net Een wat groot is, en dit is God.

Ek en jy is daar om vir Hom die eer te gee wat Hy waardig is.

Dit is nederigheid.

Die enigste waarde wat ons het, is die waarde wat die Heilige Gees aan ons toeken wanneer Hy van ons tempels van God kom maak. En in ons kom woon.

 

Maar dit bring ons by die sentrum van die teks:

Hy het so ‘n geloof dat dit Jesus verwonderd gelaat het.

Gisteraand het ds André oor ongeloof en kleingeloof gehandel.

En ek het weer daaroor nagedink en besef:

Om te wonder oor God en om jou te verwonder oor God, is maar net een klein treetjie van mekaar af.

Ek kan my voorstel hoedat die offisier ook gewonder het oor Jesus.

Sou Jesus my slaaf kon genees? Sou Hy in staat wees daartoe?

En uiteindelik is dit toe sy waagstuk om Jesus te vertrou – wat Jesus ook verwonderd laat …. sonder dat Jesus eers na sy huis gaan,

…. sonder dat Jesus die slaaf die hande oplê,

….. sonder dat Jesus ’n towerwoord spreek….

En toe die mense wat gestuur was, weer by die huis kom, kry hulle die slaaf    

           daar heeltemal gesond. (:10)

En ek het weer begin wonder oor die offisier se geloof. Hoe werk dit?

Wat het gemaak dat hierdie heiden die goue medalje in Israel se geloofspele wen?

Iewers moes die offisier van Jesus gehoor het.

Iemand moes hom seker van Jesus vertel het.

Of iewers het hy Jesus op ’n afstand gesien?

Ons weet nie presies nie.

Maar êrens het geloof in hom wortel geskied.

Hy het in die geloof gegryp na ’n stukkie Jesus / na ’n stukkie waarheid.

En die Heilige Gees doen sy werk in die offisier se lewe.

 

Eintlik is dit sy siening van gesag wat hom vanuit sy beroepslewe daarmee help.

Hy kry opdragte en hy voer dit uit.

Hy gee opdragte en sy soldate voer die opdragte uit.

Omdat hy glo dat Jesus die een met gesag is, weet hy dat Jesus net die woord van lewe kan spreek en dit sal gebeur.

En so word hy die geloofsreus wat reisgenoot vir ons word in hierdie Pinkster.

En nêrens lees ons dat hy Jesus eers persoonlik ontmoet het nie!!!

’n Afwesige dansmaat, maar steeds ’n geloofsreus en rolmodel.

By elkeen van ons werk geloof seker bietjie verskillend.

Maar ons weet: geloof skiet wortel op grond van ’n woord oor Jesus.

En die Heilige Gees laat groei daardie saadjie tot geloof.

’n Misterie – met Goddelike gesag.

Miskien is dit nodig dat ons weer ons geloofsverhale vir mekaar vertel.

Elkeen van ons het waarskynlik ’n verhaal van iemand wat as geloofsreus of geestelike mentor ’n pad saam met ons kon stap.

Ek en Karn ry verlede week ’n hele memory-lane via Oudtshoorn waar ek haar ontmoet het in my weermagjare.

In daardie tyd het hulle as jongmense daar ’n geestelike koffiekroeg gehad waar almal, ook die ontwortelde weermag-outjies, kon tuiskom.

Ons hou toe verlede week ’n klein reünie van al die vriende van daardie tyd.

En ons waardeer weer die wonderlike van geloofsreuse (of wonderaars oor God!) wat op ’n stadium saam met jou die pad kon stap. En elkeen getuig daarvan hoe goed dit was om sulke gelowiges rondom jou te kon hê. En elkeen van ons leef verder met nuwe inspirasie omdat ons mekaar net weer te kon sien en saam kon bid.

Ek gesels vanoggend ook weer met iemand van die gemeente oor die kosbare geloofsreuse wat hier saam met my die pad stap.

Baie van hulle het ook ’n verder pad as ek saam met die Here gestap.

En ek leer steeds so baie by elkeen van hulle.

Hulle sal dit nie noodwendig eers weet nie, maar hulle is die steierwerk wat my geestelik regop hou as dit moeiliker gaan.

Ek sê vanaand dankie vir elkeen van hierdie geloofsreuse op wie se skouers ek kan klim om hoër by te kom.

“Dankie, o Heilige Gees dat U vir my geloofsreuse rondom my gee!”

Maar ek weer dat ek self ook meer moet begin wonder oor God.

Sodat ek my oor Hom kan begin verwonder.

En kan begin vertrou op sy lewegewende Woord.

En net so kan ons vir ander rolmodelle en reisgenote word.

Amen