PinksterOns is redelik goed vertroud met die Pinkster-verhaal.

Daar is egter een perspektief op die verhaal wat vir my verrassend is.

En dit is die chaos van Pinkster.

Dit werp die lig nie net op die Heilige Gees self nie, maar ook op die manier waarop die Heilige Gees werk.

Die Heilige Gees werk half ‘chaoties’.

Waar die Heilige Gees werk, daar lyk dit half ‘onordelik’.

 

Kom ek verduidelik:

As ons na die historiese verloop kyk tussen hemelvaart en Pinkster, dan staan die gebeure in kontras met mekaar.

Hemelvaart vertel hoe die Here Jesus opvaar na die Hemel, presies soos dit voorspel is.

Die dissipels sluit dan ook by die ander gelowiges in Jerusalem aan en vorm ’n ordelike en private gebedsgemeenskap.

Petrus inisieer ook die aanwysing van ’n nuwe dissipel in die plek van Judas.

Dit lyk of die proses mooi ordelik verloop….

tot met die openingsverse van Handelinge 2.

Skielik breek pandemonium los.

’n Vreeslike sterk geluid oorweldig die vertrek. Die dessibel-meter slaan vas op Max!

Dan is daar tonge van vuur wat mense gryp.

Op die koop toe is daar ’n fassinerende klomp tale wat skielik gehoor word.

Elke denkbare taalgroep hoor skielik die evangelie in sy eie taal.

Dit is pandemonium!

Die mure van die vertrek kan nie mense of die Gees wat daar beweeg binne hou nie.

Die gelowiges word in ’n enkele moment uitgedryf vanuit die geordende gebedsruimte na die publieke milieu.

ie ordelike beeld van die eerste hoofstuk is vir ewig daarmee heen.

Dit is amper asof die eerste skeppingschaos van Genesis 1 (van voor die ordeningsdae) weer oorneem.

En dit ruk almal uit hul gemaksones uit.

Soos Handelinge verder vorder kry ons dit dan ook telkens dat die Heilige Gees nie op die verwagte maniere werk nie. Sy reisplanne vir Paulus en sy werkswyse in bekeringsverhale is dikwels anders as wat mens sou verwag.

Dit is waarom die Heilige Gees al teologies genoem is die Chaotiserende Gees.

(A van der Beek, De Adem van God).

Die Gees werk verrassend.

Die Gees werk bykans onordelik.

En dit verklaar ook waarom die Gees soms so met ons as sy kinders moet sukkel.

Ons probeer die Gees tem.

Ons hou van ordelikheid. Ons glo gekultiveerdheid en beskawing het te make met ordelikheid en voorspelbaarheid.

Europa laat ons as Afrikane mos altyd jaloers en verbaas as die moltrein so op die minuut die stasie in kom.

Ons hou van sisteme wat voorspelbaar funksioneer.

Ons sou ook kon probeer om die Gees wat so “onordelik” optree in te forseer by ons voorspelbaarheidsbehoefte.

Dat die Gees van Christus in ons selfgemaakte boksies van orde kan inpas.

Maar die Gees laat Hom nie tem nie.

Die Gees van Christus is aan die werk met ’n plan wat partykeer skuins deur ons sisteme bars.

Hoe vies is ek toe ’n kollega my hierdie week ontydig uit Sasolburg bel oor ’n besoek aan iemand van hulle hier in Intensief. Dit krap my hele geordende dagprogram deurmekaar. En ek vererg my verder oor die onordelikheid en onbekwaamheid van ’n hospitaal wat nie eers kan sê waar die pasiënt is nie.

En aan die einde van die week weet ek nou: Daardie besoek was die kosbaarste ding wat die week met my kon gebeur. Hopelik ook vir die pasiënt wat godsdiens vier jaar gelede agtergelaat het. (Volgens sy eie getuienis.)

 

Ons Pinksterlied vra: “Leer my van liefde wat breek deur die grense.”

Ons is die hele week besig met, en het gesien hoe Jesus begin dans het met die vreemdste dansmaats.

En die Gees nooi ons uit na Sy vreemdheid / sy chaos / sy pandemonium / Sy pinksterdans.

 

Hoe kan ons deel word daarvan?

Dit is vandag die groot Pinkstervraag.

Die antwoord is: Deur te luister! Fyn te luister!

Ons Pinksterlied vra:

“Leer my die klop

van die hart van die Vader.

Leer my die krag

van u Gees se beweging.

Leer my die pad

om te loop in my lewe.

Heer, leer my dans

op die maat van u hart.”

Hoe raak ons bewus van die Gees se werking/planne vir vandag?

Hoe kan ons, te midde van al die geraas, die Heilige Gees se stem hoor?

Hoe kan ons te midde van al die krisisse en chaos van ons elke-dag die Gees se wil leer ken?

Ja, deur te luister.

Deur bewus te wees daarvan dat die Gees met ons aan die werk is.

En ons hoef nie op ’n retraite te gaan daarvoor nie.

Ons hoef nie onder die stille koelteboom te gaan sit nie. (Al is dit ook hoe kosbaar.)

Miskien moet ons eerder leer om in die harwar van die dag oplettend te leef.

 

Terug na die Pinksterverhaal.

Dit is ’n vraag of die talespraak te make het met ’n spreekwonder of met ’n hoorwonder.

Maw, het al die vreemde kulture die pratery bloot net in hul ore verstaanbaar gehoor, of was dit dat die mense letterlik die vreemde tale gepraat het?

Die antwoord hierop is nie te belangrik nie.

Wat belangrik is, is vers 11: “… ons hoor hulle in ons eie taal.”

Die geheim lê by die luister …. aandagtig luister, met openheid, met ’n leerbare gees.

Om so te luister is blykbaar nie so eenvoudig nie.

Ons hou meer van praat ….

En te veel lees ons in die briewekolom dat die respondent die oorspronklike weergawe misverstaan of buite konteks aanhaal.

 

Eers ’n kostelike verhaaltjie:

’n Persoon kom kuier by die rabbi en babbel onophoudelik.

Soveel so dat die rabbi nie ’n woord kan inkry nie, selfs al probeer hy herhaaldelik.

Op ’n bepaalde moment in die gesprek sê die besoeker: “Ek het ’n wonderlike verhaal gehoor ….”. Die rabbi se kortaf tussenwerpsel was: “Dit lieg jy!”

Uiteraard ‘n verontwaardigde verbasing! Hoekom sou die rabbi hom nie glo nie?

Hy het dan nie eers die verhaal vertel nie!

Die rabbi motiveer: “Vandat jy hier by my ingestap het, kon ek nog nie een enkele sin voltooi nie. Hoe kan jy van my verwag om te glo dat jy ’n ander toegelaat het om te praat … ’n hele verhaal van iemand deurgeluister het?”

 

Ek dink ons onvermoë om eerlik en met openheid te luister, spoel ook oor na ons luister na God en sy Woord.

Maar dan moet ons leer om ook na mekaar te luister.

Dan moet ons leer om waarlik te luister.

En hierin sal die Heilige Gees ons lei as ons Hom vra.

 

In Handeling 2 word ’n hele volkerelys genoem van mense wat die verhaal in hul eie taal hoor. Dit is ’n lys van die hele bekende wêreld.

Jerusalem was daardie tyd al ’n kosmopolitiese stad. Baie mense het uit die diaspora en ballingskap teruggekom na Jerusalem. Hulle was hoofsaaklik godsdienstige Jode.

Hulle, word uit alle kulture, die nuwe dansgenote.

Die Nuwe Testamentiese dansgenote wat ’n nuwe simfonie van hoop en liefde hoor.

Later in Handelinge sou die heidenvolke ook deel word van die dans.

Pinkster bind ons in in een groot Pinksterfamilie wat mekaar moet vashou.

Emil Nolde, ’n Duits-Deense ekspressionis skilder die interessante “Pinksterfees”.

Sien veral die vuurtonge en die helder geel vreugdegesigte.

Kyk ook na die hand wat vir Thomas, die

bedremmelde figuur op regterhand, vashou.

 

Ek wil die klem op nog net een saak laat val:

Wat is dit wat die volkere hoor?   Waaroor word daar gepraat?

Vers 11: “… ons hoor hulle in ons eie tale praat oor die groot dinge wat God gedoen het.”

Skielik word eie agendas minder belangrik.

Skielik skuif die kollig van die self weg.

En oor wie word gepraat? God! En Sy groot dade!

Wanneer laas het jy oor ’n koppie koffie oor God gepraat?

Wanneer laas het jy blinkoog oor God se dade gepraat?

Kan dit wees dat jy niks het om oor te praat nie, omdat jy God nie meer raaksien nie?

Kan dit wees dat jy, in al jou geraas, nie meer God se stem hoor nie?

Of dat jy nie meer God se vingermerke in jou eie lewe raaksien nie?

Vra die Heilige Gees om jou te leer om luisterryk te leef.

Dit beteken oplettend.

Met ’n Sherlock Holmes vergrootglas om God se voetspore agter jou, langs joune, raak te sien.

Die Heilige Gees is steeds aan die werk!

Hy wil jou leer om as deel van Sy Pinksterkerk vir God raak te sien.

Alleen wanneer jy dit raaksien, kan jou mond vol word van God.

n dan sal mense uit alle kulture jou verstaan.

Want dan praat jy die taal van God se liefde en hoop.

En dit kan mense nie misverstaan nie.

Dit is Pinkster! Al voel dit vir jou chaoties.

Dit is die dans met ’n klomp nuwe dansmaats. Die dansvloer is besig om vol te word.

Dit klink vir my of die Gees se dans meer ’n rap of briekdans is as ’n statige wals.

Amen

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.