Preek ook op ons YouTube kanaal beskikbaar by: https://youtu.be/Q-OEBmRkYI8

Dit is September en die jaar lê op sy rug. En dit is hierdie tyd van die jaar wanneer die moegheid ons begin oorval en die irritasievlakke nuwe hoogtes bereik. Want om een of ander rede voel dit of die aarde elke jaar vinniger en vinniger draai.
• Ons jaag meer en stop minder.
• Ons werk meer en ontspan minder.
• Ons worry meer en lag minder.
• Ons het meer goed, maar is toenemend ongelukkig met die goed wat ons het.
En partykeer voel dit of ons lewe op autopilot is. Jy probeer net oorleef, dag vir dag, net om al die balle in die lug hou. En ons oorleef, maar leef ons werklik?
Jy sien, Salomo skryf Hooglied as ‘n jongman, Spreuke as ‘n man in sy middeljare en Prediker as ‘n ou man. Want in Prediker reflekteer hy oor sy lewe. Hy dink terug oor die dinge waarmee hy hom besig gehou het. En dan het hy ‘n diep innerlike stryd oor die sin van die lewe.
• Wat gee betekenis in die lewe?
• Watter dinge sal ek as sinvol beskou as ek terugkyk oor al die goed waarmee ek besig was?
En ek dink dit is ‘n belangrike vraag om te antwoord, veral omdat ons net 1 kans op die lewe het. En so het ons vanmôre die voordeel van iemand wat vir ons kan sê: been there, done that, got the T-shirt, maar ek weet maak die lewe die moeite werd.
Jy sien, Salomo het ‘n vol lewe gehad. Trouens, in die oë van ander mense, ‘n baie suksesvolle lewe.
• Hy het groot besighede gehad (2:4).
• Hy het vir hom huise gebou en later ‘n wynplaas aangeskaf. (2:4)
• Hy was een van die grootste bees –en skaapboere in die land, groter as enige iemand voor hom. (2:7)
• Hy het store vol goud en silwer gehad. (2:9)
• Hy het talle mooi meisies gehad met wie hy die lewe kon geniet. (2:8)
• Hy het mag gehad, hy het roem gehad, hy het geld gehad. Hy kon letterlik doen en kry wat sy hart begeer het.
Hy het die lewe gehad. Dié lewe waarvan ons droom en waarna ons so jaag!
En dan lees ons in 1:11 “Maar toe ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ‘n gejaag na wind. In hierdie wêreld bevredig niks nie.”
Al hierdie goed wat ons dink die lewe is, was uiteindelik net ‘n gejaag na wind. En hoe tragies dat jy aan die einde van jou lewe kan kom, net om te besef dat alles waarvoor ek so gejaag het, eintlik niks beteken het nie.
Verlede week het Zilke gepreek oor die geloofsbakens wat agter ons lê. Hierdie week kom pak die Here eintlik die bakens voor ons uit en sê; as jy regtig wil leef, as jy sinvol wil leef, as jy betekenisvol wil leef moet jy hierdie 3 bakens in die lewe voor jou uit hou.
1. God
Jy sien, daar is niks daarmee fout om ambisie in die lewe te hênie. Daar is niks fout daarmee om goeie besigheid te doen, om baie geld te maak of om geld bymekaar te maak nie. Maar wanneer hierdie dinge die fokus of die hoofdoel van jou lewe is, as dit is waarvoor jy leef, sal dit jou nooit gelukkig maak of bevredig nie. As dit jou enigste fokus in die lewe is, gaan jy jou moeg hardloop agter niks aan nie.
Prediker 5:9 sê: “Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks.”
Liewe kind van die Here, jy kan alles onder die son hê, maar daar is meer aan die lewe as die dinge wat jou oog hier kan sien. Sommige goed het tydelik waard en ander ewigheidswaarde. En elke keer wanneer die Prediker God raaksien, is dit opvallend dat sy gemoed ligter word en dat hy die lewe in ‘n ander lig sien. Sonder God maak die lewe eenvoudig nie sin nie, want jy jaag na ‘n doodloopstraat.
2. Geleen-tyd
In Prediker 3 sien hy God in die lewe. En hy het geleer om God – baie spesifiek – in tyd te sien.
Skriflesing: Prediker 3:1-11
Jy sien liewe kind van die Here, die lewe is nie een lang dans nie. Daar is tye wanneer ons saam met die musiek van die lewe kan dans en ander kere wanneer die musiek afgedraai word en ons in stilte moet sit. Die lewe het ‘n bepaalde ritme, sê Prediker. En die belangrikste van hierdie ritme is dat God die ritme van jou lewe bepaal. God sit nie iewers in die hemel en bekyk jou lewe soos ‘n toeskouer nie. Nee, Hy het tyd en ook jou tyd in Sy hand. Daarom het Prediker geleer in sy lang lewe om God met jou tyd te vertrou. Hy het uit ondervinding geleer dat,
• na die swaarkry kom daar ‘n tyd wanneer die son weer sal skyn.
• na die huil kom daar weer ‘n tyd vir lag.
• na die teenspoed, sal daar weer tye van voorspoed kom.
Dit is soos die lewe werk. Elke ding het sy tyd en die lewe het ‘n bepaalde ritme. Wat is was reeds. wat Kom, was ook alreeds. God laat weer gebeur wat vroeër gebeur het. (3:15)
En somtyds is ons net te haastig. Somtyds moet ons net vir ‘n oomblik stilstaan, asemhaal en onsself daaraan herinner dat ook hierdie tyd waarin ek nou is, is in God se hand. En Hy weet die beste! Ek dink partykeer raak ons paniekerig in sekere tye van ons lewe. Maar dit is dan wat ons moet onthou, ook hierdie tyd is deel van God se beplande ritme vir my lewe.
Jy sien, om God in my tyd te sien, bring ‘n Goddelike perspektief op my lewe en my omstandighede. Dit bring ook ‘n perspektief op ons land se omstandighede. Daar was ‘n tyd in ons land waarin daar op groot skaal afgebreek is. Ons is nou in ‘n tyd in ons land waarin daar weer opgebou moet word. Prediker het dit gesê, daar is ‘n tyd om af te breek en ‘n tyd om te bou. Ons moet onthou ook die tyd in ons land is in God se hand. Ons moet ons nie te veel daaroor ontstel nie, want ons leef op die ritme wat God bepaal.
Daarom, is die laaste baken wat Prediker uitpak die baken om die lewe te geniet.
3. Geniet
Prediker sê in 3:12: “Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.”
5:17: “Ek het ook iets gesien wat goed is: Dit is aangenaam om te eet en te drink en die lewe te geniet onder al die geswoeg op hierdie wêreld. Dit kom ‘n mens toe vir die hele leeftyd wat God hom skenk. God gee aan ‘n mens rykdom en besittings en laat hom dit geniet. God laat die mens sy deel ontvang en sy werk met vreugde doen. Dit is ‘n gawe van God.”
2:24 “Dit is nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ‘n gawe uit die hand van God is. Wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie moontlik maak nie?”
3:13: “Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.”
Toe die Prediker vir God sien en toe hy raaksien dat God die tyd en ritme van sy lewe bepaal, het hy besef dat hy die goeie van die lewe moet geniet as dit by hom verby kom! Miskien is dit een van die grootste lesse in Prediker. Ons geniet te min dit wat ons vandag het.
Daar is ‘n versie in die middel van Prediker wat die sleutel hou tot ‘n sinvolle lewe saam met God wat jy kan geniet.
“Wat die mens het, is beter as wat hy begeer.” (6:9)
Die goeie van die lewe, liewe kind van die Here, geluk en vreugde, lê nie en wag iewers anders, in ‘n ander tyd of op ‘n ander plek nie. Geluk lê nie in ‘n klomp begeertes wat eers moet realiseer nie. Gelukk wag nie by aftrede of onder ‘n ander regering nie. Geluk is nou hier, in jou eie huis en by jou eie tafel en saam met jou eie mense. Daarom dat Prediker oor en oor sê: Geniet die goeie van die lewe vandag, want dit is ‘n gawe uit die hand van God. Dit is nou die tyd om gelukkig te wees!
• Geniet die vrou of die man wat jy liefhet.
• Geniet jou kinders of kleinkinders.
• Geniet die geld wat jy het.
• Geniet die kos en wyn wat jy drink.
• Geniet jou vriende.
• Maak jou huis mooi, maak tuin, dit is nou lente! Gaan geniet jou vakansie. Reël ‘n braai en gaan kyk rugby. Geniet dit, want dit alles is ‘n gawe van God waarvoor jy vir Hom dankie kan sê.
Slot
• Miskien is die lewe nie so ernstig soos ons dit wil maak nie.
• Miskien is die lewe ook nie so onvoorspelbaar soos ons dit wil maak nie.
Want wanneer God die fokus in jou lewe is, vind jy vrede in die wete dat Hy jou lewensritme bepaal. En jy weet, na elke winter sal somer weer ‘n draai maak. Daarom, geniet die lewe vandag, want dit is ‘n gawe wat God vandag vir jou gee.