As jy nie die erediens kon bywoon nie, hier is dit vir jou eie geestelike groei en stiltetyd.

volgende treePreek uit Kolossense 1:1-13

Die gemeente van Kolosse was geleë in Klein-Asië. Dit is die area wat Paulus oa op sy sendingreise deurkruis het. Hy het die Evangelie op so veel dorpe as moontlik verkondig. En die kerk het begin groei in Klein-Asië.
En tog … as ons nou mooi na sy sendingreise op die kaarte gaan kyk, dan sien ons dat Kolosse se naam nêrens verskyn nie. Paulus was nooit in Kolosse!
Dit maak dat die vraag ontstaan: Waar kom die gemeente vandaan?
Hoe het die Evangelie by hulle uitgekom?
Miskien lê die antwoord in die naam wat in vers 7 (en weer in 4:12) voorkom: Epafras.

Tema: Die volgende tree.

In Universitas-gemeente is daar ’n hele klomp veranderlikes: demografie met die opkoms van nie net studentehuise nie, maar ook groot studentekoshuise, die rol van die leraars en hul beskikbare tyd, waar lidmate van Universitas woon, wat in die breër omgewing rondom ons met die ander gemeentes gebeur, hoe sorg ons geestelik vir mekaar, ens.

En daarom is ons tans in ’n kairos-tyd. ’n Beslissingstyd. Dit is tyd van nuut dink en bedien.
En daarom het ons leraarspan (en br Manie) ’n opdrag om te kyk na die volgende treë wat Universitas moet neem in die bediening.

Dit is opwindend. Dit is kreatief. En dit is waarmee die spannetjie hulle die laaste tyd besig hou.

En dit is teen hierdie agtergrond wat ons vandag Kolossense 1 lees.

Die indruk wat by my bly is dat ons groot treë moet gee, want God is dinamies op weg met Universitas. En Hy wil dat ons saam met Hom op weg sal wees/bly – WANT GOD DROOM GROOT OOR UNIVERSITAS. Hy wil hê dat hier meer sal gebeur as wat tot nou toe gebeur het.

Wat bedoel ek daarmee?
Sonder om te veel in die detail in te gaan…
’n Volgende tree, want …
• Daar is baie meer daar Bo – God is baie meer en wonderliker as wat ons dink.
• Daar is baie meer hier onder – daar is baie meer geloof in die gemeente as wat ons soms verwag.
• Daar is baie meer daar buite – daar is baie meer mense daar buite wat bedien moet word en ingetrek moet word as wat ons elke dag raaksien.
• Daar is baie meer daar voor. – Ons is op pad na ’n groot toekoms saam met die Here, en daarom moet ons nie te min van Hom verwag nie.
Die Bybel praat van hoop.

Om die betekenis van die Kolossensebrief vir ons bietjie beter te verstaan is dit nodig om die agtergrond te verstaan.
Die gemeente van Kolosse het waarskynlik ontstaan deur gelowiges wat van die naburige dorpe soos Efese of Laodisea daarheen gekom het en die evangelie daar kom verkondig het.
Dit sou Epafras self kon wees – wat blykbaar nou die leraar van die gemeente was, ’n gemeente met ’n gemengde samestelling
Maar die gemeente het nie sterk teologiese leiding gehad nie.
Daar was ook nog nie ’n Bybel met riglyne nie.
Allerhande vrae het ontstaan. Daar was ernstige debatte en sterk argumente, maar min goeie leiding. Die ergste dwaling wat posgevat het, was dat Jesus net maar nog een van die weë na God was – saam met baie ander heidense godsdienste.

En dit is die rede waarom Epafras na Paulus toe is. Om leiding te kom kry vir die verwarring in die gemeente. En Paulus sit in die tronk – waarskynlik in Rome waar hy in huisarres was, maar nog steeds gaste kon ontvang.
En hulle kon oor al die sake breedvoerig gesels.

Uiteindelik stuur Paulus dan vir die gemeente ’n brief, miskien saam met Epafras.
Daarin beklemtoon Paulus die kernsake van die evangelie. Die onverhandelbares.

Maar as Paulus nou die brief begin, dan vertel hy hulle van sy gebede.
Dit begin by ’n dankgebed (:3).
Dit loop oor na ’n gebed van voorbidding (:9)
en dan kom hy terug na ’n dankgebed (:12).

Elke keer, sê Paulus, as hy aan hulle dink, dan dank hy die Here vir ’n klomp dinge.

In hierdie dankgebed vermeld hy die waardering wat hy vir hulle het. En dit is natuurlik ten diepste God se wonderlike werk deur die Evangelie en werk van die Heilige Gees.

Vers 4, 5, 6 en 13:
“…. omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges (lett.: “heiliges”).

Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.

Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.

Die Evangelie se blye boodskap het die wêreld bereik en begin vrug dra.

Die eerste vrug wat die evangelie in Kolosse dra is dat mense uit die die heerskappy van die duisternis weggeruk is en dat hulle ’n nuwe identiteit gekry het.

Trouens: oral waar in die Afrikaans vertaal word van “gelowiges”, staan daar letterlik “heiliges”.
Hulle was “heiliges” wat hul nuwe identiteit by die Heilige God gekry het.
Hulle was niks minder nie as “saints”. Mense vol van geloof, liefde en hoop.
( Dit is dieselfde as verlede week se gedagte van Abraham wat ’n vol lewe gehad het – vol van geloof!)
Maar die Evangelie het van hulle af verder begin versprei.

Soos die Evangelie, wat oor die wêreld versprei, die gelowiges in Kolosse bereik het, het dit van daar af verder begin versprei en verder begin vrugte dra.

Soos die evangelie mense ingetrek het, het hulle ook die instrumente geword om daardie evangelie weer te gaan versprei.

Dit is dieselfde gedagte as Abraham wat geseën is om vir ander tot seën te word.
Dit is dieselfde gedagte van Universitas wat ’n Sentrum moet wees waarheen mense kom om te aanbid/in hul geloof versterk te word, maar om dan weer met daardie Evangelie die omgewing daar buite moet gaan bedien.

Verder vertel Paulus vir hierdie “heiliges” van die geloof, hoop en liefde wat in hul harte kom lê het.

WOW! Dit is meer as komplimente!
Dit is om hul nuwe identiteit te leer waardeer.
Dit is ook ’n nuwe waardering vir God se werk in hulle.

Om dit te beklemtoon:
Dit was ’n besonderse vrou wat in die troebel tye van die Amerikaanse Burgeroorlog gereeld vir haar familielede briewe geskryf het. Baie van die briewe het behoue gebly.
En hulle vertel ’n besondere verhaal van omgee en bemoediging.
Wat opvallend was, was die manier waarop die briewe meestal afgesluit is:
“Have I told you lately what an awesome and precious person you are?”
“Het ek nou onlangs vir jou vertel dat jy ’n besonderse en kosbare persoon is?”

Kan jy dink watter bemoediging dit vir elkeen van daardie mense in die ontstellende tye van oorlog moes wees?
Jy is besonders! Jy is kosbaar!

En as ons as heiliges dit vandag hoor, want dit is net so op ons van toepassing, dan staan jy verwonderd: Jy is God se verloste kind! Jy is God se heilige pronkstuk!
En Hy het geloof, hoop en liefde in oormaat in jou lewe kom aflaai!!

Dit was die eerste tree.
God se tree van genadewerk.

Maar dan kom die gebed van voorbidding.
Die tweede tree is ’n tree van heiligmaking en vrugte dra.

Vers 9b:
“Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.”

Dit is dus ook die werk van die Heilige Gees.
Hy moet ons lei tot groter wysheid en insig in die wil van God.

Dit is maar die vraag wat ons as “heiliges” elke dag moet vra:
“Here, wat is U wil vir my?
Wat is U wil vir/in my situasie?”
Hoe kan ek meer vrugte dra?
En daarvoor het ons wysheid en insig van die Gees nodig.

In die volgende vers is die gebed nie net om die wil van God beter te ken nie, maar om God self beter te leer ken.

En dan gee die Here vir my die volgende beeld tydens ons saam dink oor die gemeente se tweede tree:

Die mierleeu maak mos vir hom so ’n kegelvormige valluik met fyn sandjies waarin sy prooi afstort.
En ek besef dat, hoe dieper die gaatjie gemyn word, hoe wyer gaan die kegel wees en hoe meer sand en prooi gaan in die kegel inval.

Dit is presies wat met die kerk gebeur.
Hoe dieper ons geloof gevestig raak en
hoe dieper ons God se wil leer verstaan,
hoe meer sal die omgewing inval in hierdie Koninkryks-kegel.

Maar dit is nie net afkyk na God se wil vir ons omgewing nie,
dit is ook opkyk om vir God self beter te leer verstaan.
Ons grootste roeping is sekerlik om in nouer verhouding met God te leef.
Daarom gaan Paulus direk hierna oor om ’n loflied op Jesus te sing.

Waar jy hierdie gebed van Paulus vir jouself en vir die gemeente begin bid,
daar begin jy vir Jesus duideliker raaksien.
Dan begin jy oor Hom gedigte skryf.
Dan begin jy daardie lirieke sing!

Dit is deel van die dieper delf in die geloof.
En die omgewing word deel van hierdie lied.
Die omgewing stort in saam met die lirieke

Dit is wanneer geloof groei en vrugte dra – die tweede tree in die geloof.

Ek sluit af:
Die tweede tree in die geloof/kerkwees is om
• Op te kyk en God beter te leer ken
• Om af te kyk na jou eie omgewing en God se wil daarvoor te vind, maar
• Om dan van daaruit vrug te gaan dra, of anders gestel:
Om die kegel al dieper te grawe sodat al meer van jou omringende konteks inval
onder die Heerskappy van Jesus Christus.

En daarmee mag ons nie moedeloos raak nie.
Daarin moet ons volhard/vasbyt.

Dit is waarom die laaste gebed dan ook is vir krag/volhardende krag: Vers 11
“Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.”

Wees deel van die kerk se tweede tree van vrugte dra en goeie werke doen.
Die Heilige Gees sal vir jou daarvoor die krag gee.

Jy is klaar ‘awesome’! God het jou besonders gemaak.
Sit nou jou voet vorentoe vir die volgende tree.

Maar voordat jy trap, bid Paulus se gebed wat hy ons leer:

“O God, ons (as individue en as gemeente) vra dat U deur al die wysheid en insig wat die Heilige Gees gee, ons U wil duidelik sal leer ken, sodat ons tot eer van U, o Here, sal lewe deur net te doen wat U verlang.
Mag ons vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.”

Amen
Prediker: Ds Retief Botha.
Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.