Mat 15: 21-28
Hierdie gebeurtenis waarvan Matteus ons vertel, laat ons aan ’n baie huislike prentjie dink.
Jy sien voor jou geestesoog die gesinnetjie wat aan tafel sit.
Daar is pappa, mamma en ook die kinders. Hulle is besig om te eet. Maar as jy uitzoom, dan sien jy ook die hondjie hier onder op die grond, dit is ’n klein huishondjie, ’n skoothondjie. (Matteus gebruik ook ‘n verkleinwoordjie vir hom.)
Die ou hondjie sit vol verwagting en hy kyk op na die baas en die kleinbasies.
En daar is by hom ’n verwagting. Kort-kort dan draai hy so in die rondte en hy dreig om ’n blaffie te gee, maar hy weet hy mag nie.  Dit is nog nie sy kostyd nie.
Hondjies eet eers ná die base. Maar die verwagting word nie kleiner nie, net groter.
Net dalkies … laat val die kleutertjie ’n stukkie brood van die tafel af.
Of net dalkies raak die baas se hart sag met die ogies wat so opkyk en hy smokkel genadiglik ’n paar krummels onder die tafel in ….
Ek hoop jy sal nie gou hierdie prentjie vergeet nie.
Dit is met hierdie prentjie wat Jesus uitoorlê word!
 

Matteus vertel vir ons van ’n baie honger hondjie.
Dit is die Kanaänitiese vrou. ’n Heidense vrou.
 
Nou moet ons net eers wonder waarom bevind Jesus en die dissipels hulle in die streke van Tirus en Sidon, buite die noordelike Judese grense?
Jesus is besig om homself en die dissipels voor te berei vir die lydenstyd en die kruis. Daarvoor het hulle bietjie alleentyd (“we-time”) nodig. Want Hy moet die dissipels ook nog bietjie begelei en voorberei vir dit wat op hulle wag.
Hy moet hulle toerus om die kerk op sy eerste treë te begelei na die hemelvaart.
 
Maar dit is bykans onhoudbaar in Joodse gebied. Die Fariseërs gee hulle gas en raak al meer dreigend. Die skares, daarenteen, kan nie genoeg van Jesus kry nie.
Hulle vertrap Jesus en wil Hom sommer tot koning kroon.
Daarom “vlug” Jesus en die dissipels na Fenisiese land.
Dit is trouens die enigste keer dat Jesus homself in heidense gebied begeef.
 
Maar die toer na Fenisië is nie net vir die ontvlugting nie.
Jesus beklemtoon daarmee ook die reikwydte van die Evangelie. Die genade mag nie net beperk bly tot Joodse gebied nie.
En dit is ’n aksent wat die dissipels (die kerk) mooi moes leer.
 
En dan besef ons skielik:
As dit nie was vir God se oorgrens-genade nie, dan was ons nie nou hier bymekaar as kerk nie.
Op die verste suidpunt van die “donker-kontinent”. Waar die helder lig die donkerte verdryf.
Dan het die genade in die Midde-Ooste gebly.
Dan was ons kinders ook nie vandag in ’n bloeiende Christengemeente op ’n eiland tussen Korea en Japan nie.
 
Maar ook daar in Fenisiese gebied het die boodskap oor Jesus al versprei.
En hierdie vrou is desperaat oor die toestand van haar dogter.
Haar dogter is “in die mag van ’n bose gees.”
Wat presies die aard daarvan was, weet ons nie.
(Miskien was sy maar net ’n gewone tiener wat haar ma teen die mure uitgedryf het!
Nee! Dit is net ’n grappie.
Want ons is baie lief vir ons tieners. Julle is vir ons kosbaar en ons is so trots op julle en so bly dat julle om die tafel saam met ons sit.)
 
Hier is ’n krisis, maar hierdie vrou is soos ’n buldog wat nie laat los nie.
Sy is ongenooid, knaend, desperaat, ’n oorlas, irriterend …
Maar sy ken selfs die belangrike Joodse benamings van “Here, Seun van Dawid”. En sy ken die gebed van Ps 6:3: “Ontferm U oor my, Here…”
 
Maar Jesus ignoreer haar “flat”.
Vers 23 sê: Maar Hy het haar niks geantwoord nie.
Dit klink selfs baie onbedagsaam.
 
En nou volg eers ’n gesprek tussen die dissipels en Jesus.
“Jesus, jaag die laspos weg.”
En Jesus se reaksie is: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.”
 
Dit was sy Goddelike roeping.
“Fokus op die verlore skape van Israel.”
– Jesus kon nie in drie jaar se bediening die hele wêreld evangeliseer nie.
– Hy moes in die geloofskonteks van Joodse land God se liefde en die losprys aan die kruis bring.
– Dit sou inderdaad implikasies hê vir alle geslagte die wêreld oor.
– Maar nou moes Hy fokus op Joodse land.
 
Die verhaal kon hier eindig. En dan was ons waarskynlik nie vandag hier as gelowiges nie.
Maar dan gebeur daar iets ingrypends.
Hierdie vrou is ’n vasbyter. Sy gee nie bes. Sy is té desperaat.
 
Sy kom kniel voor Jesus met haar versoek.
Haar appél op Jesus as die Dawidseun/die koning verskuif na aanbidding en ’n genade-pleit:
“Here, help my!”
Sy speel nie meer politiek.
Sy kniel bakhand.
 
En Jesus verduidelik vir haar in ’n verstaanbare beeld van die brood wat vir die kinders om die tafel bedoel is.
En dit sal nie “mooi wees” om die brood vir die hondjies te gooi nie.
Sy bediening is vir die kinders, nie vir die “heidense hondjies” nie.
 
En dit is net mooi met hierdie selfde beeld wat die Kanaänitiese vrou vir Jesus uitoorlê.
“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”
 
Die hondjies wil nie die hele brood hê nie.
Sy sal soos ’n ou hondjie tevrede wees met die krummeltjies.
En dit sal vir haar oorgenoeg wees!
En die krummels is in Jesus se hand. En sy glo in Jesus.
“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.”
Sola Fide van die Reformasie.
 
En dit is toe ook genoeg.
Haar dogter is met een almagswoord gesond.
God se genade begin die wêreld oor spoel.
Na mense in nood wat dit nie verdien nie.
Na mense wat nie as Jode gebore is nie.
Selfs ek en jy!
Ons kan die genade ook nie koop nie
Dit is alleen genade!
Dit is die Reformasie se Sola Gratia.
 
Toe ek die eerste keer twee weke gelede hierdie teks lees
het ek gedink dat die vrou Jesus uitoorlê het.
Die tema van die preek dat Jesus uitoorlê is, is ook bietjie aspris geformuleer.
 
Want Jesus het presies geweet wat hier aan die gebeur is – hy is eintlik besig met onderrig.
En ek glo dat Hy met ’n skalkse glimlag gewag het vir die vrou om die gaping te vat om vir die
hondjies krummels te bedel.
 
En Jesus se blydskap oor die hondjie wat die krummeltjie vang, breek uit in ’n breë glimlag.
Ek dink dit is wat gebeur het.
 
En toe ek die teks weer aanvanklik lees het ek gedink dat hierdie vrou Jesus uitdaag om Sy eie fokus te verbreed:
Breër as die eng visie van “Jode alleen”.
 
Maar dit kan nie Jesus se visie wees wat verbreed nie.
Want God se liefde is omvattend in Sy hart.
• Dit is eintlik die dissipels se visie wat moes verbreed.
Na die hemelvaart moes die eerste gemeentetjie hierdie Evangelie na al die heidense nasies begin dra. En hulle het dit oor grense gedoen.
• En dit is die eerste lesers van die Matteaanse gemeente wat ook hul visie moes verbreed. Hulle was waarskynlik ’n Joods-Christelike gemeente in Antiochië nog verder noord as die destydse Fenisië. Hulle moes die krummels nog verder versrei.
• En uiteindelik is dit ons hier in Universitas vir wie die Here sê: Dra die krummels oor al die grense. Oral is daar ’n nood en ’n verwagting.
Dra die krummels oor Paul Krugerlaan na al die studentekommunes.
En na jou bure wat jy nog nooit uitgenooi het hier na die Geloofsentrum nie.
En na al jou kollegas by die werk. Hulle verwagting verskil niks van die hondjie wat vol verwagting na die krummels daar buite sy bereik kyk nie.
Hulle weet miskien nog nie eers dat dit etenstyd is – ook vir hulle nie.
 
En as jy nou drie verse verder lees, dan sien jy hoe sewe brode ’n skare van seker 10 000 mense voed.
In Jesus se hande word krummelties oorvloed.
En jy word geroep om hierdie krummeltjies te help uitdra.
Daar word dit oorvloed. Ons mag dit nie vir onsself hou nie.
 
Maar nou die laaste vraag:
Ons wat nou die krummels ontvang het.
ons wat die oorvloed ontvang het.
 
Waar begin ons hierdie lewe van ’n breër oorvloedsvisie?
Hoe groei ons nou verder?
 
Ons sien iets baie besonders by hierdie Kananese vrou:
Daar is ‘n groeiende progressie in haar geloof.
Maar waar begin dit by ons?
Dit begin presies daar waar ds Japie ons verlede week gelei het om te verstaan wat dit beteken as Jesus sê:
 
“Vra, en vir julle sal gegee word;
soek, en julle sal kry;
klop, en vir julle sal oopgemaak word…” (7:7)
 
Hierdie vrou vra na God se wil vir haar kind. En dit is beslis nie om in die mag van die bose te wees nie.
Sy soek na oplossings – en sy vind vir Jesus self.
Sy klop aan Jesus se deur — tot vervelens en volhardend – totdat Hy die deur oopmaak en uit sy skatkamer van almag haar gebed verhoor.
 
Miskien is dit regtig tyd dat jy biddend na God gaan…
Vraend … soekend … kloppend.
 
En ons het ook gesien hoe daar progressie kom in haar geloofslewe
en in haar siening van Jesus.
Eers noem sy Hom opportunisties “Seun van Dawid”.
’n Politieke term, maar Jesus laat nie met Hom politieke speletjies speel nie.
Hy antwoord haar niks.
 
En dan begin sy beter verstaan met Wie sy te make het.
Sy kniel in nederigheid voor Hom:
En sy bid nie meer ander se gebede nie, dit is net ’n eenvoudige noodroep: “Here, help my.” Haar eie gebed.
Sonder pretensies en sonder om ander te probeer beïndruk.
Eerlik en opreg!
 
Biddend, op jou knieë voor Jesus, eerlik en opreg.
 
Dit is waar jou geloof groei.
En dit is waar jou Koninkryksvisie ook sal begin verbreed.
Dit is van waar af Jesus se genesing oor grens begin spoel.
En waar jy self meer as krummeltjies ontdek.
En dit is waar ander mense meer as krummels ontdek! Amen