Teksvers:Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.”

niks-wat-niks-kosEk dink ons word vanoggend gekonfronteer met die vraag:

“Hoe gee ek vir die Here? En wat gee ek vir die Here”.

Wanneer is my lewe ‘n waardige offer aan die Here?

Wanneer gee ek ‘n waardige dankbaarheidsoffer aan die Here?

Ons kan tog nie anders as om in ons Seisoen van Dankbaarheid hierdie vraag eerlik te probeer beantwoord nie.

Ons Bybelverhaal begin by koning Dawid wat ’n foutjie begaan.

Maar dit is ook nie ’n ligte ou foutjie van Dawid nie.  Dit is so ernstig dat dit tot ’n radikale en krasse oordeel van God se kant af aanleiding gee.  Maw dit is sonde!

Wat is nou sy groot sonde?

Hy laat ’n volksensus hou!

Nou wat sou nou daaraan so vreeslik verkeerd wees?  Alle regeerders doen dit.

Verantwoordelike regeerders doen dit om behoorlik in staatsbelang te beplan.

 

Dawid se sensus is blykbaar nie so onskuldig nie.

Selfs sy veggeneraal, Joab, die ou van wie ons dit die minste sou verwag, vra kritiese vrae daaroor …..

Sou dit wees om belastings te hef?

Sou dit wees om finansiële beleid te bepaal?

Sou dit wees om voor te berei vir oorlog?

Die aanduidings dui al meer op ’n militêre motief.

As Dawid voet by stuk hou en Joab se taakspan lewer 9 maande later verslag, dan rapporteer hulle: “… soveel honderd duisend weerbare manne wat kan orlog maak.”

Net die voorafgaande perikoop word ook geheel gewy aan ’n hele lys van die dapperste soldate en hulle helde-legendes.

Daar was dus by Dawid iets onverantwoordeliks, iets ambisieus, iets van wantroue in God.

En God se profeet kom konfronteer hom – nie met sy sonde nie, want dit het hy teen daardie tyd klaar besef – maar met sy straf.

En hy kry drie opsies waarvan hy een moet kies.

En, o aarde, watter opsies was dit nie!

Wat ’n vreeslike keuse! Koning Dawid is in ’n vreeslike hoek gedryf!

En hy kies die derde opsie: pes!

Laat daar dan pes wees, want ten minste is dit nie in mense se hande nie.

Dan is ons in God se hande.  En ons ken vir God.  Ek is oortuig daarvan dat God se genade baie groot is.  Net miskien voer Hy nie die pes tot die uiterste toe deur nie.

En Dawid was presies reg! Luister…

Die pes breek uit uit van Dan tot Berseba.  Vanaf die verste noorde tot die verste suide!

En mense sterf, soos vlieë … teen die aand van die eerste dag ….. sewentig duisend man dood!

Hoeveel vroue?  Hoeveel kinders? Hoeveel ou mense mense?

 

En die swart golf van die pes rol aan na Jerusalem toe.

Dit rol oor die berg Moria waarop die tempel later gebou sal word.

Daar staan die doodsengel al op die dorsvloer van Arauna (die uitlander)!

En God se genade kry die oorhand….!  Stop!

God keer die doodsengel.

Net een van die drie dae is om … Stop!

…en God is inderdaad genadig.

Die slagting onder die arme “slagskape” (Dawid verwys só na die volk) word gestop.

En die koning slaak ’n dankbare sug van verligting.  Hy is verpletter!  Dit is alles sy skuld!

Maar hy is baie dankbaar!

En dan bring die profeet die opdrag:

“Die Here het jou trane gesien en jou gebed gehoor.

Gaan en bou ’n altaar daar op Arauna se dorsvloer.

…daar waar God die pes-engel gekeer het,

… daar waar God se genade deurgebreek het.”

Dit is, terloops,  presies dieselfde plek waar die tempel later gebou sou word.

–       Net ’n klipgooi van waar die kruis van genade op die heuwel aangrensend – op Golgota -geplant sou word.

 

En so gaan Dawid en vra vir hierdie Arauna om die plek te koop.

Dié is baie vriendelik en vrygewig:  Die koning kan dit maar verniet kry, ook my jukke vir brandhout en my beeste vir offerdiere.

Hoe maklik sou dit vir Dawid kon wees om hierdie gulhartige offer te aanvaar!

Hy kon ’n klein fortuintjie spaar.    Thanks, man!  Vriendelik van jou!

Maar hy sê:  “Nee Arauna, nie so nie!”

“Nee, ek koop dit beslis van jou teen die volle prys. Ek bring nie aan die Here my God offerandes wat my niks kos nie.”

Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir sowat ses honderd gram silwer gekoop.

 

Ek weet van ’n arm gesinnetjie wie se krag in die wintertyd weens skuld afgesny is.

‘n Gemeentelid hoor van die situasie en gee R1000 dat hulle net elektrisiteit in die winterkoue kan hê.  Die dominee hoor daarvan en tel die telefoon op om die person te bedank.  Net om uit te vind die donateur se telefoon is afgesny.  Hy kon nie met krag help en sy telefoonhuur betaal nie.

 

“Ek bring nie ’n offer wat my niks kos nie.”

 

Ek herinner my aan ’n arm weduwee wat by die offergawekiste verbyloop en, terwyl Jesus toekyk, die kleinste ou twee geldstukkies in die offergawekis gooi.

Jesus het “sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe.”

Ja, sy gee alles wat sy het.  En sy vertrou God om vir haar te sorg.

“Ek bring nie ’n offer wat my niks kos nie.”

 

Ek herinner my ook aan ‘n vrou wat ‘n fles baie duur nardusolie oor Jesus oopbreek (Mark 14:1-9). Die omstanders se ontsteltenis is dan oor die finansiële vermorsing.  Dit kos ‘n fortuin!  Die geld kon vir die armes gegee word!  Mooi vroom!

Jesus tree vir haar in die bres.

Sy bereken dinge nie finansieel nie, maar geestelik.  

En sy moes minstens vir ‘n jaar spaar om die nardusolie te kon koop.  

                        En haar dankbaarheid ken geen perke nie.

“Ek bring nie ’n offer wat my niks kos nie.”

 

Ek sluit af:

In hierdie opmerking van Dawid lê daar iets hemels.

Dit is niks minder nie as hemelse taal.

Dit is ’n Goddelike reaksie.  Dit is heilige taal.

Want God is die Een wat ons kom leer het om alles te gee.  Hy gee sy hemel leeg.

Hy gee sy enigste Seun, Jesus Christus, aan die kruis.  Sy hart moes in duisend skerwe gebreek het, en Hy gee dit wat vir Hom die kosbaarste is!

Om waarlik te kan gee, vra ’n duur prys!

Dit vra ja, soms van jou geld!

Maar dit vra ook soms van jou emosies en jou omgee.

Dit vra soms om eie prioriteite en gerief prys te gee.

Dit vra om laat-aand en ontydig te gaan help waar dit nodig is.

  Sonder enige opoffering is dit geen offer nie.  

             Sonder enige opoffering is dit geen offer nie.  

Om waarlik te gee, is om te gee totdat dit seer maak!

 

Ek sê nie die herverspreiding van nuttelose eiendom is onbelangrik nie.

Maar dit is nie om geestelik te offer nie.  Dit is net om te recycle.

 

Ek sluit af met ’n opmerking oor Dietrich Bonhoeffer.

Bonhoeffer was ’n briljante teoloog van Duitsland.  Hy was krities teenoor die Nazi-beweging en is in 1945 gearresteer vir ’n sg sameswering vir ’n mislukte sluipmoordaanval op Hitler.  Bonhoeffer is geïnterneer en in ’n konsentrasiekamp dood enkele weke voordat die Geallieerdes die kamp kon bevry.

Daar skryf hy egter sy boek “The cost of Discipleship”.

Daarin onderskei hy goedkoop en duur genade.

“Goedkoop genade is genade sonder dissipelskap, genade sonder die kruis, genade sonder die lewende Christus…”

Goddelike genade, daarenteen is duur, want “God het sy Seun nie as te duur beskou om vir ons lewe te betaal nie, maar Hy het Hom ter wille van ons oorgelewer.”  (Wat dissipelskap kos, p 24)

 

Sien: God self het ons kom leer om te sê:

“Ek bring nie ’n offer wat my niks kos nie.”

Amen

Stil word met Here.

Stil word met jou eie dankbaarheid vor die Here.

–       Met jou dankoffer wat in jou sak lê.

–        Of jou tiendemaand wat nog wag om aandag te kry.

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.