SKRIFLESING: Jesaja 11
Ons ken nou al Jes 1-39 as die Eerste Jasaja wat praat met afvallige Jode voor die tyd van die ballingskap. En hulle hoor baie duidelik dat God nie gelukkig is met hulle nie en dat hulle hul moet bekeer, anders gaan ’n groot ramp hul tref.
In hierdie teks kry ons, naas die konteks van oordeel, net soos in Jes 2, nog ’n profesie van hoop.
Want God se laaste woord is nooit ’n oordeelswoord nie.
Tema: Advent, Jesaja reeks #2:
BAIE MEER!
Die mees onverantwoordelike ding om te doen voor Kersfees, is om met jong kinders in ’n speelgoedwinkel in te loop.
Hul ogies begin blink!
Hul sien die wonderlikste speelgoed waarsonder hulle oënskynlik glad nie kan klaar kom nie.
En hul skroom nie om te droom oor hoe heerlik hierdie speelding gaan speel nie.
Ek onthou die Lego skeertuig wat klein Roelfie by sy oom en tannie kry.
Sy reaksie was: “Is this real, or am I dreaming?!”
Dit is die ekstase om verrassend meer te kry as wat jy verwag het!

Ek hoor die reklame van die speelgoed-winkel wat vir sy jong kliënte sê:
As jy alles kan dra wat jy vra, dan het jy te min gevra!
Dit is nou effektiewe reklame!

Droom oor MEER! Vra MEER!
Ja, kinders leer ons: moenie te min verwag nie.
Al is daar duidelike reëls van “Ons gaan nie vandag iets anders koop as nefie se verjaardagspeelding nie!:
O nee, hulle sal blatant bly glo dat hier ’n wonder kan gebeur as hulle net aanhou vra en skimp!
En hulle sal teen alle reëls in bly vra en ’n wonderwerk verwag.
Hulle kan dit bloot nie weerstaan nie!

En ek het begin wonder of ons nie geestelik tevrede is met die krummeltjies terwyl die Here bedoel dat ons BAIE MEER kan ontvang nie.
Want Hy kan, uit Sy oorvloed BAIE MEER gee! En Hy wil. En Hy is besig daarmee!

Die Joodse gelowiges staan op die vooraand van verwoesting en ballingskap, en hulle wonder of daar nie tog ’n wonderwerk kan gebeur nie.

En inderdaad skop God se genade in:
Net in die voorafgaande gedeelte het Jesaja die beeld gebruik van ’n Assiriese weermag wat afgekap sal word soos wat die bome in ’n groot woud afgekap sal word. En ons sien net afgekapte boomstompe staan. Dit is die einde!

En Juda en Israel weet dat juis dít ook hul voorland is, die einde as die volksboom afgekap word!
Maar oordeel is nooit die Here se laaste woord nie.
Daarom het die Here al in Jes 6:13 vertel hoe Hy in genade sal sorg dat daar uit die afgekapte stomp ’n takkie sal uitspruit.
Daar gaan wonderbaarlik ’n lootjie uitspruit wat kan groei en uiteindelik sal kan vrugte dra!
Dit is die Here se wonder-genade!
Hulle moes nie wanhoop nie!

“’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra.” (Jes 11:1)
Alles is nie verlore nie.
God sal nie toelaat dat Sy plan vir altyd gesaboteer word nie.
’n Vonk van hoop bly lewendig.
Want God kan ’n wonderwerk doen!
’n Stomp kan weer uitspruit!
Dit gee die gelowiges nuwe hoop.
Hulle onthou die mooi tyd van koning Dawid, die seun van Isai.
Iemand na God se hart en ’n goeie koning!

Die volk van Juda en Israel begin droom oor ’n nuwe koning Dawid.
En hul wag vir die koning wat sal regeer met die besonderse toerusting van die Gees wat hier beskryf word:
 Wysheid en insig
 Raad en sterkte
 Kennis en eerbied vir die Here.
 Nog verder word voorspel hoe hy in die nouste verbondenheid met die Here sal leef,
– met regverdigheid sal optree,
– hoe hy die hulpeloses sal versorg en betroubaar sal wees in alles wat hy doen.
Geen Estina-verhale en staatskapings nie!

En hul wag en wag en wag … en konings kom en gaan, maar nie een van die konings bring hoop nie.
Almal is maar tipiese politici wat net vir hulleself sorg en ander uitbuit.
Hulle wag tevergeefs….!

Uiteindelik sit die volk in die ballingskap met hul teleurstellings.
En ná die ballingskap is daar ’n klompie mense wat terugkom Jerusalem toe – en weereens hoop hulle.

En konings kom en gaan…
Maar eendag ….. toe verskyn daar ’n vreemde “koning” op die toneel.
Hulle noem hom Jesus van Nasaret.
Wel gebore in Bethlehem, die Dawidstad.
Met ’n genealogie wat inderdaad teruggryp op Dawid en vader Isai. (Mat 1)

Maar Hy voer toe nie die politieke staatsgreep uit soos hulle dit verwag het nie.
En Hy sterf ’n tragiese dood aan die kruis….
Oënskynlik toe nie die langverwagte koning van die Vredesryk … soos populêr verwag is nie.

Maar mettertyd werk die Heilige Gees … en mense begin verstaan Wie hierdie uitsonderlike koning is…. Want Hy leef steeds!

En Hy gee vir die wêreld meer as waarvoor hul gehoop het.
Hy verander die wêreld radikaal. Hy gee ’n goddelike transformasie!

En dit is waaroor Jes 11 so mooi beeldryk praat met natuurbeelde:
– wolwe en skape word maatjies
– luiperds en bokkies slaap saam
– kalwers, leeus en voerbeeste kuier saam.
– DIT IS ONGELOOFLIK! VOLKOME HARMONIE EN VREDE!
Alles word moontlik!
– Babatjies, die broosste van almal, speel vreesloos naby die slange en streel hul koppe.
En ma freak nie totaal uit nie!

Kan jy sien hoe God MEER gee?

En ons kan meer vra:
 Moenie net vra dat inbrekers en motorkapers in Bloemfontein gevang word nie.
Vra vir vrede reg oor die wêreld heen.
En vir kos en werksgeleenthede vir alle mense.

 En moenie net vra dat die gemeente se Tiendemaand sy mikpunt sal vol maak nie.
Vra (soos vers 9 sê) dat die “aarde so vol sal wees van die kennis van die Here soos die see
vol water is.”

 Israel het gehoop dat hul grense weer beveilig kan word teen vyande.
Die Here droom GROTER en MEER ….
Hy bied ’n wêreld aan sonder vrees en grense en vyandskap.

 Israel hoop dat hul eie koning oor hul kan regeer.
Die Here bied Homself aan – sy menswording in Christus Jesus – om dus persoonlik en in intieme verhouding met die skepping en die hele mensdom te kan leef.

Sluit af:
Eers ’n verhaaltjie:
’n Vyfjarige dogtertjie het ’n wonderlike Kersfees gehad.
Sy het alles gekry waaroor sy kon droom… en meer!
Sy was oorstelp.
Sy sê vir haar mamma: “Ek hoop regtig dat Maria en Josef volgende jaar weer ’n babatjie sal hê!”

Vra vir meer as ’n fees oor die geboorte van Jesus.
Vra dat Hy hierdie jaar weer – elke dag – gebore sal word in miljoene harte.
Vra dat Hy ook volgende jaar weer gebore sal word.

En onthou: Sy droom is méér as net die herstel van ’n ou (nostalgiese) orde!
God droom en beoog MEER.
En Hy kan MEER gee!

Dit is Kersfees!
Maar dit gryp ook vooruit na die wederkoms van ons here Jesus.
Wanneer Hy alles sal NUUT maak! ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde!
Amen

Gebed