Volkswagen het deur die jare hulleself gevestig as dié maatskappy met die beste advertensies.  En volgens VW se bemarkingsmanne is die doelwit in al hulle advertensies om altyd een waarheid of kenmerk van hulle produk in ‘n advertensie bekend te stel.  Kyk na die volgende baie bekende advertensie.  Baie van julle sal dit onthou van so ‘n paar jaar terug….

Iewers maak hierdie advertensie iets in ’n mens los.  Life is a journey, enjoy the ride het mister Miyagi gesê vir Daniël in die karate kid.  Want die lewe is ’n reis met verskillende momente en stasies waar ons stop en tyd spandeer, plekke wat ons onthou, plekke wat ons wil vergeet, vreemde paaie waarop ons ry.  Ons almal sit hier met memories oor ons eie lewensreise.  En ek dink wat hierdie advertensie regkry is juis dit, dit laat ons dink oor ons eie lewensreis.  Miskien net nie almal altyd so seepglad in Volkswagens nie! 

Ps 121 is ’n psalm oor ’n lewensreis.  Dit is ’n pelgrimslied soos daar staan.  Dit gaan oor mense wat moet loop.  Interessant dit was waarskynlik die liedjie wat gesing is terwyl mense van verskillende plekke af na Jerusalem toe geloop het om in die tempel te gaan aanbid.  Nou in daardie dae was kerk toe gaan nie so maklik soos vandag nie.  Jy het nie net in jou Volkswagen geklim en soontoe gery nie.  Dit was moeilik en gevaarlik.  Die grootste gedeelte van die pad, maak nou nie saak van watter kant af jy gekom het nie, was maar deur die woestyn.  En daar was ’n hele klomp goed wat jy moes verreken op jou pelgrimstog Jerusalem toe.  Die berge was goeie plekke vir rowers en bendes om in weg te kruip.  Daarom is mense ook maar, soos vandag, deur gewapende rowers en somtyds wilde diere oorval.  Mense het dikwels seergekry, hulle het gereeld sonsteek gekry van die warm son en die nagte was natuurlik angswekkend.  Behalwe vir die donker het die mense destyds geglo dat daar ’n verband tussen sekere siektes soos epilepsie en die fases van die maan bestaan.  Hulle het gepraat van maansiektes.  Die ou mense het geglo dat die duiwel in die maan die siekte veroorsaak.  So het hulle dan gedink dat hierdie siek mense, as gevolg van die maan, van die duiwels besete is.  Met ander woorde, om ’n pelgrim te wees, was gevaarlik.  Jy het eintlik jou lewe gewaag en jouself blootgestel aan al hierdie gevare as jy die Here se teenwoordigheid in Jerusalem sou wou gaan opsoek.   

Maar daar is twee woorde wat sentraal in hierdie Psalm uitstaan.  2 Begrippe wat pertinent beklemtoon word.  En dit is hulp en bewaar.  En dit was twee woorde wat soos ’n Redbull die pelgrims laat loop het selfs ten spyte van die gevare en die hartseer en teleurstelling wat hulle dikwels moes beleef.  En op ’n wonderlike manier word die grootheid van God en die hulp en beskerming van die Here in Ps 121 besing.  Eintlik word daar met God so bietjie gebrag, gespog.  Ons God is anders as die gode van die mense rondom ons.  Hy is nie net een van baie ander gode wat in die berge bly nie.  Hy is die Skeppergod, die Here van alles!  Ons God slaap nie, soos die mense gedink het van hulle eie gode, in die droë jare en word wakker wanneer dit reën nie.  Inteendeel, ons God raak nooit vaak of moeg nie.  Op ons pelgrimstog is Hy met elke tree wat ons gee wakker. 

En soos hulle geloop het, het die pelgrims mekaar aan God se beskerming herinner.  Hy is soos ’n stukkie skaduwee as die son jou sou brand, die maan met al sy gevreesde siektes sal jou nie kwaad aandoen nie.  Hy sal jou bewaar teen alle gevare.  Vers 5 staan daar letterlik: die Here is jou skaduwee aan jou regterhand.  Interessant, hulle het altyd hulle swaarde aan die linkerkant gedra.  So jou regterkant was oop, sou jy jou swaard trek.  Eintlik was jou regtersy ’n sagte teiken.  So God kom staan daar waar jy vunarable is.  Daar waar jy swak en hulpeloos is.  Daar waar jy ’n sagte teiken is.  Daar waar jy aangeval word.  Hy kom staan ook aan daardie kant om jou vriend te wees, jou regterhand te wees.  Die ou vertaling sê Hy sal jou siel beskerm.  Met ander woorde die Here se beskerming is vir nou, maar ook nie net vir nou nie, veral ook vir ewig! 

Ouens, die gevare van Ps 121 het vandag net ander name.   Party het selfs vir die afgelope paar duisend jaar nie verander nie.  Gevare het dalk net meer persoonlik geraak.  Jy is dalk nie bang vir rowers in die berge of vir maansiektes of sonsteek nie, maar jou bekommernisse is dalk meer subtiel weggesteek in die lewe en in jou omstandighede.  En weet julle, een van die basiese behoeftes van die mens is die behoefte aan beskerming.  Baie keer oorweldig goed ons so dat dit vir ons voel of ons net iewers heen wil hardloop waar dit veilig is, iewers wil gaan wegkruip waar daar rus en vrede en harmonie is.  Iewers waar alles net oraait gaan wees.  En dit is hierdie soeke na veiligheid en beskerming wat Ps 121 wil antwoord.    

Maar jy sien, hierdie is ’n pelgrimslied.  Want ons is pelgrims.  Ons kan nie vir altyd iewers wegkruip van die gevare en teleurstellings van die lewe nie.  Ons kan nie vir altyd in die hawe bly nie, want ons is gemaak vir die oop see.  ’n Gelowige se lewe ouens, dra ’n pelgrimskarakter.  Ons is geroep om te loop en nie geroep om weg te kruip nie.  Ons is geroep om agter Jesus aan te loop.  En omdat ons agter Jesus wil aanloop stel ons onsself daardeur juis bloot aan gevaar en teëspoed.  Want ons loop in die voetspore van Jesus wat juis sy lewe ter wille van ons op hierdie reis verloor het. 

Weet julle wat het Ps 121 my geleer.  Ons swaarkry vandag is nie uniek nie.  Ons gevare is nie so uniek nie.  Die berigte in die koerant is nie so uniek nie.  Ons hartseer en moedeloosheid en moegheid is nie so uniek nie.  Op ’n manier is dit maar deel van ’n pelgrim se lewe.  Dit was nog altyd en sal seker altyd wees.  Maar dan moet ons, terwyl ons loop, terwyl ons bang is, terwyl ons huil sing van die Here se beskerming!  Dan moet ons sing van sy skaduwee teen die warm son, dan moet ons sing van sy teenwoordigheid elke tree omdat Hy alles sien en altyd wakker is, dan moet ons terwyl ons loop sing van sy beskerming as Hy aan ons regterkant kom staan wanneer ons swak en hulpeloos is.  

Luister net gou weer na hierdie advertensie.  Daar is ’n punch line aan die einde:  “This is my life and I’m passing on the memories.”  Dis waaroor Ps 121 gaan.  Oor memories/ herinneringe van God se trou en beskerming wat aangepass moet word.  Dit is hoekom ons dit vandag, duisende jare na daardie pelgrims nog kan lees, want dit is aangepass. 

Ons is mense wat geroep is om te loop en nie weg te kruip nie.  Gewone mense wat ook siek en benoud en bang en teleurgesteld kan raak.  Mense wat ook bang raak vir goed wat ons in ons gedagtes fabriseer (soos die mense met die maansiektes) en wat nooit gebeur nie.  Ons is gewone mense wat somtyds moeg en moedeloos word.  Pelgrims wat baie keer bekommerd en half ongelowig selfs na die berge kyk, maar pelgrims met die memory dat die Here by hulle is! 

Hierdie liedjie is gereeld hardop gesing of gebid en dit was die manier hoe hulle die memories aangepass het.  Hoe hulle hulleself en mekaar aan God se beskerming herinner het.  Ek ken nie jou hart vanaand nie, ek weet nie waar jy op jou lewensreis is nie, maar môre moet jy weer verder loop en miskien het jy ook net vanaand maar weer nodig om te hoor, jou God is jou hulp en jou Bewaarder.  Hy sal jou beskerming waar jy ook al gaan, nou en vir altyd.  Dit is die memory wat die Here vanaand na jou toe aanpass.  Amen

Gebed:  Ek kyk op na die berge op my lewenspad: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?  Ek kyk in die geloof oor die berge, Here, na U wat hemel en aarde gemaak het.  Van U kom my hulp: ek sal nie struikel nie.  U beskerm my, U wat nooit insluimer of slaap nie.  U beskerm my teen alle gevare, U beskerm my bedags sowel as snags.  U beskerm my waar ek ook gaan, nou en vir altyd.