Speel liedjie: Billionaire van Travie Mccoy

I wanna be a billionaire.  I wanna be on the cover of Forbes magazine, smiling next to Oprah and the queen.  Every time I close my eyes I see my name in shiny lights.

Hierdie prentjies sê mos iets van die wêreld waarin ons leef!  Die wêreld van die lere!  Elkeen van ons is maar besig om ons kleim af te steek en ons lere op hierdie stukkie aarde te plant.  Ons lewenstaak of doelwit of droom is om op hierdie leer te probeer vorder tot die cover van Forbes of die lysie van biljoenêre.  Ek meen, dit is hoekom jy swot, om op die leer van bekwaamheid te vorder, om ’n werk te kry en in die ranks te klim, om ’n beter karretjie te kry as jou huidige studentemotor, ’n groter kamer as jou koshuiskamer, meer geld as wat jou studentelening kan gee.  So, in die wêreld van die lere wil die een natuurlik hoër klim as die ander.

En ons loer ook na mekaar né!  Ons kyk waar is die een voor my en hoe laag is die een onder my.  Ons het bepaalde idees en persepsies van mense hoër as ons.  Hulle is of grander of meer arrogant of werk harder of is gelukkiger mense.  Maar net so is ons ook veral uitgesproke oor hulle op die laer trappies. Hulle is of lui of ongelukkig of moet maar speel met die kaarte wat vir hulle uitgedeel is.

En julle moet my mooi verstaan vanaand, om ’n leer te plant is ook nie net sleg nie.  Ons moet mos ambisie en drome hê.  Want natuurlik is ons deel van die lewe van die lere waarmee die wêreld hom besig hou.  Maar weet julle wat is so ironies hiervan ouens, hierdie lere eindig nêrens.  Dit het nie ’n eindbestemming nie, jy gaan uiteindelik niks bereik nie.  So die hartseer is dat jy jou lewe lank lere kan plant en op die trappies op en af beweeg, maar eintlik nêrens eindig nie!  Niks bereik nie, niks daarvoor kry nie!  En op die ou einde niks het om daarvoor te wys nie, behalwe ’n paar ekstra plooie van bekommernis.

En nou kan jy sekerlik vanaand vir my sê: maar ek is nie so nie.  Kom ek vra vir jou: Is jy tevrede met die plek in jou lewe waar jy jouself vanaand bevind?  Is jy tevrede met hoe jy lyk, is jy tevrede met wat jy het, is jy tevrede met wat jy al bereik het, is jy tevrede met dit waarna jy oppad is?  Kan jy vanaand met eerlikheid sê, ek het vrede in my lewe?

Jy sien Dawid noem 3 dinge wat hom onrustig gemaak het in sy lewe.  En hy het hierdie drie dinge geïdentifiseer in sy lewe en dit uitgesorteer sodat hy vrede kon kry.  En as jy Psalm 131 anders om lees, kom jy agter dat dit wat hy moes uitsorteer alles met lere te doen gehad het.   Kom ons lees dit andersom:

Selfverheffing en hoogmoed is daar by my, Here. 

Ek maak my besorg oor groot dinge,

dinge wat bo my vermoë is. 

Ek kry nie rus en kalmte soos ’n kindjie by sy ma tevredenheid vind nie. 

So vind ek nie tevredenheid nie.   

Die drie dinge wat Dawid noem is baie duidelik in die letterlike vertaling:

  1. My hart is nie hoog nie
  2. My oë nie verhewe nie
  3. Ek wandel nie in groot dinge nie en ook nie in wonderwerke te groot vir my nie

As Dawid sê sy hart is nie hoog en sy oë nie verhewe nie, dan bedoel hy daardeur dat hy nie selfsugtig of jaloers is nie.  Ds Retief het vanmôre oor die hart gepreek en Martin Luther aangehaal wat gesê het: die mens se hart is ’n fabriek van afgode.  Want jy sien jou hart is natuurlik die broeiplek waar hierdie selfsugtige en  selfs jaloerse gevoelens gebore word.  En dit is wat vandag in die wêreld gebeur.  Travis Mccoy sing daarvan.  Dit gaan oor me, myself and I.  Jou wêreld word so groot soos jy is.  Dit draai later net om jou eie behoeftes, jou eie drome, jou eie ambisies.  Soveel so dat daar nie meer plek is vir ander mense, hulle drome of selfs gevoelens in jou lewe nie.  En sou jy iemand sien wat jou ego bedreig, wat meer of beter of groter as jy is, dan kyk jy met sulke groot jaloerse oë na hulle.  Want wat jy het, moet ek ook kry.  Hoë harte en verhewe oë!

En dit is wat Dawid sê: my hart is nie hoog nie, die wêreld draai nie net om my nie, ek is nie selfsugtig nie, en my oë is nie verhewe nie, ek is nie jaloers nie.  En dit hierdie uitkyk op die lewe het vir hom vrede en rustigheid gebring.  Jy sien, dit is anders as die ratrace van die lere.

Dawid sê ’n baie belangrike 3de ding.  Hy maak hom nie besorg oor goed wat groter is as hy nie.  Maw, hy worry nie oor goed waaraan hy niks kan doen nie!  Ouens, ons kan ons so bekommer oor goed waaraan ons niks kan doen nie, of wat buite ons vermoë is.  90% van die goed waaroor ons worry gebeur nooit nie.  Ons kan ons so bekommer oor goed dat ons nooit vandag lewe nie.  Ons spandeer vreeslik baie tyd aan goed wat regtig net nie nou op ons van toepassing is nie.  Byvoorbeeld, jy kan jou hele lewe lank daaroor bekommer en spook en spartel om ’n biljoenêr te word, maar ek kan vanaand help en vir jou sê, jy mors jou tyd, want jy gaan nie ‘n biljoenêr word nie!  Kom net oor dit!  Moenie dat dit jou besig hou nie!  Hoor julle ouens, baie keer maak ons onsself moeg en ontevrede met groot goed, dinge wat in die toekoms lê of goed waaraan ek bloot net niks kan doen nie.  En miskien moet ek en jy op die punt kom waarin ons vir onsself vra, maar wat is die goed waaroor ek my bekommer wat ek eintlik niks aan kan doen nie!   Wat my nie vandag raak of beïnvloed nie.

Jy sien, Dawid het in sy lewe vrede en rustigheid ervaar omdat hy hierdie drie goed uitgesorteer het.  Sy ego, sy jaloesie en sy sorge.  Hoor mooi, hy het dit uitgesorteer.  Hierdie vrede het nie outomaties gekom nie, dit was ’n wilsbesluit.  Dit is iets waaraan hy moes werk, wat hy moes inoefen om reg te kry.

Hy moes dit inoefen om vrede te kry in ‘n wêreld van die lere na nêrens.  En dit is ’n ander vrede as wat ’n vakansie of ’n pakkie prozaks vir jou bring.  Dit is ’n vrede by God omdat die lewe in die Here se teenwoordigheid ’n ander betekenis kry.  En juis dit was Dawid se antwoord.  Om vrede vandag te hê moet jy jouself gedurig herinner aan wie God is.

Dawid sien God as sy ma.  Dit is nogal ‘n vreemde beeld van God.  God is gewoonlik ons Pa, sterk en standvastig, maar God as ons Ma, klink bietjie vreemd.  Hy gebruik die beeld van ‘n ma en haar baba.  Ek onthou so goed ons babatjies.  Toe hulle klein was en bottel moes kry is daar hierdie angstigheid op hulle gesiggies as jy met die bottel nader kom.  Hulle mondjie trek snaaks en as hulle nie vinnig genoeg melk kry nie skree hulle blou moord van angstigheid.  Maar die oomblik as hulle die bottel kry daal daar hierdie vrede neer.  Vrede van ’n ma wat by hulle is, by wie hulle kan ontspan en rustig wees.  ’n Ma wat vir hulle sorg en nie sal toelaat dat hulle swaarkry of hongerkry nie.  Dis wat Dawid sê.

God is ons moeder.  In hierdie wêreld vol angstigheid en bekommernis oor ’n klomp dinge, is hy rustig.  Want sy sorg vir hom.  Op haar skoot maak die lewe sin, want ten minste eindig dit êrens.  Dit het ’n ander, dieper betekenis.  Dit gaan nie oor hoog- hoër- hoogste nie, maar oor die vrede en die geluk van die hier en die nou omdat jy nou op God se skoot kan ontspan.  En ouens ek dink ons het ’n ander ingesteldheid teenoor die lewe nodig.  Ek dink ons het nodig om vandag gelukkig te wees, vandag te lewe, vandag te geniet, en nie net altyd te wag vir eendag iewers op ’n volgende trappie nie.

Ouens, miskien moet ek en jy gaan dink of ons nie ook maar vasgevang is op hierdie leer na nêrens nie.  Wat maak die lewe vir jou betekenisvol?  Waaroor bekommer jy jou?   Weet jy, hierdie Psalm het vir my persoonlik een ding weer kom leer.  Ek gaan probeer om my nie meer te bekommer oor goed waaraan ek niks kan doen nie.  Ek wil nie meer worry oor goed wat bo my vermoë is nie.  Ek wil net vandag dankie sê dat ek op God se skoot kan sit, dat Hy my vashou, dat Hy elke dag vir my sorg.  Hy sal ook môre en oormôre sorg, maar oormôre is iets waaroor Hy nie eers worry nie, hoekom sal ek dan?

Miskien is daar goed wat jou ook onrustig maak.  Miskien is jy onrustig oor jou studies of waar jy gaan werk of hoe die toekoms lyk.  Miskien is daar ’n stuk hulpeloosheid oor ’n situasie in jou lewe.  Dawid sê hy het geleer om homself op God se skoot te sien sit en om hom nie daaroor te bekommer nie.  Hy ervaar rus en vrede omdat hy homself gedurig herinner: Hy versorg my elke dag, Hy hou my vas, hy het my lief, nie net nou nie, maar vir altyd.

Moenie eendag wakker skrik en agterkom: ek het my lewe om gespook op hierdie leer na nêrens!  Kom ons leer eerder soos Dawid : Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is.  Ek het rus en kalmte gevind.  Amen