Picture1André Oosthuizen     andrej@webafrica.org.za

Deesdae kry jy die wonderlike nuwe ontwikkeling dat motors self kan bestuur.  Jy tik eenvoudig die eindbestemming in en sit rustig agteroor terwyl die motor self ry tot waar jy wil wees.  My skoonpa se nuwe motor kan byvoorbeeld self parkeer.  Nou die dag het ek hierdie funksie so bietjie getoets met ’n parallel-parkering.  Jy trek langs die parkeerplek in en dan meet en pas al die rekenaars die spasie.  As jy die knoppie gedruk het doen die rekenaar self die parallel-parkering.  Maar dis nogal vreesaanjaend die eerste keer om jou hande te vou en te sien hoe die stuurwiel draai en jy dan nie beheer daaroor het nie.

Jy sien, party mense dink dit is hoe God hulle lewe beheer.  Jy sit op die bestuurdersitplek, maar jou hande is gevou en God draai die stuurwiel.  Hy besluit waarnatoe jy oppad is en jy het nie eintlik ’n sê of ’n keuse in hierdie hele storie nie?  Jou lewe is op autopilot.  Alles wat met jou gaan gebeur is vooraf geprogrammeer en niks wat jy doen maak eintlik saak nie, want God draai die stuurwiel en ek is ’n pasasier in my eie lewe en die kar gaan eendag stop by die strepie wat God getrek het.

En as jou strepie getrek is is hy getrek.  As ek vandag moet doodgaan sal ek doodgaan, dit is nie in my hande nie.  Ek het al party ouens dit hoor sê en vreeslik roekelose en onverantwoordelike goed sien doen omdat hulle sê as jou strepie getrek is is hy getrek.  (Ek kom netnou hiernatoe terug)

Maar dan kom daar tye in ’n mens se lewe wanneer die autopilot gedagte en die strepie nie sin maak nie.  En weet jy wanneer is dit?  Die dag wanneer iets in jou lewe gebeur wat nie vir jou lekker is nie.  Hartseer, teleurstellings, die dood.  Dit is dan wanneer hierdie autopilot -geloof skielik geloofsworstelinge word.  Hoekom verongeluk my lewe as God dan die stuurwiel het?  Hoekom beland ek op plekke waar ek nie wil wees nie?  Hoekom verdwaal ek soos die verlore seun en eindig in ’n put soos Josef as God dan die stuurwiel het?  Dit is dan wanneer mense vra of God regtig lief is, of God regtig in beheer is en of Hy nie partykeer so rukkie aan die slaap raak agter die stuurwiel in my lewe nie?

En Psalm 139 leer ons dat God nie slaap nie!  Inteendeel, God is ten volle teenwoordig in jou lewe.  So nou by jou betrokke dat Hy selfs jou gedagtes sien.

Luister hoe goed ken God jou.

Maar God se teenwoordigheid vra gehoorsaamheid.

Maar ouens toe die Here vir Adam en Eva gemaak het, het Hy hulle gemaak met ’n vrye wil.  Met ander woorde, God het die mens gemaak om self te kies.  Hoekom?  Want Hy wil hê ons moet reg kies.  Hy wil hê ons moet vir Hom kies.  Hy wil hê ons moet self die keuse maak om aan Hom gehoorsaam te wees.  Hy wil hê ons moet die lewe kies bo die sonde!  Met ander woorde ouens, jy het die stuurwiel van jou lewe!  Jy is in beheer van jou lewe en  jou keuses beinvloed jou lewe.

Ja, jy het die Woord en die Heilige Gees om jou te lei, om jou te help, om vir jou op die pad te hou, maar as jy die stuurwiel draai waar jy nie heen moet gaan nie, gaan jy ’n ongeluk maak!  En wie se skuld is dit dan?  God se skuld?  Nee, jou eie!  Jy kan die Woord en die Gees hê, maar as jy nie gehoorsaam is nie, as jy na die sonde luister kan jy die pad lelik byster raak!  Daarom, om God se seën en sy beskerming te geniet moet ons gehoorsaam wees.  Dit vra van my iets, dit vra ’n gehoorsaamheid aan God in alles wat ek doen, ook die keuses wat ek maak.

En daar was ’n oomblik in my eie lewe toe ek besef het, God is by ons, Hy lei ons, Hy ken ons, Hy wil die beste vir ons hê, maar dan moet ons gehoorsaam wees om dit te ontvang.

Ek moes in my eerste gemeente ’n outjie begrawe wat met sy motorfiets verongeluk het.  Hy het teen meer as 120km/uur gery in ‘n 60km/uur sone en toe verongeluk.  Op sy begrafnisbrief staan daar toe: Dit was die wil van die Here om van ons af weg te neem…  Ek het na die tyd die begrafnisondernemer gaan sien oor die brief.

Want ouens, ek kon nie glo dit was die wil van die Here dat iemand teen 120km/uur in ’n woonbuurt ry nie?  Sy ongehoorsaam en sy onverskillig het sy lewe gekos!  As gevolg van sy ongehoorsaamheid het daar iets slegs met hom gebeur.  Sy eie keuse het gemaak dat hy verongeluk het.  Dit was nie God se skuld nie!  Dit was nie God wat aan die slaap geraak het nie.  Jy sien, jou keuses kan jou buite God se plan of buite God se wil vir jou lewe sit as jy ongehoorsaam is.  Jou ongehoorsame keuses of die ongehoorsame keuses van mense rondom jou kan maak dat jy op plekke beland waar jy nie wil wees nie, waar jy nie moet wees nie, waar God nie wil hê jy moet wees nie, nes die verlore seun.

En daarom bid Dawid in vers 23: “deurgrond my hart ondersoek my en kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad.”

Here, help my om gehoorsaam te bly lewe.  Here, kyk of ek op die verkeerde pad is.  Kyk of ek nie dalk besig is om droog te maak en verkeerd te kies en verkeerd af te draai nie.  Want ek wil binne U wil lewe.  Ouens, om God se teenwoordigheid en God se seën op jou lewe te ervaar, ook in die keuses wat jy moet maak, vra gehoorsaamheid.

Ja, somtyds maak ons droog.  Ander kere kies ons verkeerd.  Ons is almal mense wat somtyds sukkel om die goeie wat ons wil doen te doen en die slegte wat ons nie wil doen nie te laat staan.  En genadiglik is God genadig.  Hy kan ons selfs op ’n afdraaipaadjie gaan haal en terugbring.  Hy kan verkeerde keuses vergewe en oor begin.  Want ons lees in Ps 139 dat Hy in beheer is.  Ja, ons eie keuses beinvloed ons lewe, maar God bly in beheer en Hy sal ons altyd by die bestemming uitbring.

Ons lees in vers 3: “Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.

Toe ek hierdie vers oortik het ek ’n tikfout gemaak.  Ek het getik, U is met al my paaie Godbekend.  En weet jy, hierdie tikfout was vir my vreeslik mooi!  Want dit het vir my die antwoord gegee op God se leiding in my lewe.  Al my paaie is Godbekend.  Met ander woorde, God is bekend met my lewe!  Daar is nie ’n plek waar ek kan wees of waar ek my mag bevind waar God nie is nie!  En jy moet dit hoor vanaand.  God ken jou.  Hy weet waaraan jy dink, Hy weet wat jy nodig het, Hy weet wat jou bekommer, Hy weet waaroor jy wonder, Hy weet waaroor jy moet besluit.  En Hy sê in sy Woord Hy sal alles ten goede vir jou laat meewerk wat Hom liefhet.

Maar dan moet jou lewenspad Godbekend wees.  Jy moet God daarin ken en in gehoorsaamheid aan Hom optree.

Ek het ’n lewensmotto en dit is dat elke besluit wat in afhanklikheid van die Here geneem word is ’n goeie besluit.  God sal daardie besluit seën omdat ek Hom daarin geken het.  En as jy God in jou besluite ken, dan sal jou paaie gevolglik Godbekend wees.  Hy sal saam met jou loop en Hy sal alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Hy sal jou by die regte bestemming bring.

Jou lewe is nie op autopilot nie.  Elke keuse wat jy maak beinvloed jou lewe.  Jou lewe is nie vooraf geprogrammeer nie, want God wil saam met jou loop.  Hy wil saam met jou kies.  Hy wil in ’n verhouding met jou lewe.  Hy wil hê jy moet Hom ken, Hom kies, Hom vra.  Hy wil intiem deel wees van jou lewe.  En elke tree, elke keuse in gehoorsame afhanklikheid van die Here sal vir jou seën bring.   Amen

Gebed:

Hiskia se lewe is met 15 jaar verleng.  God se plan verander in sy lewe.  Ons gebed kan God van plan laat verander! Jy gaan nog baie keuses moet maak in jou lewe.  Keuses vir ’n lewensmaat, keuses vir beroep, keuses vir bevordering, keuses vir wat jy moet koop en waar jy moet gaan bly.  Hierdie keuses is jou keuse.  God het vir jou verstand en oordeelsvermoë gegee.  Jy moet God daarin ken.  En die keuse wat jy maak moet die toets van gehoorsaamheid slaag.