SKRIFLESING: Jes 62

Ons praat vandag oor roeping.
Aanvanklik was die sogenaamde visie-en missiestellings net op besighede en organisasies van toepassing. Dit moes vertel waarom die maatskappy daar is en waarheen hulle op pad is.
Coca-Cola s’n is byvoorbeeld: “To refresh the world.
To inspire moments of optimism and happiness.
To create value and make a difference.”

Stephen Covey het dit van toepassing gemaak op mense se persoonlike lewe as hulle ‘PMS’ (“personal mission statement”). Dis eintlik net ’n manier om te help dat jy jou lewe lei volgens jou diepste waardes, prioriteite en passies. Dis om jou doel of roeping te formuleer. Dit verander ook met die jare soos jou prioriteite skuif.

Deesdae praat hul van IRI’.
‘IRI’ is my Intensionele Roepings Impak….
• Intensioneel, want ek kies dit voortdurend omdat ek dink dis wat God vir my bedoel het.
• Roeping, omdat ek beleef God roep my om dit te doen.
• En Impak, omdat ons ‘n verskil kan maak. En Stephan Joubert herinner ons dat die lewe nie soseer oor sukses as die “lang-y-goed” gaan nie (waarin jy ry, waar jy bly, of wat jy kry). Dit gaan veeleer oor impak as ’n lang lewe van diens.

Maar Jesaja gee vir ons ‘n nuwe visie op ons roeping as gelowiges.
En ek hoop dat jy Jes 62 byderhand sal hou as jy eendag doelbewus jou PMS of IRI op skrif gaan stel.
En al doen jy dit nie bewustelik nie, moet jy luister hoe die Here sy kinders geroep het in hul eie konteks van 500 vC.

Ons weet nou al dat Trito Jesaja praat met ‘n klomp teleurgestelde en moedeloos mense.
Hulle is terug in Jerusalem na die ballingskap.
Maar, o aarde!: Die puinhope en ruϊnes is net te erg!
Hulle het wonderlike drome vir hul land gehad, maar die uitdagings en teleurstellings het hul in depressie gedompel.

En juis om hierdie rede is hierdie Trito-Jesaja ook vir ons relevant.
Ons het ook mooi verwagtinge van die Nuwe SA gehad, maar die situasie laat ons moedeloos en depressief.

En dit is wanneer ons vra: Wat staan ons te doen as gelowiges?
Wonder jy ook daaroor?
Wat moet ons vanuit ons roeping as gelowiges intensioneel doen om ‘n betekenisvolle impak te maak? (Die IRI.)

Moet ons toi-toi, stadsale afbrand of wat?

Die eerste wat ons moet doen, is om ons Bybel te lees om iets van God te ontdek.
Want dit is belangrik om te weet hoe God oor ons dink en hoe God or ons voel.

Jes 62 vertel van ‘n God wat groot en mooi drome oor ons en ons omgewing droom.
So het God ook oor Jerusalem met al sy ruϊnes gevoel.

En dan begin Jesaja ‘n lang lys van God se beloftes in te ryg.
Dit is God se beloftes van hoop en ‘n nuwe toekoms vir die volk sonder hoop.

In die eerste 9 verse lees ek 14 keer die woordjie “sal”.

Dit is alles beloftes – waartoe God Homself verbind om die volk te seën.
Daar is beloftes van sorg, seën, veiligheid, beskerming, eer…

Luister bv na die mooi beeld wat iets uitdruk van die Here se toekomstige trots op sy volk:
“Die Here sal jou soos ‘n sierlike kroon in sy hand hou, jou God sal jou soos ‘n koninklike tulband vashou.” (:3)
Dit is so ‘n ryk beeld.
Dit vat die oosterse kultuur en die meer westerse kultuur raak.
Die westerse koning dra ‘n kroon vol edelstene.
Die oosterse sultan dra ‘n tulband vol edelstene.

Dit is die koning se trots. Hy spog met sy heerser-simbool. Hy geniet die kroon in sy hand.
Terselfdertyd vertel die kroon iets van die person in wie se hand dit is.
“My eienaar is die koning! En ek is sy trots.”
“En ek weet boonop – ek is in sy hand. Veilig!”

Het jy al gedink dat God so na jou kan kyk?
Dat God trots kan wees op jou?
Dat jy ‘n getuienis kan wees oor jou God se koningskap?
En dat jy boonop baie veilig kan wees in Sy hand?

En dan doen Trito-Jesaja verder baie moeite met naamgewing (by herhaling):

Met ‘n nuwe naam bevestig God sy kinders se nuwe identiteit asook hul nuwe situasie wat Hy besig is om te skep.

Jy sal nie meer die verstote vrou genoem word nie, en jou land nie meer die een wat verlate lê nie. Jy sal genoem word:
“Die een vir wie die Here liefhet,”
en jou land: “Die een wat aan die Here behoort.”
Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom. (:4)

En dan bou Jesaja voort op die beeld van ‘n huwelik met intieme verhoudings wat besig is om tot stand te kom.

Aan die einde van die hoofstuk bring Jesaja nog nuwe name vir volk en stad by:
Hulle sal genoem word: “Gewyde volk, volk wat deur die Here verlos is.”
En jy, Jerusalem, sal genoem word: “Gewilde stad, stad wat nie verlate lê nie.” (:12)

Dit alles in Jes 62 net om te bevestig hoe God oor sy moedeloos ballinge voel met hul verwoeste ou landjie.

En ek weet dat God met net soveel deernis na ons en ons Nuwe SA kyk.

Hy wil vir ons mooier en beter gee. Want Hy is besorg or ons.
Trouens, Hy is besig om reddend nader te staan om die nuutheid te waarborg.

Maar waar kom ons nou in?
Gaan God alles alleen doen?
Het ons as gelowiges ‘n roeping in SA waar daar heropbou moet plaasvind?

Dit lyk vir my of Jes 62 praat van drie dinge wat gelowiges doelbewus/intensioneel moet doen.
Dit is ons betrokkenheid by God se “heropbou en ontwikkelingsplan”.
So bietjie in breër terme wat ons elkeen kreatief sal moet inkleur:

1. Bid volhardend.
2. Maak pad vir mense.
3. Waai baniere vir mense om te sien.

1. Bid volhardend.

Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem, hulle sal dag en nag roep. Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het, totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het. (:6, 7)

Wat doen ‘n wag?
Hy staan op die muur van die stad en hy skree kort-kort vir die mense in die stad. Hy vertel vir hulle wat buite aan die gebeur is.

‘n Voorbidder kyk egter ander kant toe. Die voorbidder is ‘n wag wat op die stadsmuur staan en vir God vertel van al die hartseer wat hy in die stad sien.
Maar die voorbidder dra nie net stories nie.
Hy ken vir God. En hy ken God se beloftes. En hy herinner God die heeltyd aan Sy beloftes.
“Here, ons onthou dat U beloof het dat U vir ons sal sorg. Maar Here, hier is droogte, die landerye verdor. Help tog!”
of
“Here, U het beloof dat U die stad sal herstel. Here, maar van waar ons staan, sien ons net ruϊnes. En dit lyk of dit meer word. Help tog, Here!”

Dit is ons voorbiddersrol.
Bly pleit.
Bly staan op die Here se beloftes.

2. Maak pad vir mense.

Gaan uit, gaan uit by die poorte, maak die pad gereed vir die volk! Vul die grootpad op, vul dit op! Vat weg die klippe! (:10)

Mense is heeltyd op reis. Mense reis na hul werk toe om te gaan dien , na hul families toe om te gaan kuier, na siekes toe om te gaan vertroos, na moedeloses toe om te gaan bemoedig.

Maar al hierdie reise is uitdagend as die paaie vol slaggate en klippe is.

Hierdie teks roep ons op om mense te help.
Om vir hulle te help om makliker te reis. Te leef. Hul roepings uit te leef.
Dat elkeen sy IRI (Intensionele Roepings Impak) kan gaan doen!

Ek dink ons groot uitdaging is om weg te kyk van onsself en ander mense met hul uitdagings raak te sien.
En dan, om te gaan help. Dit is die tweede liefdesgebod!

As jy op jou voorbiddingsmuur gaan staan vanaand, dan gaan die Here vir jou verskillende mense wys wie se paaie moeilik is.

Laat ons mekaar en die gemeenskap help om rommel en klippe uit ons paaie uit te kry.

3. Waai baniere vir alle mense – om te sien.

Steek ‘n banier op dat die volke dit kan sien! Die Here kondig dwarsoor die wêreld aan: “Sê vir Sion: Hy wat jou red, kom! Sy volk wat Hy Syne gemaak het, is by Hom, dié wat aan Hom behoort, loop voor Hom uit.” (:10, 11)

Wat sal vir hierdie wye wêreld hoop gee?
As hulle kan weet dat God nie ver weg is nie.
As hulle hoor dat God, die Redder naby aan hulle is.”

En dit is ons roeping om hierdie boodskap uit te dra.

Ds Bertie het verlede week vertel van die gebruik by Buckingham Paleis.
As die koning (of koningin) tuis is, dan wapper die koningshuis se vlag bo die paleis.
En almal kan dit sien.
(As die koning weg is, oorsee, dan wappel die gewone landsvlag daar.)

Die volkere het nodig om te weet dat God nie ver weg is nie.
Hy is naby. Hy is die Redder wat net ‘n roep ver is.

En dit is die vlag wat ek en jy oor die wêreld moet waai.
Dit is ons getuienis.
Dit sal ander laat hoop kry.
Dit kan maak dat ander ook vir God begin vertrou vir hulle eie puinhope en uitdagings.

Ek sluit af:

Die Koning is hier! Nie ver weg nie!

Jes 62 vertel vir ons hoe Hy oor ons en ons versorging droom. Hy maak selfs beloftes oor ons ruϊnes. En hy is reeds besig met die heropbou.

Ons is egter betrokke daarby.

Ons het elkeen ‘n intensionele roepings-impak om te gaan uitvoer.

Deel daarvan is:
• Herinner God biddend aan Sy beloftes
• Maak vir mense ongelyk paaie gelyk.
• Gaan wapper die vlag van die Redder-God dat ander dit kan sien en kan moed skep.

Moenie nes skrop tussen die moedeloos ruϊnes nie.
Amen