Daar word weekliks ongeveer ‘n 1000 slaggate gerapporteer in Johannesburg alleen. Blykbaar maak die stad tot 4,500 slaggate per maand reg! Kaapstad spandeer meer as R110 miljoen per jaar om sowat 250 slaggate per week reg te maak. Bloemfontein se statistiek is maklik. Ons munisipaliteit maak nie slaggate reg nie. Hulle gebruik die geld om asbesdakke te tel en melkkoeie te voer!

Slaggate is deel van ons daaglikse lewe. Ons praat daaroor, ons kla daaroor, ons probeer dit vermy, ry rondom dit en swaai daarvoor uit. Maar partykeer ry jy ‘n onverwagse gat raak. Dan ruk en skud jou motor en somtyds los dit jou met ‘n pap wiel.

As 2020 ‘n pad was, was dit ‘n slaggat (jy kan die 2 woorde omruil vir ‘n nog beter beskrywing van die jaar!). ‘n Slaggat wat niemand kon voorspel of vooraf raakgesien het nie. Net toe ons mooi op spoed kom tref ons ‘n gat wat die wêreld laat stilstaan.

En ons was op ‘n slegte stukkie pad die afgelope paar maande. Miskien is die pad vir jou vanmôre nog nie heeltemal ‘n gerieflike snelweg nie. Ons ken slaggate. Ons ervaar die slaggate van verlies en teleurstelling, slaggate van bekommernis en vrees.

Ek wil Psalm 143 vanmôre ‘n slaggat psalm noem, want hier deel Dawid sy emosies met ons. Die emosie van sy eie slaggat-ervaring toe die lewe vir hom ook tot stilstand gekom het. Hy beskryf hierdie slaggat met woorde soos: ek voel in ‘n donker put, sielsmoeg, gedaan, verslae en moedeloos. Miskien is dit woorde wat beskryf hoe jy somtyds voel.

En die Psalms help ons om emosies te verwoord. Dit is waarom ons aanklank vind by die Psalms as ons swaarkry, want ons het nie altyd die woorde om te sê hoe ons voel nie!  Psalms gee woorde aan emosie.

En hier erken Dawid dat hy emosioneel swaarkry en gedreineer is. En weet jy, erkenning is die eerste stap tot genesing. Hy sê in vers 6: my siel is moeg. My gees is gedaan!  Liewe kind van die Here, dit is nie ‘n skande om te sê jy is moeg of selfs gedaan nie! Dit is nie ‘n teken van swakheid as jy emosioneel gedreineer is nie.

Inteendeel, dit is geestelik en emosioneel volwasse om te erken dat jy emosioneel swaar kry! Een van die grootste struikelblokke in ons emosionele gesondheid is ontkenning. Ons erken te moeilik dat ons swaarkry. Ons probeer dit wegsteek of dit weg praat of dit selfs weg werk. Solank niemand net sien ek kry swaar nie! Maar in psalm 143 is Dawid totaal in voeling met sy eie emosies. Daarom roep hy in vers 10 dat die goeie Gees van God tog net sy moeë gees sal verfris en vernuwe!

En liewe kind van die Here, dit is wat die goeie Gees van God, die Heilige Gees vir jou wil doen vanmôre. Die Heilige Gees wil jou moeë gees verfris. Ek weet hier sit vanmôre baie emosioneel gedreineerde mense. Ek praat met hulle, ek besoek van hulle. Ek sien dat die jaar sy tol geëis het. Maar ons moet nou saam deur die slaggat kom.

En die manier hoe die Heilige Gees jou ondersteun is nie om jou tydelik emosioneel op te wek nie. Hy vat jou nie vinnig van ‘n laagtepunt na ‘n hoogtepunt nie. Hy verkwik jou siel soos Ps 23 sê, deur jou te wys wie God is! Want dit is wat jy nodig het! Jy moet God sien! Dit is hoekom ons mekaar nodig het, om God vir mekaar uit te wys. En dit is die primêre werk van die Heilige Gees om God vir jou te wys!

Toe die dissipels emosioneel raak oor Jesus wat weggaan, en bekommerd is oor wat van hulle gaan word, en voel soos weeskinders, sê Jesus in Joh. 14:26: die Heilige Gees sal by julle wees en die Heilige Gees sal julle bemoedig (HOE?) deur julle te leer en te herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het! Die oomblik as die Heilige Gees jou wys en herinner wie God is, orden Hy jou gedagtes en deurmekaar emosies en sit Hy jou voete op vaste geloofsgrond.

En as die Heilige Gees jou vanmôre verkwik, is daar is 3 behandelings wat Hy jou wil gee om jou geestelik en emosioneel te verfris. Dis die hart-siel-verstand behandeling. En as jy hierdie behandeling ontvang sal jy beter voel. En ons kry dit alles in Ps 143.

  1. Jou hart (wil)

Die Heilige Gees kom raak eerstens jou hart aan. Jou hart is die setel van jou lewe. Dit is jou wil om te lewe, jou wil om in die môre op te staa. En as jy vanmôre te moeg is om op te staan, en as jy nie meer kans sien vir die lewe nie, nie kans sien om aan te gaan nie, dan bid ek nou dat die Gees jou die wil sal gee om op te staan! En ek bid dat Hy dit elke oggend sal doen!

Want dit is wat Dawid bid in vers 8: “Laat my elke môre u liefde ondervind.” Liewe kind van die Here, die rede waarom jy hier is, die rede waarom jy lewe, die rede waarom jy asem haal, is omdat God jou lief het! Die woord wat hier met liefde vertaal word is hesed. Ons het nie eintlik ‘n regte vertaling daarvoor nie, maar die engels kom dalk die naaste met lovingkindness. God se liefde is ‘n lovingkindness. Dit is ‘n liefde wat versorg, wat jou omvou, ‘n liefde wat jou optel, ‘n liefde wat jou bemoedig, liefde wat jou krag gee. ‘n Liefde wat jou nooit in die steek sal laat of in ‘n gat sal los nie.

Mag die Here jou elke môre wakker maak met ‘n herinnering aan sy hesed, lovingkindness!

  1. Jou siel (gevoel/emosies)

God se beskerming (v9)

Die tweede behandeling wat die Heilige Gees gee raak jou emosies direk. As daar nou een ding is wat die Here wil hê jy moet voel, is dit sy beskerming. Hy wil hê jy moet by Hom veilig voel. Beskerming, sekuriteit, veiligheid, geborgenheid is een van die basiese lewensbehoeftes wat die Heilige Gees kom aanspreek.

In vers 9 sê Dawid dat hy by die Here skuil. Letterlik staan daar, ek steek myself weg in U. Die gedagte is hier van ‘n grot of ‘n gat waarin God jou wegsteek, waar niks of niemand by jou kan kom om jou seer te maak nie. ‘n Plek waar jy totaal en al veilig is. Dit is wie God is! Hy is die grot waar niemand kan kom nie. En weet jy, die potholes van die lewe is ideale wegsteekplekke vir God. Eintlik omskep God potholes in grotte. Potholes word die tye en geleenthede in jou lewe waarin God jou op ‘n spesiale manier wegsteek en beskerm. Ek sien die beeld van ‘n kind wat in haar pa se arms aan die slaap kan raak. Dis die gevoel van lovingkindness en beskerming. Die wete, hier is ek veilig, niks sal my uit God se hand ruk nie. Dit is die plek waar jy nou is. Jy is nie uitgelewer aan die wêreld nie, jy sit op God se skoot!

  1. Verstand (denke)

God se leiding elke dag (v8)

Die derde behandeling raak ons verstand of denke. Want jy sien, emosionele moegheid beïnvloed jou denke. Dit beïnvloed hoe jy dink oor jouself, hoe jy oor ander dink, maar veral hoe jy oor die lewe dink.

En wat ons veral emosioneel uitput, en ons beleef dit in hierdie tyd, is onsekerheid. Ons kan ure wakker lê omdat ons dink oor die onsekerheid waarin ons vasgevang is. En hierdie onsekerheid maak ons moeg. Maar ook dit wil die Heilige Gees verander!

Dawid bid in vers 8: “Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.”

Liewe kind van die Here Jesus, al is dinge in jou lewe nou deurmekaar en weet jy nie waarheen nie, kom herinner die Gees van God jou dat jy nie sonder rigting is nie! Want solank as wat jy saam met God loop, langs God loop, agter God aanloop, kan jy weet, jy loop jy in die regte rigting! God sal jou bring op die plek waar Hy jou wil hê! Ja, dit maak dalk nie nou sin nie, dit vat dalk langer, die pad lyk anders, dinge werk dalk nie soos jy gedink het nie, maar die Heilige Gees is besig om jou te lei tot by groen weivelde en waters waar daar rus is. Jy kan dit glo! Haal asem, ontspan, hou net aan loop saam met God! Jy sal daar kom!

Slot:

As 2020 ‘n pad was, was dit ‘n pothole. Maar daar bestaan nie paaie sonder opdraendes en afdraendes nie. Slaggate, groot of klein, lank of kort is deel van die lewe. Ja, dit ontstel ons. Dit maak ons moeg en emosioneel. Maar God gebruik die potholes as geleenthede om ons te versorg en te verkwik.

En sou jy vanmôre in jou truspieëltjie kyk, sal jy talle potholes sien waardeur jy al is. En, op ‘n vreemde manier sal die pad in jou truspieëltjie gelyk lyk, want God het die potholes opgevul soos Hy beloof het! Ja, die merke waar die gate was, sal jy steeds daar sien. Maar daardie merke word die monumente wat jou aan God herinner en jou krag gee vir pad wat voorlê.

Kinders van die Here, ons sal 2020 ook in die truspieëltjie sien en dan, soos Dawid, dankie sê dat die goeie Gees van God die pad vir ons gelyk gemaak het. Staan op, lig jou kop op en hou net aan loop saam met God. Amen

 

Gebed