“All for one and one for all” is bekend as die motto van die Drie Musketeers uit die 19de eeuse boek van Alexander Dumas met dieselfde naam.

Hierdie slagspreuk was die leuse wat hierdie “musketeers” aan mekaar gebind het met ‘n gemeenskaplike doel. Hulle help mekaar ook en hulle sien om na mekaar.  Miskien ken ons ouer mense die leuse die beste nav die kinderweergawe van Brakkenjan.

Iemand beskryf die betekenis van hierdie motto soos volg:
“All the members of a group support each of the individual members, and the individual members pledge to support the group.”

Ons is ook as geloofsgemeenskap vir mekaar gegee om mekaar te bemoedig en te versorg – veral in die gemeente.
Daarom is vandag ’n besonderse dag waar ons ’n beroep op elke lidmaat moet doen om mee te werk daaraan om nog groter betrokkenheid by mekaar te bewerk.
Maar kom ons lees een van die kosbaarste gedeeltes wat direk hiermee in verband staan:

Lees die teks van Mark 2:1-12
Ek lees van ’n berig in ’n Miami koerant waar verhaal word van ’n vrou na 7 jaar dood gekry is in haar bed. Dit is in ’n voorstedelike kompleks. Toe familie later jare oorweeg het om die meenthuis te verkoop het hul toegang tot die perseel gekry – en daar die oorskot van die vrou in die bed gevind!
Na sewe jaar!
En jy vra jouself af: Hoe is so iets moontlik?
Hoe kan dit gebeur dat bure en familie vir sewe jaar ’n persoon nie gemis het nie?
Of dat hulle nie moeite gedoen het om kontak te maak nie?
Is dit moontlik dat mense so by mekaar kan verby leef?

En nou weet ons ook dat elkeen van ons op een of ander wyse, en een of ander tyd, meer afhanklik is van ander mense. Ons het soms mekaar se bemoediging en sorg nodig.
Ons kom maar nie altyd goed op ons eie reg nie.
Al probeer ons dit ook hoe dapper bewys.

Die vreemde ding is ook dat ’n mens soms eensaam kan wees,
selfs al sit jy tussen 50 000 mense op ’n stadion.
Tussen so baie mense kan jy steeds iemand se liefde nader aan jou nodig hê.

En party mense het baie ander naby hulle.
Maar party het nie baie mense wat vir hul kan omgee nie.

Markus 2 se verhaal van die verlamde man is vir my so ongelooflik aangrypend.

Dit vertel van iemand wat wel ander se sorg ontdek.
Hierdie man ontdek liefde en sorg op drie vlakke:

• Hy het iemand nodig gehad om hom fisies na Jesus toe te dra.
• Hy het Jesus se vergifnis nodig gehad.
• Hy het Jesus se genesing nodig gehad.

Ons sien hierdie man wat in sy wanhoop en desperaatheid by die huis lê.
Hy is fisies verlam. Hy kan nie loop nie.
Hy het nie eers ’n manier om op sy eie by die dokter/Dokter uit te kom nie.
Hy het ook nie ’n rolstoel nie en hy het ook nie ’n battery-aangedrewe gholfkarretjie nie.
Maar gelukkig het hy vriende.
Hy het vriende wat vir hom omgee.
Hulle soek saam met hom na oplossings.
Hulle is saam met hom moedeloos en desperaat.

Hulle hoor van die Groot Geneesheer met die naam Jesus en hulle begin hoop kry vir hierdie vriend van hulle.
En hulle het genoeg van Jesus se wondergenesings gesien dat hulle glo dat Jesus kan help!
En daar en dan besluit hulle: Vandag (!) dra ons vir ou Lammie na hierdie Jesus toe!

Sy hele leefwêreld was waarskynlik hierdie vierkantige draagbaar van twee takke en ’n stuk lap waarmee ander hom elke dag moes ronddra.
Die 4 vriende gryp die draagbaar en hulle stap doelbewus na die huis waar Jesus is.
Maar, o aarde! Soos gewoonlik verdring mense mekaar rondom Jesus.
Hulle kan nie eers by die deur van die huis inkom nie.
Die agterdeur staan ook vol mense!

Hulle kyk vraend na mekaar …. “do you ponder what I ponder?”
En hulle knik vir mekaar!

Hulle klouter op die dak.
En hulle begin arme ou Petrus se huis se dak oop te breek!
En nou weet ons hulle het nie Lafarge se gebakte dakteëls gehad nie.
Dit was maar modderteëls en klei waarvan die dakke gemaak is.

Dit is prof Groenewald wat in sy kommentaar die komiese in die situasie raaksien.
Stel jou Jesus en die mense se verbasing voor in die vertrek daaronder as die dak bokant hul oopgebreek word. En dit is net stof en klei op die klomp daar onder!
En Petrus moan oor sy dak.
En die mense daar onder moan oor die stof op hul koppe en in hul oë!
Maar die vriende ontsien niks nie.
Hulle sal almal se klere was as dit nodig is.
Hulle moet net vir Lammie by Jesus kry!
En hul laat sak hom op die draagbaar tot voor Jesus!

  1. As ons dink dit wat verder gebeur is wonderwerke, dan wil ek vir jou sê dat dit wat hier gebeur het is net so ’n wonder.
    Dat 4 vriende vir Lammie na Jesus toe dra, met al die moeite en opoffering, dit is maklik net so ’n groot wonder as die twee wonders wat verder sou gebeur.

Waarom is dit ’n wonderwerk?
Omdat dit teen ons natuur is dat ons ons eie gerief opoffer om ander te help en te versorg.
Ons egoïsme en selfsug maak dat dit nie van nature gebeur nie.
Dit gebeur net as die Gees van Christus ons selfsug omkeer … tot omgee!

Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan illustreer dit later:
Twee kerkmense (!) loop daar ver anderkant verby as hul die verwonde langs die pad sien lê.
Die ou langs die pad sou mos hul spoed breek.
Eers die derde persoon, die Samaritaan, van wie jy dit juis nie verwag nie,
hy word die naaste wat omgee en uitreik.

Hierdie vier vriende was inderdaad die naastes van die verlamde man.

In ’n ander verhaal lees ons van ’n sieke daar by die bad van Betesda (Johannes 5).
Hy lê al 38 jaar lank siek daar by die bad met die wonderkrag.
Sy wanhoopskreet is “Here ek het niemand nie! Ek het niemand wat my kan help om in die water te kom nie! Vir 38 jaar al het ek niemand nie!”
In hierdie verhaal lees ons van die wonderlike teendeel.
Hierdie verlamde het iemand! Hy het trouens 4 vriende wat vir hom omgee.

2. Dan gebeur daar ’n tweede wonder:
Hierdie man se sondes word deur Jesus vergewe.
As jy by Jesus uitkom, dan gebeur daar op al jou lewensterreine iets:
Geestelik, fisies en emosioneel.

So begin Jesus met Lammie op sy geestelike vlak:
“Vriend, jou sondes word vergewe.” (:5)
Ons sou dadelik wou vra “Wat is dan die verband tussen sonde en siekte?”
Dit is nie die vraag hier nie.

Dit punt is: Hierdie man het sonde in sy lewe gehad waarvoor hy vergifnis moes kry.
Wat dit was, weet ons natuurlik nie.
Maar Jesus vergewe daardie sondes. Want Hy is God! Hy gee ’n nuwe begin vir hierdie man.

Dit ontketen natuurlik ’n heftige reaksie onder die skrifgeleerdes, want hulle verstaan nog nie Wie Jesus regtig is nie.

Hulle redeneer: “Dit is nou lekker opportunisties vir Jesus om te sê die man se sonde word vergewe!
Hoe sal ons weet of dit regtig gebeur? Ons kan dit nie toets nie!
Hierdie Jesus vat ’n vet kans!”

3. Dan vind die derde wonderwerk plaas:
Jesus genees die verlamde man.
“Ek sê vir jou: Staan op, vat jou draagbaar en gaan huis toe.” Hy het opgestaan, dadelik sy draagbaar gevat en voor die oë van almal uitgestap.
Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie!”

Maar hierdie genesing dien nie net een doel dat die man weer kan loop nie.
Dit dien ook die doel om ’n bewys te lewer dat Jesus nie net goedkoop publisiteit soek nie.

Om bloot te sê: “Jou sondes is vergewe!” sou maklik kon wees omdat dit nie getoets kon word nie.

Om egter vir die man te sê “Staan op en loop!” sou wel getoets word daaraan of die man wel opstaan.

Dit sou inderdaad, menslik gesproke, moeiliker wees. Want dit word getoets.
Dit is presies die debat wat plaasvind voor die genesing.

Maar daar loop die man nou, met sy draagbaar onder sy arm! Jesus kan die moeiliker ding doen!
So? Sy sondes kan dan ook deur hierdie Jesus vergewe word! Wow!
En “Hieroor was hulle almal verbaas en het hulle God geprys en gesê:
“So iets het ons nog nooit gesien nie!”

Daar is egter ’n belangrike motivering vir al Jesus se handelinge hier wat ons nie moet miskyk nie:
En natuurlik doen Jesus hierdie wonders omdat Hy vir hierdie man lief is en omgee.
Maar luister mooi hierna:

Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!” (:5)

Dit is baie interessant. Meermale lees ons tog dat Jesus reageer ogv die individu se eie geloof:
“Jou geloof het jou gered!”
Ander se geloof maak hier die verskil.
Ander se geloof is die motivering vir Jesus om genesing te gee.
Ander het Jesus vertrou dat Hy dit sal doen en dat Hy dit kan doen.
En Jesus stel hul nie in hul geloof teleur nie.

Sien jy: Jou geloof is nie net daar tot jou eie voordeel nie.
Jou geloof kan vir ander mense die deurbraak bring.
Hoe meer jy Jesus vertrou, hoe meer kan dit ook vir ander wonders laat gebeur. (Herhaal)

En daarom het jy ’n dure roeping om jou geloof te vertroetel en te versterk – dat dit in die lewens van baie rondom jou die verskil kan maak.

Kom ek vertel tog:
Ek en ds Andre is Maandag daar by ICU voordat hulle vir Elna sedeer en die asemhalingsapparaat aan haar koppel.
Sy kan nie eers reageer nie, maar ek onthou haar groot vraende oë nadat ds Andre ’n pragtige gebed vir haar daar gedoen het.

Toe ons van die bed af wegstap sê ds Andre egter: “Ek glo sy gaat orraait wees!”
Nou, dit is geloof. Dit is geloof wat in daardie moment vir my ook baie hoop gegee het.
Ek glo dit is dieselfde geloof as die geloof van die vier vriende wat vir die verlamde genesing gebring het.
En ek kon dit gister vir Elna vertel en sy kon al glimlag daaroor.

Ek wil afsluit:

Daar is baie mense wat ook vandag vir ons sal sou kon sê: “Ek het niemand nie.”
Miskien is jy self so iemand.
“Ek het niemand.” Of “Ek het behoefte aan baie meer sorg, bemoediging, omgee en liefde.”

Daar is egter ook ‘n groot struikelblok: dat ons mekaar nie in ons vertroue neem nie.
Dat ons nie vra vir hulp nie.
As ons nie vra vir hulp nie, hoe gaan ander weet van ons nood?

Natuurlik is dit moeilik om vir hulp en bemoediging en voorbidding te vra.

Natuurlik is dit net soveel beter as daar mense rondom jou is wat sommer kan sien dat jy dit nodig het.

Daarom – vanuit die geloof in Jesus Christus, en omdat ons die geloofsfamilie is, kom daag die Here self jou vandag uit:

1. Glo weer dieper. Glo dat Jesus kan! Bou jou eie geloof op.
Dit bring deurbrake vir jou en selfs vir ander.
2. Bied jouself aan om vir ander ’n iemand te wees. Trek jou kruisie op daardie vormpie. Nie net ter wille van jouself nie, maar ook ter wille van ander.
As jy oor die Vanstadensrivierbrug ry en jy sien daar loop iemand met trane in sy oë op en af op hierdie brug. Sal jy nie stil hou en jou liefde en hulp aanbied nie?
Of sal jy “siestog!” sê, verby ry – en so niks doen om ’n ramp te voorkom nie?
Jy is daar om ander na Jesus te dra.
Jy is daar om ander te help – om selfs deur die dakke te kom – om by Jesus uit te kom.

3. Waag dit vandag om vir ander te sê dat jy liefde, omgee en sorg nodig het.
Miskien is dit een van die moeilikste dinge wat die Here van jou vra.
Weet net vandag – Jesus is hier.  Sy Heilige Gees is hier.
En hier is ander kinders van die Here wat ook sal wil help.
Vertrou die Here en vertrou jou broers en susters.

Amen

Prediker: Ds Retief Botha. Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.

20180415