Sagaria 7-8

  1. Vraag na die vasdag : 7: 1-3
  2. Vas sonder gehoorsaamheid help nie 7: 4-6
  3. Ongehoorsaamheid van die volk en die gevolge : 7: 7-14
  4. Belofte : Here gaan terug Jerusalem toe kom en voorspoed herstel 8: 1-8
  5. Aanmoediging : Skep moed en julle naam sal herstel word : 8: 9-13
  6. Bedoeling is goed maar daar is ‘n voorwaarde : gehoorsaamheid 8: 14-17
  7. Antwoord op die vasdag : Sal feesdae word : 8: 18-19
  8. Gevolg : Nasies sal na Jerusalem toe stroom en die Here aanbid : 8: 20-23

Op die 7de Desember 518 het die mense wat in Bet-El gebly het ‘n afvaardiging na Jerusalem gestuur. Dit was ongeveer twee jaar na die eerste openbaringe aan Sagaria. Luister weer ‘n bietjie mooi wat hulle vir Sagaria vra. Ons kry dit in Sagaria 7:3 : “ Moet ons nog in die vyfde maand huil en vas soos ons nou al jare lank doen.” Hierdie vragie klink aanvanklik baie vroom.

Maar daar sit meer agter die vraag van hulle. Hulle groot vraag is eintlik of hulle nog in die krisistyd is. Hulle het al hierdie beloftes van die profete en van Sagaria gehoor dat dinge gaan verander en dat hulle in ‘n tyd van voorspoed ingaan, maar intussen lewe hulle in armoede en is dit baie gevaarlik om te reis.

Verder wil hulle weet of hulle nog in Bet-El moet aanbid want hulle hoor al hierdie dinge van die tempel wat in Jerusalem herbou word. Dit is nou al 2 jaar nadat Sagaria die openbaring gehad het en ook daar lyk dit of niks verander het nie. En buiten dit is Jerusalem 18 km ver en moet hulle soheentoe loop te midde van gevaar om kerk toe te gaan.

En die Here se antwoord op hulle vrae is een van bemoediging en van hoop. Dit kan die beste opgesom word met sy woorde in 8:13 :” Moenie bang wees nie. Skep moed“. En in hierdie twee hoofstukke het die Here ‘n heel logiese argumentslyn wat Hy volg om hulle by hierdie punt uit te bring. Om dit by hulle in te skerp maak die Here ‘n appel op die volgende:

 

  1. Hy maak ‘n appel op hulle geheue (7:4-14)

In die eerste plek antwoord die Here hulle deur ‘n appel op hulle geheue te maak. Dit lyk as ons kyk na hulle vraag asof hulle sekere goed vergeet het en vergeet het om sekere goed vir die Here te meld.

Kom ons kyk in die eerste plek na verse 5-6 : “Sê vir almal in die land en vir die priesters: Julle vas en treur nou al sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand, maar vas julle tot my eer? En as julle eet en drink, doen julle dit vir julleself.” Hierdeur wil die Here vir hulle twee dinge sê. Allereers dat hulle wel melding maak van die vasdag in die 5de maand. Dit was die herinnering aan die tyd toe hulle in ballingskap geneem is deur Nebukadneser. Dit was in die jaar 586 vC gewees. Ons lees daarvan in 2 Konings 24-25. Maar dis nie al nie. Hulle vas ook in die 7de maand. En dit is glad nie vir die Here gewees nie. Dit was ter herinnering aan ‘n goewerneur genaamd Gedalja wat na die verowering van Jerusalem vermoor is. En tweedens wil die Here dan nou vir hulle sê dat hierdie vasdae eintlik nooit vir Hom was nie, maar vir hulle self. So die Here herinner hulle daaraan dat hierdie vasdae waaroor hulle nou navraag doen nooit deur Hom ingestel is nie en nooit tot eer van Hom gebeur het nie.

En dan kom die Here en herinner hulle aan die tweede groot waarheid in verse 7-14. Hulle sinspeel in hulle vraag dat niks verander het nie en dat die land in ‘n gemors is. Maar daardie gemors waarin die land is was deur hulle eie toedoen. Dit was nie die Here wat hulle gestraf het en wat ontrou was nie. Dit was hulle wat hierdie ballingskap oor hulle self gebring het en dit is hulle wat hierdie pragtige land van hulle vernietig het. Luister ‘n bietjie weer na daardie woorde in verse 7-13. Keer op keer het die Here hulle deur die profete gewaarsku dat hulle:

Maar hulle het nie geluister nie. In vers 12 staan daar dat hulle soos die hardste klip was. En dan om die pragtige beskrywing van die gevolg van hulle ongehoorsaamheid in vers 13 : Hy het geroep maar hulle het nie geluister nie, en toe het die Here die Almagtige gesê: Ek sal ook nie luister as hulle roep nie. Ek sal hulle met ‘n stormwind verstrooi. En dan die laaste deel van vers 14 : Hulle het van ‘n pragtige land ‘n verwoeste wêreld gemaak.

Die eerste deel van die antwoord van die Here aan die mense is deur ‘n appel op hulle geheue te maak deur hulle daarop te wys dat die slegte wat op hulle pad gekom het, nie sy skuld is nie, maar hulle eie skuld. Dit is iets wat hulle op hulle self gebring het. Die armoede, die verwoestheid, die verwoeste tempel was alles direk of indirek die gevolg van hulle voorvaders se sondes. Maar om hulle te straf het die Here die bose nasies gebruik en toegelaat om hulle te vervolg.

Vandag is dit nog steeds so. Die Here wil ook ‘n appel op ons geheue maak en vir ons daarop wys dat ons ook nie altyd reg laat geskied het aan die armes nie. Ons het ook nie altyd liefde en barmhartigheid bewys nie. Elkeen van ons moet daagliks voor die Here staan en die eerste wat ons kan doen, is om sondeskuld te bely. Paulus sê daar is nie een wat sonder sonde is nie. Selfs nie eers een nie. En die heidelbergse Kategismus herinner ons ook daaraan dat die eerste wat ons moet weet om gered te word, is om te weet hoe groot ons sonde is. Dan eers kan ons die groot genade van die Here erken en belewe.

Maar u moet baie mooi verstaan dat die Here nie die appel op hulle of ons geheue maak om die blame game te speel nie. Hy herinner ons en hulle ook nie aan ons sonde om dit lewend te maak nie. As u kyk na die gedeelte dan sal u sien dat dit alles in die verlede tyd geskryf is. Dit is afgesluit. Die Here noem dit net om alles in perspektief te stel en by die tweede appel uit te kom. Het Hy nie gesê dat Hy nooit weer aan hulle sondes sal dink nie. En as Hy dit gesê het was Hy ernstig. En dit bring ons by die tweede belangrike appel wat die Here op hulle maak in sy antwoord op die vraag na die vasdae.

  1. Hy maak ‘n appel op hulle geloof

In die tweede plek maak die Here ‘n appel op die geloof van die volk. Hy wil hê dat hulle moet glo dat Hy goeie bedoelinge met hulle het en hulle moet hierdie beloftes glo. Luister na al die beloftes wat die Here vir hulle in die gedeelte maak:

Drie beloftes. ‘n Politieke, ‘n godsdienstige en ‘n ekonomiese belofte. Vir die Jode wat voor Sagaria gestaan het, het dit verregaande geklink. Want niks daarvan kon hulle voor hulle sien nie. Op politieke gebied was alles maar deurmekaar en is hulle maar net as ‘n pion deur Persie gebruik. Op godsdienstige gebied was daar maar net spore van ‘n halfklaar tempel. En op ekonomiese gebied was dit so ‘n gemors dat mense vir kos beroof is. Maar vir die Here is dit nie verregaande nie. Daarom kom Hy met die woorde in vers 6: “So sê die Here die Almagtige: As dit vir die oorblyfsel van hierdie volk vandag onmoontlik lyk, moet dit dan ook vir My onmoontlik lyk? Die Here die Almagtige het dit gesê” Nee niks is vir Hom onmoontlik nie. En daarom maak die Here ‘n appel op hulle geloof. Hulle moet Hom glo en vertrou. Hy sal weer hulle God wees en hulle sal weer sy volk wees. Die verbond sal volledig herstel word. Dit lees ons in vers 8.

En om hierdie appel te versterk herinner die Here hulle aan die geskiedenis met die bou van die eerste tempel toe daar ook nie geld was nie, maar al die mense van ver gekom het en die tempel verniet gebou het. En omdat die Here weet dat die mense kleingelowig is kom Hy nog met verdere beloftes van voorspoed in vers 12. Maar seker die mooiste belofte kry ons in vers 13 : “Julle name, Juda en Israel, is onder die nasies gebruik in vervloekings, maar Ek het julle gered, en nou sal julle name gebruik word in seënwense. Moenie bang wees nie, skep moed

Is dit nie fantasties nie. Dat die Here ‘n volk wat Hom verloën het en Hom verlaat het vir afgode nou met soveel beloftes toegooi dat hulle nie anders kan as om te glo nie. So maak Hy vandag nog ‘n appel op ons geloof. As ons twyfel moet ons net kyk na al die beloftes van die Here in die Bybel. Daar is honderde van hulle. Glo ons God nog? Of is ons soos daardie filosowe wat glo dat God dood is. Ons sal dit net nie erken nie, maar ons lewe asof Hy dood is. God se beloftes in Sagaria is nog net so geldend vandag as in daardie tyd.

Beteken dit dat God erken dat Hy ‘n fout gemaak het om Israel in ballingskap te laat neem? Nee Glad nie. Luister na verse 14-15 : So sê die Here die Almagtige: Omdat julle voorvaders my toorn laat ontvlam het, het Ek besluit om julle kwaad aan te doen, en Ek het nie die straf herroep nie, sê die Here die Almagtige. Maar nou is my bedoeling anders: Ek wil goed doen aan Jerusalem en Juda. Moenie bang wees nie!

Vir hierdie manne wat voor Sagaria gestaan het, moes dit ‘n geweldige ervaring gewees het om al hierdie beloftes te hoor en te hoor dat die Here self vir hulle sê: Moenie bang wees nie. Skep moed. ‘n Groter appel op geloof kan ons nie kry nie.

En vandag nog is dit die boodskap van die Here vir elkeen wat twyfel. Moenie bang wees nie. Skep moed.

  1. Hy maak ‘n appel op hulle gehoorsaamheid

En dan kom die Here met die derde appel. As jy jouself in die mense van daardie tyd se skoene kon sit dan sou die logiese ding gewees het om te doen die volgende wees. As gevolg van die tyd waarin hulle geleef het en die feit dat die tempel nog nie klaar was nie, moes hulle drie dinge doen. Allereers aanbid die Here in Bet-El. Jakob het dit immers gedoen. Verder het dit die gevaar van aanvalle wat hulle oppad na Jerusalem kon beleef uit die weg ruim. Verder kon hulle die vyande in hulle geledere uitwis. ‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. En terwyl die krisisse nog nie verby was nie, moes hulle aangaan met die vasdae en die Here so probeer oortuig om aan hulle goed te doen.

Maar hierdie logiese was nie God se wee nie. Luister wat sê Hy vir hulle om te doen. Dit lees ons in verse 16-17: “Wat julle moet doen, is dit: Praat die waarheid met mekaar, laat die waarheid en die reg geld in julle regspraak sodat daar vrede onder julle kan wees. Moenie bose planne teen mekaar bedink nie, moenie vals ede bly aflê nie. Ek haat sulke dinge, sê die Here. “ So doen die Here ‘n appel op hulle gehoorsaamheid aan Hom. Hulle moet nie reaktief optree nie, maar pro-aktief. Hulle moet nie aan die wêreld gehoorsaam wees nie, maar aan God. En met hierdie appel sluit Hy dan ook in die dinge wat die voorvaders nagelaat het, naamlik die bewys van liefde, barmhartigheid en regverdigheid. En dat hulle na die armes, oues weduwees en wees moet omsien.

Die Here soek nie vasdae nie. Hy soek gehoorsaamheid. Hy word nie oortuig met valse gebede nie, maar met geloof en gehoorsaamheid. So doen die Here dus ‘n appel van gehoorsaamheid aan die besoekers van Bet-El.

Slot

En so het die Here op ‘n baie mooi manier die vraag benader van die mense van Bet-El. Hulle het gevra of hulle nog moet vas. Of hulle dae van verootmoediging moet hou. En Hy doen ‘n appel op hulle geheue, hulle geloof en hulle gehoorsaamheid. En as hulle dit doen, sê Hy dan in verse 18-23 sal twee dinge gebeur. Hulle sal nie meer vasdae nodig hê nie, maar sal net fees vier. Hulle sal die Here elke dag loof en prys al gaan dit nie goed nie, want hulle weet dit sal weer goed gaan. En tweedens met hulle voorbeeld sal hulle al die nasies oortuig van die Here. Hulle sal ‘n lig vir die wêreld wees.

Maar geliefdes dit was toe. Hierdie is nou. Dit was God se boodskap aan Israel in 518 vC. Maar wat is sy boodskap aan ons vandag 6 September 2015. Wat wil die Here vir ons vandag sê. Nog presies dieselfde as in 518:

As ons dit doen, sal die Here ons seën. Moenie bang wees nie. Skep moed. En bemoedig mekaar met die woorde.

Amen.