Ons het verlede week gehoor hoe die Here sy volk se prioriteite reggeruk het.  Soveel so dat hulle nie net meer aan hulle eie huise gebou het nie, maar aangevuur is om vir die Here te bou.  En hulle het begin bou!  Hulle het begin stene lê en ’n stuk van die tempel is herstel.  Maar daar is ’n interessante kinkel in die storie.  Hulle entoesiasme om te bou het net 4 weke gehou, toe raak hulle moeg!

Dis amper soos ’n rugbyspan wat as underdogs in ’n wedstryd ingaan.  As hulle uit die kleedkamer kom is hulle so aangevuur dat hulle die eerste 10 minute alles gee.  Maar soos die wedstryd aangaan sak hulle uit en word die telling net al hoe groter teen hulle.  Daar was ’n spesifieke rede ook waarom hulle moeg geword het.  Hulle het gesien dat dit wat hulle nou besig is om te bou, lyk eintlik na niks in vergelyking met die vorige tempel.  Ons mors ons tyd, want dit gaan nie naastenby so indrukwekkend lyk soos die vorige tempel nie.  Eintlik was hulle dus meer moedeloos as moeg.

Dis amper soos ons hier aan die einde van die jaar.  Aan die begin van die jaar ruik ons nog die deepheat of coconut olie van die Desember vakansie, dan begin ons vuur en vlam met mooi en indrukwekkende voornemens, maar hier aan die einde van die jaar raak die ogies papper en batterye flouer en die geduld korter.  Jy sien, partykeer word ons aangevuur om nuut en met meer toewyding teenoor die Here te lewe, of aangevuur om anders te lewe of aangevuur om met meer entoesiasme en meer vreugde te lewe of aangevuur om ’n probleem aan te pak.  En aanvanklik is ons vuur en vlam, maar dan verflou die entoesiasme met tyd.

Behalwe die normale einde-van-die-jaar-sindroom, kan jy vanmôre hier sit, moeg en moedeloos vir ’n paar ander goed.  Moeg vir die gesukkel, moeg vir die baklei, moeg vir die hartseer, moeg vir die bekommernisse, moeg vir die lewe.

En dan kom die woorde van Haggai in 2:4: “Skep moed, sê die Here,…. skep moed, en julle almal burgers van die land, skep moed,… sê die Here!  Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige….my Gees sal altyd by julle bly.  Moenie bang wees nie!”

Dit is asof die Here vir ons wil herinner dat sy Gees kort-kort vir ons aanmoedig langs die pad.  Die Heilige Gees wil dié wat moeg is en moedeloos is en moeg gewerk is, kom moed in praat sodat hulle die wedloop van die lewe met geloof en oortuiging en entoesiasme kan bly hardloop.  Skep moed, sê die Here!  Skep moed in jou jou hartseer, skep moed in jou siekte, skep moed in jou bekommernis, skep moed sommer in jou moedeloosheid, skep moed in jou moegheid, want My teenwoordigheid by jou maak die verskil!  Ek gee die vermoeides krag!  My Gees vuur mense aan tot nuwe entoesiame en ‘n lewe in oorvloed!  Daarom, liewe kind van die Here kom sê die Almagtige Here ook weer by hernuwing vanmôre vir jou: My Gees sal altyd by jou bly.  Moenie bang wees nie!  Langs die lewenspad is Ek daar om jou te lei.

Slot:

Serubbabel speel nogal ‘n baie belangrike rol in die volk se nuwe hoop en entoesiasme.  Jy sien, die Here het vir hulle vrede en voorspoed in die vooruitsig gestel.  Hulle het gehoor dat iemand uit die stam van Dawid, Serubbabel sal kom en hy sal oor die volk heers en vir hulle vrede en voorspoed bring (2:23).   En die volk kon bou met moed en oortuiging omdat hulle die vooruitsig gehad het van iemand wat weer na hulle sal omsien.

Die vraag natuurlik is: wat motiveer ons vandag om aan te hou bou?  Watter vooruitsig is daar vir ons van iemand wat weer vir ons vrede en voorspoed sal kan bring?  Watter verkiesing sal dit vir ons kan verseker?  En dan herinner Kersfees ons hierdie jaar nie aan iemand wat nog moet kom nie, maar Iemand wat alreeds gekom het!  Nie iemand wat net hier vrede sal bring nie, maar ’n ewige Vredevors.  Iemand ook uit die stam van Dawid, Jesus Christus wat alreeds gekom het om vir ons die Immanuel te wees, God altyd met ons!  En dit is Jesus, Immanuel wat vanmôre vir jou kom sê: Ek het gekom, skep moed, want Ek is by jou.  Moenie bang wees nie, want Ek is jou God.  Tel jou kop op, want Ek gee jou krag.  Ek het juis gekom vir mense soos jy!

Mag jy in hierdie feestyd rus in die wete dat God in Jesus Christus en deur die werking van die Heilige Gees altyd by jou is.  Skep moed, sê die Here, en julle almal burgers van die land, skep moed, want die Here die Almagtige is by julle!  Dit is die vreugdesboodskap van Kersfees.  Kersfees is die skep-moed-fees waar die Here ons weer aanvuur en uit die kleedkamer stuur om die wedstryd van die lewe te gaan speel met die wete, die stryd is gewen, die Lam wat gekom het, het oorwin!  God is met ons!  Amen.