Hierdie verhaal handel oor dankbaarheid.

Dit handel oor dankbaarheid en ondankbaarheid.

Dankfees

As ons vanoggend op ’n intermenslike vlak begin, dan is dit skokkend hoe vreeslik ondankbaar ons in ons verhoudings onderling kan optree.

Al is ons van kleinstyd af die “towerwoorde” geleer, word dit nie maar sommer net deel van ons leefstyl nie.

Ons aanvaar blykbaar baie dinge as baie vanselfsprekend.

Ons kry dit baie beswaarlik reg om vir mekaar waardering en erkenning te gee vir waar ander aan jou goed doen.

 

Wanneer laas het jy vir iemand dankie gesê dat hy jou altyd  vriendelik groet?

Wanneer laas het jy vir jul huishulp dankie gesê vir die klere wat gestryk is en in die kas weggepak is?

Wanneer laas het jy vir jou onderwyser/dosent dankie gesê vir die klasaanbieding.

Of vir die geduld as jy rondom die wasbak alles sopnat gemors het?

 

En so sou ons baie voorbeelde kon opnoem.

Dankbaarheid is net doodeenvoudig nie ’n aangebore deug nie.

 

En dan begin ons wonder: Waarom is dit so?

Is dit sommer net ’n onnadenkende nalatigheid?

Of aanvaar ons op arrogante wyse sekere dinge as vanselfsprekend?

Of dink ons in ons agterkoppe die wêreld en die lewe skuld ons al hierdie dinge?

Ons dink mos ons is, volgens die Grondwet, “geregtig” op sekere voorregte en dienste.

 

Die deug van dankbaarheid onderling hou egter ook direk verband met die dankbaarheid wat jy leer bewys teenoor God se goedheid vir jou.

 

Hierdie teks vertel van twee wonderwerke.

1.      Die eerste is die wonder van genesing.

In hul desperaatheid roep die melaatses om hulp:  “Jesus, Here, ontferm U oor ons!”

As ons die verhaal begin lees, dan het ons die aanvoeling dat hier een of ander wonder gaan gebeur.

En Jesus stel nie teleur nie.

Sonder omhaal van woorde stuur hy hulle na die die priesters wat die enigste instansie is wat hul weer rein kan verklaar.

So alleen kan hulle weer uit hul isolasie terugkom in die gemeenskap.

Hulle begin instinktief loop, terwyl hul seker wonder wat moet hul nou eintlik vir die priesters gaan wys.

Totdat hul afkyk na hul liggame.

 

2.    Die groter een van die twee wonders is egter die wonder dat daar ‘n persoon omdraai en kom dankie sê.

Maar die enkeling wat omdraai onderstreep ook die feit dat dit onwaarskynlik is dat ons van nature dankbaar sal reageer.

Toe Lukas hierdie verhaal vir Teofilus skryf, was Teofilus se  reaksie waarskynlik een van geskoktheid.

Dit is haas ondenkbaar dat iemand so ’n wonder aan sy lyf ervaar, maar nie ’n poging aanwend om dankie te sê nie.

Immers, melaatsheid was ’n ongeneeslike en terminale siekte.

Jesus gee eintlik vir hulle ’n tweede kans op lewe.

Hy gee vir hulle lewe!

 

Die groter skok vir ons as lesers is natuurlik die feit dat die een wat omdraaid om dankie te sê die Samaritaan was.

Die persone van wie jy dit sou verwag, was immers die gelowiges uit die Jodedom.

Maar NEE!  Die uitgeworpe Samaritaan van wie die Jood niks verwag het nie,

juis hy word die een wat vir hulle die voorbeeld stel.

Let op die taal van vers 18:

Is daar niemand anders wat omgedraai het om God die eer te gee behalwe hierdie man wat nie eers ‘n Jood is nie?”

 Selfs Jesus is geskok!

1 uit 10 is nie juis ‘n slaagsyfel nie!

Lyk my of daar by mense, en selfs by Jesus, ‘n verwagting is dat ons as gelowiges meer dankbaar sal leef as die wêreld.

Die misterie van die verhaal is wat daar gebeur wat maak dat hierdie man omdraai?

 

Daar was ’n oomblik tussen sy afkyk en sy omdraai wat vreeslik belangrik was.

Daar gebeur in daardie oomblik iets ongeloofliks / onnatuurliks.

Hy sien die verband tussen die gawe en die Gewer.

En hy besef hier is iets onafgehandel.

Hy kan nie die gawe geniet sonder dat daar iets tussen hom en die Gewer gebeur nie.

Die ander 9 kyk ook af.  Hulle is ook bly.   Maar hulle tel spoed op na die mense wat die klaringsertifikaat kan teken sodat hulle die gawe kan geniet.  “Ons gryp die lewe!  Ons gryp alles selfsugtig om dit self te geniet!”

Dit is nou presies soos die 3-jarige wat sy kersgeskenk kry en so selfsugtig opgewonde is oor hierdie nuwe speelding, dat hy nie een oomblik dink aan waar dit vandaan kom nie.

 

Vir ons hier by Dankfees sal die Here ons moet help om ook bietjie af te kyk en al die gawes te sien wat so genadiglik aan ons hang.

Net miskien kan dit in jou geestelike joernaal sin maak om ’n lysie te gaan maak van al die dinge wat jy ontvang het – dit wat jy al as vanselfsprekend begin aanvaar het, en dit wat vir jou verrassend was.

Die Samaritaan het seker nie lekker geweet wat hy alles by Jesus moes gaan doen nie.

Hy het net geweet hy moet by Jesus uitkom om op een of ander manier te gaan dankie sê.

Dit wat hy by Jesus gaan doen, klink dan ook vir my half deurmekaar en impulsief, half onbeholpe,  maar beslis opreg en ongekunsteld.

 

Wat daar dan gebeur, mag vir ons help met ons eie manier van “dankie-sê”:

1.    “En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys.”

“Doxsaso” – om God te eer / om vir God erkenning te gee vir sy goedheid / om God te prys.

Ons soek normaalweg vir onsself die eer/komplimente.

Hier is dit die wonder om te reageer op so ‘n wyse dat God erkenning kry vir Sy heerlikheid.

Om vir God te verheerlik is om vir Hom die medalje te gee wat Hom toekom.

Hy is die “Man of the Match” en Hy moet die applous kry wat daarby hoort.

Ja, ons kan sing “Ere aan God…”, maar ons sal moet kreatief uitvind wat ons nog meer kan doen om God te prys.

 

2.    Hy het voor die voete van Jesus neergeval…”

Ek het gewonder waarom hy voor Jesus neerval.

Letterlik staan daar dat hy op sy gesig geval het.

Om op jou gesig te val was ‘n aanbiddingshandeling, maar dit is terselfdertyd ook ‘n oorgee aan die Heer.

Jy lê jouself eintlik as offer voor hom neer.

In die noodkreet van die melaatses het ons al ‘n aanduiding gekry van hoe hulle vir Jesus sien:  “Jesus, Here (Epistata = Meester), ontferm U oor ons!”

Hy is die Meester wat seggenskap het op ons lewens.   Omdat Hy ons met Sy bloed gekoop het.

“My al is op die altaar en wagtend op die vuur…”  het ‘n ou Hallelujalied gesing.

Om voor Jesus neer te val is dus ‘n manier om vir die Here, wat vir jou die lewe kom gee het te sê:  “Ek skuld my lewe vir U en ek stel my hele wese as offer tot U beskikking.”

So word dankbaarheid ‘n offerhandeling waar elke sekonde van jou lewe soos in die OT offerritueel, ‘n wierookgeur laat opstyg vir God om dit te geniet.

Miskien is hier in sy neerval ook ‘n stuk sondebesef en skulbelydenis.  Die laaste opmerking van Jesus sou in hierdie rigting kon dui.

 

3.   “… en Hom gedank.”

Nou is dit baie interessant: Gedank is die woordjie:  “eu-chariston” = lettertik om goeie gawes vir iemand te gee.

Vir ons is dankie sê hoofsaaklik ‘n woord-ding.

Miskien is dankie-sê iets wat  meer met geskenke te make het.

Ons het dit alreeds  gesien met “Prys” waaroor ons gesê het dit is om vir God die eerbewys van “Man of the Match” te gee.

En om voor Jesus dankbaar neer te val is om jouself as offer vir Hom te gee.

Dankbaarheid is nie net ‘n -ding nie, dit is ook nie net ‘n geld-ding nie (Tiendemaand).

Dit is ‘n gee-ding. 

Dit is waar ons soos Kersvader met ‘n groot sak vol geskenke na God toe kom.

Met my drome, my ideale, eiendom, bankrekening, belangstelling, met dit wat ek goed doen…

… my my hele geskenk-sak vol van my lewe!

Sluit:

Hierdie dankbaarheids-gee-ding is eintlik maar net ‘n reaksie op Jesus se gee-handeling.

Vers 11 van die perikoop het begin deur te sê dat Jesus op reis was na Jerusalem.

–       Dit is daar dat die Jode  hul ondankbaarheid op ‘n mees brutale wyse sou bewys.

–       Dit is terselfdertyd ook daar in Jerusalem dat Jesus Homself terselfdertyd op die altaar sou gee vir ons verlossing.

So vier ons met hierdie Dankfees vreugdevol Nagmaal.

Die nagmaal is net die duidelikste teken van hoe die Here Jesus hom gegee het, 10 uit 10!

Hy gaan voort om op 1010 maniere elke dag vir ons te gee.

Ons vier daaroor fees en ons begin opnuut om vir die Here “goeie geskenke”  te gee.

Vra dat die Gees van God ook die tweede wonder in jou lewe kom bewerk:

Om af te kyk, terug te kyk, om te draai en dankie te gaan gee…!

 

Amen

Prediker:  ds Retief Botha     rrbotha@hotmail.com