Om dors te wees beteken vandag nie veel meer as om ’n kraan oop te draai of ’n ketel aan te sit nie.  Maar woestyne gee ander betekenis aan dors.  Warm son, min skaduwee, genadelose winde, nêrens ’n kraan om oop te draai of selfs ’n bietjie water nie.  Nie net het mens en dier dors nie, maar die aarde is dors.  Elke druppeltjie vog word in woestyne opgeslurp om lewe vir ’n rukkie langer te kan hou.  Jy sien, dit is wat woestyne aan mense doen.  Dit maak jou dors.  Dit laat jou smag en soek na die lewensnoodsaaklike.  Dit laat jou verlang na dit wat dikwels as vanselfsprekend aanvaar word soos kos en water en skuiling en koelte.

 

Woestyne is metafories reg deur die Bybel die plek van dors.  Dink aan die volk Israel se 40 jaar daarin, Elia se depressie in die woestyn, Johannes die doper se eensaamheid, die Here Jesus se versoeking.  En dit is waar koning Dawid homself bevind in Ps 63.  In die woestyn van Juda waar hy vlug vir sy eie seun Absalom. Vir 4 jaar lank het Absalom agter Dawid se rug ondersteuners bymekaar gemaak om sy pa te onttroon.  En Dawid vlug, die woestyn in.   En daar in die woestyn stort sy hele kaarte paleis in duie.  Hy is ewe skielik ‘n koning sonder ‘n troon.  ’n Pa sonder ’n familie, die jagteiken van sy eie seun.  Sy lewe en ideale en drome het aan skerwe gespat.  Die man na God se hart is eensaam, verworpe, hartseer.  Dawid se woestyn is ’n plek sonder status, vriende of rykdom.  Letterlik gestroop van alles wat eens sin gemaak het in sy lewe. 

Woestyne en woestyntye is natuurlik ook iets wat ek en jy ken.  En dit is daar in die woestyn waar die dors Dawid beetpak.  Die dors na die lewensnoodsaaklike, die antwoord, die belangrikste van die lewe.  Dawid begin God soek. 

Skriflesing: Ps 63

Ek wil vanmôre 3 elemente van Dawid se soektog na God uitlig:

1 Om God met ’n passie te soek

1’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.2Ek soek U, o God, my God ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.3Ek wil by U in U heiligdom wees om daar U mag en grootheid te ondervind.
 

Daar is ’n dringendheid in Dawid se soeke na God.  Die woord in Hebreeus vir “ek soek”hou verband met die vroeë oggend-ure, met dagbreek.  Met ander woorde, om God op te soek is so belangrik dat jy niks anders kan doen voor jy aangaan met die dag nie.  God word heel eerste opgesoek!  Dit moet prioriteit wees voordat enige iets anders jou in beslag neem. As Dawid met soveel passie God opsoek bely hy daardeur: Ek kan nie sonder God nie!  Ek moet by God uitkom!  Net soos iemand soek na water wat dae lank niks gehad het om te drink nie, so het Dawid hierdie verskriklike smagtende behoefte na God se teenwoordigheid! 

U sien, dit is juis hier in die woestyn, waar jy gestroop is van alles, waar Dawid se prioriteite georden word.  Op hierdie laagtepunt in sy lewe word sy kop skoongemaak van alles wat sy tyd en gedagtes in beslag geneem het om net aan een ding te dink en dit is om God te vind.  

Ek soek U o God my God.  Dawid gebruik hier twee Name van God.  Ek soek U Elohim– Skeppergod wat uit niks kon skep.  Ek soek u El – (God van my) God van my krag en sterkte wat enige woestyn kan omkeer. 

Dit is logies dat Dawid se soeke en verlange na God hom ook laat verlang na die kerk. Die plek waar God se teenwoordigheid sigbaar word in ons aanbidding en gemeenskap met mekaar.  3Ek wil by U in U heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind.  

Woestyne laat jou dink aan die goed waarna jy jou lewe lank soek.  Die prioriteite van jou lewe.  Die gedagtes waarmee jy opstaan in die môre, die wat en waarmee jy jou uiteindelik besig hou.  Woestyne gee nuwe betekenis aan ons opsoek van God se teenwoordigheid selfs in ons kerk-wees.  Ek lees die bekende ware verhaal uit die lewe van koning Louis XIV van Frankryk.  Toe hy een Sondag met sy gevolg by die kerk opdaag was daar nie ’n enkele ander mens nie, net die aartsbiskop.  By navraag waarom die kerk dolleeg is, antwoord die biskop: Ek het afgekondig dat u nie vandag hier sal wees nie sodat u self kan sien wie kom net kerk toe om deur u gesien te word.  Dawid het ’n opregte soeke na God se teenwoordigheid!

2 Lofprysing – Die 2de element van Dawid se soeke na God vind ons in sy lofprysing

4U troue liefde is meer werd as die lewe: daarom sal ek U prys.

5Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u naam te prys.

In die haglike situasie waarin hy was, selfs in die woestyn kon Dawid nog redes vind om te sing!  En hy sing oor God se troue liefde.  ‘n Liefde ongeag wie jy is, of wat jy geword het of waar jy wegkruip.  God se liefde wat sondaars opsoek.  Dit is hierdie liefde van God, ver bo dit wat ons hier ervaar en mee worstel, wat jou laat sing.  Nie net met dankbaarheid in jou hart nie, maar sigbaar en hoorbaar vir God sing.  Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u naam te prys.  Hierdie lofprysing aan God was deel van Dawid se ontvlugting uit sy woestynsituasie.  Dit was sy terapie!  Miskien maak ons te min daarvan.  Miskien sing ons te min uitbundig, sonder pretensies en voorgee en vroomheid.  Miskien sing ons te min, amper soos Paulus en Silas, ons uit die tronk uit!  Lofprysing is in die Psalms keer op keer ’n manier van ontvlugting.  Om God te eer vir wie Hy is, maar om ook in hierdie lof-handeling ontvlugting te kry van die woestyne waarin ons vassit. 

Hy steek sy hande op om die Here te prys! Aangrypend!  So in skrille kontras met slap hande en arms van iemand wat moeg en moedeloos en hooploos in ‘n doodloop straat is. Hande uitgestrek, bo die ellende uit omdat God (Elohim) gesien en gedien word!  Miskien moet ons meer so sing!

3 God in jou gedagtes                    

7As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek:
8U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder U vleuels.

9Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my. Here, wat ook al gebeur – ek bly naby U.

’n Nag in die woestyn is ’n aangrypende ervaring.  Die nag kan jou oorweldig en laat rondrol, maar Dawid kies om die nag te gebruik om oor God te dink.  Deur in die nag op sy bed te mediteer, dink Dawid retrospektief terug in sy verlede en besef hy watter wonderlike ondersteuning hy van die Here gekry het (v 7).  Vriende, as ons iets verloor het soos karsleutels of ‘n beursie, wat is die eerste ding wat ons doen?  Ons loop terug op ons spore.  Ons dink terug waar ons orals was.  Waar ons dit die laaste keer gesien of gebruik het.  En dit is presies wat Dawid kom doen.  Hy dink terug aan die wonderlike pad wat die Here met hom geloop het, van skaapwagter tot koning, van jong seun tot oorwinnaar oor die reuse Filistyn, Goliat! 

Vriende, God se lang pad met ons is seker een van die duidelikste tekens van sy voortdurende nabyheid en sorg.  Maar juis daarom moet ons ons gedagtes op die regte goed rig, veral as dit donker raak en ons in woestyntye is.  Veral as dit donker raak en ons op ons bed rondrol.  Dit is juis dan wanneer ons moet peins oor God se sorg sodat ons met moed en krag en dankbaarheid die son sal sien opkom met God eerste in ons gedagtes.    

Slot  Wat my opgeval het van hierdie Psalm is die opskrif: Na aanleiding van sy verblyf in die woestyn.  Toe Dawid hierdie lied gesing het, het sy woestyn nie onmiddellik verander nie.  Trouens, hy het lank daarna nog in die woestyn gebly.  Wat wel verander het was sy visie op die woestyn, nee, sy visie op God het in die woestyn verander!  U sien, dit is in die woestyn waar hy ontdek en groei en leer.  Waar hy ontdek het wat maak sin, meer nog: Wie maak sin as dit droog raak rondom jou. 

U sien, dit is die les van woestyne.  Woestyne het die manier om perspektief te bring op die dinge wat werklik van waarde is.  Woestyne stroop jou van jou koningskap – en dit maak jou dors vir God. 

Ons wil baie keer ons woestyndors vinnig les sodat ons kan aangaan.  Ons soek vinnige oplossings en koop selfs goedkoop lafenis wat die wêreld aanbied as uitkoms om te drink.  Ons probeer met ons 4×4 planne oor die duine jaag om uit die woestyn te kom, maar mis gevolglik ’n reis saam met God. 

Op ’n vreemde manier leer Dawid ons om woestyne te waardeer en woestyntye te koester.  Want in die woestyn bly net die dors oor.  En dit is dan wanneer jy jou slap hande sterk moet maak om na God uit te steek.  En jy sien, dit is dan dat God jou dors kom les – nie met water nie, maar met die fontein van die lewe, Homself. 

Liewe broer en suster, dalk is ons woestyne ’n goeie plek want dit maak ons dors.  Amen