(Paassondag se Opstandingsfees begin om 6:37 voor die kerk.)

SKRIFLESING: Mat 27:45-50

PaasfeesPaasfees is altyd volmaanfees. Geen gewone sonsverduistering is moontlik nie.

God grypegter in die natuur in.

Duisternis helder oordag, op die middaguur.

Toe is Jesus, volgens Markus, reeds gekruisig.  Trouens hy is al drie ure aan die kruis.

Die tyd sleep pynlik stadig verby.

Die duisternis is teken van God se toorn oor sonde,  oor die ongeloof van mense. oor die spot van mense!   God trek as’t ware ook  ‘n beskermende duisterniskleed oor sy Seun aan die kruis. Wat jy nie sien nie, kan jy nie verder bespot nie!

 Tema:  Leer die nuwe taal van die kruis.  

Ons staan vandag stil by Jesus se sg vierde kruiswoord.

Dit is ook die enigste kruiswoord waarvan Matteus evangelie ons vertel:

Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani!” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

In die verstaan van hierdie kruiswoord is daar toe ‘n taalprobleem.

Jesus roep iets uit en die soldate probeer daarvan sin maak, maar vorder nie daarmee nie.

 

En ons weet mos in SA, met sy 7 amptelike tale, hoe verwarrend taal kan raak.

(As daar een teleurstelling in my lewe is, dan is dit dat ek na al die jare in die Vrystaat nog nie Sotho vlot kon leer praat nie.)

 

Jesus praat in Hebreeus en Aramees:

“Eli, Eli…” is meer Hebreeus.  “…lema sabagtani.” is meer Aramees.

Dit was die Jood se spreektaal.

En die soldate rondom die kruis probeer iets van hierdie vreemde taal verstaan.

Die taal van die Romeinse soldate was “volks-Latyn” (“Vulgar Latin”)

Hulle verstaan niks van die kruistaal nie.

“Eli, Eli, lemá sabagtani!”

Party van dié wat daar gestaan het, het dit gehoor en gesê: “Hy roep vir Elia.” (:47)

– alles behalwe!!

As die soldate maar geleer het om Hebreeus te praat, sou hulle meer verstaan het.

Miskien wil die Here met hierdie kruiswoord vandag vir jou uitdaag om ook ‘n nuwe taal aan te leer.

Die taal wat ons moet aanleer, is die taal van Goeie Vrydag en Paasfees.

 

Wat is die taal van Paasfees?

Dit gaan nie oor ‘n liguïstiese taal nie.

Dit is bepaalde geloofstaal… met vier aksente wat ons moet aanleer.  En jy leer ‘n taal stelselmatig aan soos wat jy dit gereeld hoor, begin skryf, begin praat.

 

  1. Aan die kruis leer ons die taal van nood.  Die las is te swaar.

En dit gaan nie maar oor die seer van spykers deur gewrigte en voete nie.

Dit gaan oor die pynlike effek van sonde waarvoor daar betaal word

Dit gaan oor die gewig van die sonde van die mansdom  –  waarvan ‘n hele paar kilogram myne en joune is.

Die taal van die kruis is om te erken die seer is pynlik.

En ons het elkeen ‘n stuk seer.

Sommer nou in ons ry deur die Baviaans ontmoet ons heelwat mense. Elke tweede person vertel vir ons ‘n verhaal van trauma en seer.

Elkeen van ons het ‘n stuk seer en ‘n stuk teleurstelling.

Die taal van die kruis is om te probeer verwoord wat seer is.

Dit is om voor God te bely dat die seer te veel is.

Dit is taal van broosheid.

Dit is die taal wat ons moet aanleer.  Ons moet leer om daaroor te praat.

 

2.  Met wie moet ons daaroor leer praat?

“Eli, Eli….”.

My God, my God…”

 

Let mooi daarop dat hierdie nie vloektaal is nie.

God bly steeds vir Jesus “My God”.

In sy diepste nood los Hy nie sy vasklemgreep op sy Vader nie.

Jesus leer ons om met ons seer en laste na God te gaan en met Hom daaroor te praat.

Die feit dat die Vader in sy geregtigheid hierdie Een aan die kruis moes los omdat Hy besmet is met die sonde van generasie op generasie, beteken egter nie dat Jesus sy Vader los nie.

Die nagmaalformulier stel dit so mooi: Jesus was van God verlate sodat ons nooit ooit weer van God verlate hoef te wees nie.

Die prys is betaal.  Die verlatenheid het wel end gekry.

Dit maak van die kruistaal geloofstaal, verbondenheidstaal.

 

3.  Die kruistaal is ook plaasvervangende taal:  Jesus het dit vir my gedoen en ek is inbegrepe in die kruisgebeure.

Praat en leef vanuit hierdie eenheid in Christus, jou Verlosser.

Begin praat ook die taal van plaasvervanging.

Begin leef die styl van in te tree vir ander.

Wees daar vir ander!

 

4.  Maar hierdie geloofstaal kom ‘n hele ent saam met die geloofsgemeenskap.

Trouens, die woorde van Jesus is ‘n direkte aanhaling uit Psalm 22 (wat jy gerus weer moet gaan lees.)

Ps 22 is die klaaglied van ‘n gelowige wat swaar gekry het en na God roep om hulp.

Toe Jesus aan die kruis hang, kon Hy nog “Bybel lees”.

Dit was die refrein van die geloofsgemeenskap wat vir hom Psalm 22 geleer het.

Moet nooit te min dink van die geloofstradisie waarvan jy deel is nie.

Jou nood het ander ook al voor jou ervaar.  Leer by hulle die taal om daaroor te praat. Jou gebed om hulp is ook al deur ander voor jou gebid.  Leer hul gebede aan.

Jy staan nie alleen by jou kruispaaie nie.

Waardeer die taal van die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is.  Waardeer die geloofsgemeenskap self.

 

5.  Die laaste element van die kruistaal is dat dit ook taal is van hoop.

Psalm 22 sluit af met die getuienis dat God die bidder  se noodroep verhoor het.

Geloofstaal is dan om in jou nood en in jou gebed te weet … God sal verhoor en Hy sal red.

Dit was ook Jesus se hoop-taal.

Daarom was sy noodroep nie wanhoopsroep nie, maar uitroep van vertroue.

Leer die kruistaal van hoop aan.

Nou sal jy verstaan waarom ons die taal van die kruis/Paasfees fyn onderskeidend moet aanleer.

Vir die soldate was dit moeilik om te onderskei:

“Eli” (my God)  en “Elion” (Elia) het verwarrend naby aan mekaar geklink.

Maar die implikasies was wêrelde uit mekaar.

 

Leer hierdie Paasfees die taal van die kruis.

Leer dit is die fynste nuanses aan.

Maak dit deel van jou gebed.

Maak dit deel van jou lewe.

Maak dit deel van jou getuienis.

 

En luister op Paassondag wat sou die nuanses van die Paastaal wees wat jy daar sou leer…?

Vs 48 en 49 is veelseggend:

“Een van hulle hardloop toe gou, vat ‘n spons en maak dit vol suur wyn en hou dit op ‘n stok vir Hom om te drink.

Maar die ander sê: “Wag, laat ons kyk of Elia hom kom red.”

 Wag laat ons kyk….!

En miskien moet ons ook weer met verwagting en nuuskierigheid sê: “Wag laat ons sien…”

Ons het genoeg om ons besig te hou tot Sondagoggend.

Maar geestelik is die groot asem-ophou rondom hierdie “Wag laat ons sien…”

Ek bid vir jou ‘n nuwe Paastaal toe!                     Retief Botha