12 Desember 2010 

Expedition GeForce.  Een van die beste in die wêreld.  180 voet val teen 74 myl per uur en dit neem net ’n paar sekondes meer as 2 min om die 4000 voet te voltooi.  Ronan Keating sing ’n liedjie met die titel: Life is a rollercoaster.  En dan moet jy maar vashou op hierdie ekspedisie waarop ek en jy is.  Miskien sou jy daarmee kon assosieer vanaand.  As jy nou terugdink oor die afgelope jaar dan was daar sekerlik in jou lewe ook tye waarin jy die steil bulte geklim het en gewonder het wanneer kom jy bo gaan uitkom.  En dan was daar die tye van die vreugde en plesier as jy die afdraand vat.  En hierdie emosie van opdraand en afdraand herhaal hom soos die jaar aanstap.  En aan die einde van die jaar kan nie een van ons glo dat die rit so vinnig verby is nie. 

Dawid het hierdie rollercoaster lewe geken.  Inteendeel hy praat daarvan in Psalm 40.  Van die oppe en affe van die lewe.  En op ’n stadium in sy psalm skryf hy dat dit vir hom voel of hy onder in ’n donker put gegooi is en nie daar uit kan kom nie.  Hy voel ver van God af.  En in hierdie hopelose situasie kyk hy na God, want dit is net Hy wat hom kan help (vers 2).  En dan lees ons in vers 2-3, dat die Here afgebuig het om hom uit die put van sy moedeloosheid weer op te tel en uit te trek.  En die Here kom gee hom weer ‘n bietjie hoop en moed om aan te gaan.  Dit is maar die refrein in ons eie lewe ook.  Moeilikheid, doodloopstrate, donker en as ons ons oë uitvee het God ons oor die bult getrek en wonder ons maar hoekom het ons daaroor geworry.  Want na elke opdraand is daar altyd weer ’n afdraand. 

Daar lê ‘n ander baie belangrike ding in hierdie psalm opgesluit.  En dit is naamlik die verantwoordelikheid wat kinders van die Here het om oor die ingryping van God in ons lewe te getuig.  Gelowiges het ‘n verantwoordelikheid om oor God se wonderdade in ons lewens te praat. 

Keer op keer sê Dawid dat hy sal vertel oor wat die Here vir hom gedoen het.  Vers 4: “Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê…Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!”  Vers 6: “Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen….Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat…”  Vers 10: “Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos.  Ek het nie stil gebly nie, Here, U weet dit!  Dat U verlos, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en u hulp.  Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.”  Dawid kon nie stilbly oor wat die Here vir Hom gedoen het nie! 

Jy sien, jy het nie graad nodig om ’n getuie te wees nie.  Jy hoef ook nie al die Bybeltekste uit jou kop te ken om mense van die Here te vertel nie.  Om te getuig, soos Dawid sê, beteken eenvoudig dat ek oorvertel dit wat God vir my gedoen het.  Dat ek God se stories met my lewe met ander sal deel.  Dat ek sal vertel van die oppe en affe en hoe die Here my gelei het. 

Interessant dat die woord evangelie “gospel” kom van die Anglo-Saksiese woord wat “God’s story” beteken.  Met ander woorde wanneer ons getuig doen ons niks anders as om God se storie te vertel nie.  Ja, God se storie van Kersfees en paasfees en Golgota, maar ook God se storie met my lewe. 

Dink gou vir ’n oomblik aan dit wat vir jou sleg en swaar en moeilik was hierdie afgelope jaar.  Ek dink baie keer wil ons so gou moontlik net die sleg vergeet, maar jy sien, ’n mens groei geestelik wanneer jy die swaar en donker tye onthou.  Want dan sal jy onthou hoe die Here se sorg en liefde jou oor die bult getrek het.  Dit is daardie herinneringe wat ons weer moed en krag sal gee wanneer ons volgende jaar weer die donker moet trotseer.  Soos God gelei het, so sal Hy lei!  En dan vriende, moet jy onthou, dat die Here nie net vir jou uitkoms gegee het om jou beter te laat voel nie, elke stukkie swaarkry en elke stukkie bekommernis waardeur die Here jou gelei het, is ’n storie wat Hy vir jou gegee het om met ander te deel en so sy Naam groot te maak.  So kom gee Hy vir ons stories, stories oor ons eie lewe waarmee ons Hom kan eer.  Die vraag is natuurlik: Hoeveel van God se stories in jou lewe het jy die afgelope jaar met ander gedeel? 

Ek lees ‘n interessante artikel waarin ‘n navorsingsgroep in 1999 bevind het dat slegs 53% van alle Christene voel dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om ander van hulle geloof te vertel.  Slegs 58% van die Christene kon sê dat hulle die afgelope jaar hulle geloof met ‘n nie-gelowige gedeel het.  Met hoeveel mense het jy die stories wat God vir jou gegee het, in 2010 gedeel? 

Hoekom, vriende, mompel ons as gelowiges soms so binnensmonds oor God se wonderwerke en genade in my lewe?   Ons kan baie maklik ander stories uitlap en met smaak vertel, maar hoekom sukkel ons om Sy Naam in gesprekke te noem?  Hoekom is ons so skaam om vir mense te sê wat die Here in ons lewens gedoen het?  Miskien oefen ons dit te min.  Want voor jy die vrymoedigheid sal kry om dit vir ander te vertel moet jy eers die vrymoedigheid hê om dit vir jou man of jou vrou of jou kinders te vertel.  Hoe kan ons verwag gemeentelede moet Maandae tot Saterdae stories oor God deel as ons nie in ons gemeente die vrymoedigheid het of die vrymoedigheid skep om hier in die erediens mekaar se stories aan te hoor nie.  Weet u wat is die gevolg van daarvan?  Hier sit vanaand 50 of 70 stories van hoe die Here gehelp het, maar wat ons nooit sal hoor nie.  Stories wat ons kon bemoedig en hoop gee, maar wat ons van mekaar weerhou, erger nog, eer wat ons van die Here ontneem.    

Laastens is stories nie net lippetaal nie.  Die woord “witness” is ‘n vertaling van die Griekse woord “martus” wat “iemand wat deur sy/haar lewe getuig” beteken.  Met ander woorde saam met jou woorde vertel jou lewe ook ‘n storie. 

Ons het hierdie jaar elkeen soveel seën in ons lewe ervaar.  Ons is vandag almal, op een of ander manier, getuies van God se liefde en trou.  Vriende, daarom mag ons nie stilbly nie.  Want as ons stilbly ontneem ons God die lof wat Hom toekom en mis ons ‘n geleentheid om deur ons stories oor Hom te praat. 

As jy weer oor jou rollercoaster lewe gesels, oor die swaarkry of vreugde, gebruik die geleentheid om God se storie met jou te deel.  “Dat U verlos het, het ek nie vir myself gehou nie, ek het gepraat oor u trou en hulp.  Oor u goedheid en u trou het ek in die gemeente nie stilgebly nie.”  Mag die Here ons help om stories te onthou en nie te vergeet wat die Hy gedoen het nie.  Maar mag ons die stories deel, sodat die wêreld God kan hoor!  God roep ons in hierdie wêreld as Sy storievertellers!  Amen