grawe-putteOm ‘n put te grawe is nie speletjies nie.

Om ’n put te grawe beteken dat jy ’n klomp grond en klippe moet uit kry uit ’n al-dieper-wordende gat.

En dan moet jy geloof hê dat daar onder water sal wees.

En jy moet nie moedeloos word en een meter te vroeg ophou grawe nie.

Want dan is al jou harde werk tevergeefs.

 

Isak en sy span was al spesialiste in putte grawe.

Waar hulle ookal aangekom het, het hulle putte gegrawe.

En nou was hulle ook nomadiese veewagters wat redelik gereeld versit het agter nuwe weivelde aan.

Isak was die ou wat putte gegrawe het.    Die hoofstuk vertel van 7, 8 of meer putte.

Hulle het putte gegrawe soos pa Abraham altare gebou het.

Ons ken nou al Abraham se verhaal hoe dat hy uit Ur getrek hat na Kanaän.

En oral waar hy gekom het, het hy altare gebou.

Die hele Kanaän was naderhand vol altare.  En dit is ook te verstane, want Abraham het God en sy roepstem nuut ontdek.  En almal wat by hierdie altare verby geloop het, het later geweet: Hier is iets besonders aan hierdie Abraham en sy God.

Nou was dit Isak wat die putte grawe en ook ‘n altaar bou.

 

Die agtergrond is egter belangrik.

Die lewe in hierdie vreemde land was nie maklik nie.

Dit was al weer tyd van hongersnood.

Ons kan daarmee vereenselwig.  Dit reën nie baie in Palestina nie.

En nou is dit weer tyd vir droogte. Die wêreld is kurkdroog en die putte droog op.

Met die vorige hongersnood het Abraham na Egipte getrek, maar nou keer die Here vir Abram voor en sê hy moet nie trek nie.

 

Dit is egter nie net die hongersnood wat uitdagend was nie.

Die Filistyne self gee ook vir Isak gas.

Hulle gooi gooi sy putte toe uit jaloesie.

Isak vrees dikwels vir sy lewe.  Isak vrees dat hulle sy vrou sou vat.

Die lewe is nie so ’n eenvoudige “walk in the park” nie.

Ons ken dit!

Maar dan gebeur die grootste ding:  God verskyn aan Isak.

Ons noem dit ’n teofanie.

En God verskyn nie net een keer aan Isak nie.  Dit gebeur selfs ’n tweede keer.

En wat sê God? Omtrent presies dieselfde by beide Godsopenbarings…

Dit is basies dieselfde beloftes wat God vir pa Abraham gemaak het.

God doen dit as Verbondgod ook met ons – by herhaling.

Minstens weekliks is hier ’n formele ontmoetingsgeleentheid in ’n erediens.

Ons kan nie sê ons hoor nie God se stem nie.

Ons as predikers is totaal verstom oor hoe wonderlik God werk.

Hy is met ons op reis op ’n baie geordende wyse wat ons nie self beplan nie.

Ons probeer net fyn luister.

Die laaste drie weke:

God is besig om Hom aan ons te openbaar.

God verskyn aan ons.  Hy het dit in Christus Jesus gedoen. Hy doen dit deur Sy Woord. Hy doen dit deur die Heilige Gees in ons.  Hy doen dit deur die getuienis van ander  mense.

En ons net mooi (in die geloof) kyk … dat ons Hom nie mis kyk nie.

En wat doen jy nou as jy vir God raaksien?  Soos Isak.

Dan bou jy allereers ’n altaar!

en ook vir God raak te sien.

En jy aanbid Hom!

Dit is waarom ons ’n Geloofsentrum vir Aanbidding is.

Hierdie gemeente met die toring wat na bo wys is niks anders as ’n offeraltaar nie.

Die wierook van die offer/offers/die Offer moet hier opstyg.

Ons is elkeen ’n altaar.

En terselfdertyd ook die offer.

Ek lees die mooi gebed van ’n kind van die Here wat vir ons ’n oggendgebed leer.   Hy bid dit elke oggend voor hy opstaan.

Dit klink soos volg:

“Here, ek verklaar hierdie bed waarop ek nog lê as altaar.

Ek gee myself as ’n offer aan U op hierdie altaar.

Laat my lewe vandag ’n offer wees tot U eer.

Gee dat die geur van hierdie offer vandag ook vir mense hoop sal bring

… en ’n glimlag in U oog.”

Bou ’n altaar!

 

Maar Isak se tweede taak was om putte te grawe.

Waarom grawe ’n mens putte?

Natuurlik om water te kry.

Geen mens kan leef sonder water.

Geen kleinvee kan leef sonder water.

En daarom grawe Isak en sy slawe putte – vir water! Om te kan lewe!

Maar dit is nie so probleemloos nie!

Die putte van pa Abraham se tyd is deur die jaloerse Filistyne toegegooi.

Isak grawe hulle oop.

Ander putte grawe hulle nuut.  En as die Filistyne die eienaarskap daarvan betwis, dan los Isak dit doodrustig in hulle hande en hy gaan grawe maar net nuwe putte.

Hy seën hulle eintlik met hierdie putte.

En elke put kry ’n naam.

Die derde put word uiteindelik nie betwis nie en kry ’n besonderse naam wat bekend op ons oor val:  Rehoboth (“Ruimte”).

Dit is waar die Rehobotbasters van sentraal-Namibië hul naam vandaan kry.

Gaan lees maar weer die besonderse geloofsverhaal van hierdie bevolkingsgroep.

(Gaan lees sommer Wikipedia se weergawe.)

 

Maar wat sê die putte vir ons vandag?

As God aan jou verskyn het – gaan grawe putte van liefdesdiens.

Steek jou hande uit jou moue uit en gaan doen iets vir mense.

Doen iets vir jouself en vir ander.

Jy moet oorleef.

Maar terwyl jy vir jouself sorg,

grawe maar sommer ’n liefdesput van oorlewing vir ander ook.

Of dit nou jou opponente is en of dit nou jou naaste familie is, grawe genoeg putte!

 

Suid-Afrika het putte van liefde en hoop nodig.

Want baie mense ly baie dors – en dit is nie net fisiese dors vir water nie!

’n Bietjie liefde, ’n bietjie belangstelling, ’n bietjie bemoediging, ’n bietjie

liefdesdiens – dit maak vir ander mense dikwels die wêreld se verskil.

 

Ons glo mos dat ons ’n Sentrum vir Diens is.

……  En so kan ons heeldag aangaan.

Maar moet nie ophou om putte te grawe nie!

Dit is welliswaar harde werk.

Maar dit is hoekom ons saam “grawe” as gelowiges.

 

Ek sluit:

Om putte te grawe het te make met ons liefdesdiens.

Maar hierdie dienswerk lê eintlik nader aan ons as ons hande wat die putte moet grawe.

Dit lyk vir my of dit oor meer gaan as wat ons moet DOEN.

Dit gaan eintlik oor wie ons moet WEES.

 

Jesus het by geleentheid gesê (Joh 7:37):

“Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ”

So?

Nie net putte grawe nie, maar om waterputte te word!

Sodat hierdie lewende water wat die Heilige Gees gee, doodeenvoudig uit ons kan vloei – sodat dit kan deurvloei na ander toe.

Jesus is die bron. “…die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Joh 4:14)

Die Heilige Gees gee dit in ons lewens.

Ek en jy word die dankbaar-gewillige kanaal daarvoor.

En die wêreld …. kry hoop en nuwe lewe!!

Hou aan putte grawe!

Amen

Gebed:

Here,  Dankie dat U net so verrassend vanoggend ook aan ons kom verskyn, ons ontmoet en met ons kom praat.   Dit maak die hele verskil …. in ons lewens … in ons samelewing.    Ons ken U al so:  dat U nie vir ons wegkruip nie!

Juis daarom, Here, bring ons vanoggend ons aanbidding aan U.

Ons verklaar hierdie preekstoel en hierdie kerkbanke as altare waarop ons ’n offer aan U bring – onsself.  Here want U het ons geleer om te offer:  Uself.

Maar, Here, ons wêreld is baie droog en versmag na hoop.

Daarom het ons lewenswater nodig.  Ons het U nodig – elke dag, en in elke uitdagende lewenssituasie.

Help ons daarom om lewegewende putte te grawe:  By ons werk, in ons eie gesinne, by ons bure, hier in die gemeente, hier in Bloemfontein.

Here, deur U Gees se werking, wil ons nie net die krag hê om diep waterputte te grawe nie.  Maak van ons die waterputte.  Lewegewend.

Doen dit deur U Heilige Gees.

Laat ons liefdesdiens nie net ’n stukkie welsyn wees nie, maar ’n liefdesgawe aan ons naaste – ook aan hulle vir wie ons nie so lief is nie, selfs hulle vir wie ons as opponente ervaar.

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.