Klik hier vir beeldmateriaal van die preek

As jy teenstand in jou geloofslewe begin ervaar, dan soek jy op ’n manier uit die spanningsituasie uit te kom.

Dit het die eerste lesers daar in Klein-Asië ook ervaar.

Risen Christ2Daar is teen hulle gediskrimineer.  Hulle is uitgebuit. Hulle is verkleineer.

Die leefwêreld het dit al moeiliker gemaak om konsekwent as Christene te leef.

Wanneer dit gebeur, is daar een van twee versoekings:

Hier saam met die aansit aan die nagmaalstafel, lees ons hierdie kosbare teks wat vertel van ons opdrag om geestelik te bly groei.

Eers is jy, na die wedergeboorte, ’n geestelike babatjie wat net sal groei as jy geestelike melk inkry.  Dan, en dit is deel daarvan, dan sal jou lewensstyl ook al meer die vorm aanneem wat iets weerspieël van hierdie verhouding met Jesus Christus.

Mettertyd gaan die oproep om te groei dan oor na die oproep om saam met ander gelowiges opgebou te word tot iets meer en bruikbaarder.

Die opgroei-beeld gaan dus oor in die opbou-beeldspraak.

SKRIFLESING:  1 Pet 2:1-10

Taal is ’n wonderlike ding.  Wannneer taal in die hart en mond van mense leef, dan word daar deurlopend nuwe woorde geskep.  Ons praat van neologismes.

Party van ons sou weet dat

Partykeer moet nuwe woorde geskep word vir begrippe wat nog nie voorheen bestaan het nie.

Twintig jaar gelede was daar nie dinge soos webwerwe en geheuestokkies, robots en sushi nie.

Toe eendag skryf die apostel Petrus ’n brief vir die jong gelowiges daar in die noord-westelike dele van Klein-Asië.

Eers roep hy die gelowiges op om, omdat hulle nou aan Christus se redding “geproe” het, nou soos dors babatjies die melk van die Woord te drink.

Dan sal hulle aptyt ook al groter word en hulle sal geestelik groei.

Nou kom hy by die tweede appél.

En Petrus gebruik in Grieks ’n begrip wat die gelowiges laat regop sit.

Hy skryf iets heel radikaals, revolusionêr.

Hy skep ’n nuwe taalbegrip.

Ons kan praat van ’n geestelike neologisme.

Die begrip wat hy hier gebruik is “lewende steen”.

“Kom na Hom toe, die lewende steen…”

Van “steen” en “lewe” het die lesers geweet.

Maar “lewende stene” het hul nie geken nie.

’n Klip is ’n dooie ding.  Waar hy lê, daar lê hy!!

(Net soos “klip-christene” dan ook  “dooie christene” beteken.)

Maar nou-ja, die evangelie is ook vreemd en nuut van begin tot einde.

Vanuit die OT agtergrond het die gelowiges egter onthou dat soms na God self verwys word as die rots of ankerpunt wat betroubaar vas staan.

Jy hoef nie aan Hom te twyfel nie.

Dan haal Petrus vanuit sy Skrifstudie 3 tekste aan:  uit Jesaja en die Psalms.

Elkeen van die tekste bevat die begrip “klip”.

En elke aanhaling belig ’n ander aspek van die appél om na die “Lewende Steen” te kom.

Nog later in die evangelies was dit Jesus wat vir einste hierdie Petrus die naam Petros/ “Rotsman” gegee het.  Geen wonder dat die “petros”-gedagte vlak in sy gedagtes gelê het nie!  Alhoewel Petrus self ook maar op die harde manier uitgevind het hoe wisselvallig en onbetroubaar hy as Rots kan wees.

Petrus gebruik egter nie die “petros”-woord hier nie, maar wel die Griekse “lithon” (λίθον), “steen”.  Dit is die woord wat oa gebruik is vir die groot klip wat voor die opening van die tuingraf gerol is waarin Jesus se liggaam na sy kruisiging neergelê is.

“Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”

Die eerste oproep van die babatjies wat geestelike melk moet drink, sou die indruk kon laat ontstaan dat dit iets is wat ons individualisties op ons eie sou kon doen.

Hier sê Petrus egter:  “Nee!  Dit is ’n gesamentlike ding.”

Dit is soos ’n hoop bakstene wat op die perseel afgelaai word, maar wat niks huis gaan word as hulle nie saam ingebou word nie.

Dit werk net soos met die Lonmin mynstakings.

Een staker gaan nie reaksie kry nie, maar as al 20000 staak, dan het dit ’n geweldige impak.

Hier is ’n baie belangrike saak wat die stene moet raaksien:

  1. Hulle moet na Jesus, die Lewende Steen, kom.
  2. Nie my of jou individuele vindingrykheid nie, maar Jesus se argiteksplan vir die kerk en wêreld is die deurslaggewende.
  3. Die eerste steen (hoeksteen) wat daar op die hoek gebou word, bepaal die rigting en ligging van elkeen van die mure wat later verrys.
  4. Hy is die hoeksteen. Jes 28:16 se aanhaling later dra presies hierdie gedagte, nl dat Hy die uitleg van al die res van die bouwerk bepaal.
  5. Dan is dit ’n inbou en ’n opbou van die individuele stene in die allernouste verbondenheid met Christus.Omdat Hy uit die dood opgestaan het, daarom kan sy opstandingskrag deursyfer na elkeen van die stene wat teen Hom en op Hom aangebou word.
  6. Omdat Hy die lewende steen is, gee Hy vir ons die eienskap van lewe – deur Sy Heilige Gees.

 

Waar dit gebeur, daar kom iets radikaal nuuts tot stand.

Daar word nie net ’n geestelike huis gebou nie.

Daar word eintlik ’n hele tempel gebou waar die priesterlike offerwerk gedoen.

Ons kry amper die idee dat die stene, juis omdat hulle lewe, elkeen ‘n priester is.

En so word God verheerlik.

So word die offers gebring.

So styg ’n wonderlike brandofferreuk op tot eer van God.

 

Kom ons gaan egter net so klein ’n entjie terug.

Onthou dat Petrus skryf vir mense wie se geloof onder druk gekom het.

Nou roep hy hulle op om aan Jesus vas te hou / aan hom opgebou te word.

 

En dit lyk my of die tema van Paasfees tog hier baie belangrik is.

Want Jesus is die lewende steen.

Sonder Sy opstanding sou hulle niks van die lewe geken het nie.

Sonder ’n daaglikse leef vanuit sy opstandingskrag, sou hulle net laag gaan lê het om nie deur die golwe omgespoel te word nie.

 

Sien die gevaar is:

  1. Dat jy kan los raak van Christus.
  2. Dat jy die werklikheid van die opstanding kan vergeet.

 

Kom ons stel dit so voor:

Dit is om die steen weer voor die graf opening terug te rol!

Dit is ongeloof! / kleingeloof! / hooploosheid! / kragloosheid! / doodsheid!

Dit is om Jesus as’t ware terug te druk in die graf.

En jy verloor die hoop en opstandingskrag waarvan ds Bertie verlede week uit Rom 15 gepreek het.

As jy terug deins oor die teenkanting van die wêreld, dan rol jy weer die klip voor die graf terug.

Byvoorbeeld:

As jy  (:1) bedrog pleeg, dan doen jy dit mos omdat jy redeneer jy kan net oorleef deur oneerlikheid.   Dan vertrou jy nie die opstandingskrag van die Opgestane Heer nie.

Dan rol jy die steen terug voor die graf.

 

As jy (ook :1) jou beste plan is om op ander te trap en hulle te verkleineer, dan gebruik jy kwaadpratery.  Dit is om die ander mense rondom jou af te takel, omdat jy wanhopig is en nie vir Jesus met sy opstandingskrag vertrou dat aan jou reg kan geskied nie.

Jy rol die steen weer voor die graf terug.

 

Die aanhaling van vs 6 sê wie in die Hoekklip van Sion glo, sal nie teleurgestel word nie.

Letterlik staan daar in Jes 28:  “hy sal nie haastig wegvlug nie.”.

As jy wegvlug van die roeping wat die Here vir jou gee, dan trek jy ’n steep deur die LEWE van die Lewende steen.   Jy stoot die Opgestane Heer terug in die graf in.

As jy as priester nie die offers bring wat jy behoort te bring nie, om watter rede ookal, dan rol jy die steen terug!

As jy nie (:vs 9) die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat jou uit die duisternis geroep het tot die wonderbare lig – en jy deins daarvoor terug, onthou dan:

Die steen is weggerol!  Moenie die steen terug rol nie!

 

Ek sluit af met ’n verhaal uit Italië.   Dit is nie ’n ware verhaal nie, maar miskien maak dit iets van Petrus se boodskap duidelik.

Eendag is God se aandag getrek deur ’n hele groot oproer in Italië.

Dit het gegaan oor ’n man wat baie lief was vir klip.

Dan het hy jare lank aan die groot stukke marmerklip sit ek kap totdat die allermooiste figure daaruit voorgekom het.

So gaan Jesus toe af daar na die man met die naam van Michelangelo.

Hy was weer besig met so ’n stuk klip.

En Jesus vra vir hom:  “Nou wat maak jy, Michelangelo?”

“Jesus, ek is besig om U uit hierdie stuk marmer te bevry.  Sodat almal U kan sien.”

 (Sien die beeld van Christus met die kruis, The Risen Christ, 1521, Kerk van Santa Maria, Rome)

God se reaksie was:  “Maar Michelangelo, ek kan nie onthou dat ek in daardie rotsblok gaan woon het nie.   Ek woon nie eers meer in die kliptempel van Jerusalem nie.”

Michelangelo se reaksie was:

Maar Here, sedert U Seun na hierdie wëreld gekom het, het Hy U Heilige Gees oral gelos.

Al wat ek nou moet doen is om U te ondek (tot hier in die klip), aan U te raak en U sigbaar te maak vir die hele wêreld.”

 

Miskien is dit ons roeping:  Om God te ontdek (waar Hy ookal mag wees!), om aan Hom te raak en hom sigbaar te maak vir die wêreld.

Die steen is weggerol.

Moenie die steen terugrol nie.  Amen

(Prediker: Ds Retief Botha,  Vir enige reaksie, skryf gerus na rrbotha@Hotmail.com.)