Ons is besig met die reeks oor “my lewe as ’n museum”.

In daardie museum word daar baie van jou lewe uitgestal.

Dit is sigbaar vir almal.   Daar is skilderye en uitstallings van al jou mooi prestasies en goue oomblikke, en …. helaas…  ook van jou teleurstellings, mislukkings en verleenthede.

Die museum vertel hopelik ook van jou blydskap, gebedslewe en dankbaarheid (die vorige tema).

Nou is daar een baie belangrike uitstalling wat daar net doodeenvoudig in jou museum MOET wees.

Hierdie uitstalling het te make met jou verhouding met God.

Dit het te make met ’n kairos-moment (’n moment wat deurslaggewend is vir die res van jou lewe).

Dit het te make met die oorgang tussen oudheid en nuutheid in jou lewe.

Dit gee ook iets weer van die oorgang tussen ongeloof na geloof.

Dit weerspieël iets van die gebeure waar jy Jesus as jou Verlosser vind.

 

Dit is die verhaal oor ’n intense gesprek tussen Jesus en ene Nikodemus.

In die prediking gaan ek begin by Nikodemus, dan gaan ons stilstaan by Jesus se lering oor die nuwe geboorte en dan kom ons weer terug na Nikodemus en dit wat oënskynlik verder in sy lewe gebeur het.

 

Almal van ons hou van die gedagte van nuutheid.

Iets nuuts bekoor ons altyd.

Ons hou van nuwe klere, nuwe tegnologie, ’n nuwe uitdaging, miskien ’n nuwe beroep.

’n Blaadjie wat nuut omgeslaan word.

Iets wat nuut ontdek of uitgevind word.

…..   dit bekoor ons!

Nuutheid laat ons oë blink en laat ons harte vinniger klop.

 

En tog is daar ook ’n ander kant aan nuutheid.

Nuutheid daag ons dikwels uit.

Dit daag ons dikwels soveel uit dat ons nie kans sien vir die oorgang na die nuutheid nie.

Die Nuwe Suid-Afrika daag ons byvoorbeeld steeds uit.  Ons verlang soms terug na die oue.

Dit werk net so met ’n nuwe selfoon.  Ons is daaroor opgewonde, maar net totdat ons by die nuwe werking daarvan kom, dan raak dit frustrerend – en ons verlang terug na die ou bane.

Die ou webblad van die bank was bekend, en nou moet ons met die nuwe sukkel – totdat ons die waarde van die nuwe ontdek het!

Interessant hoe dikwels die Bybel praat van die oue wat ons moet laat staan en die nuwe wat ons moet najaag.  “Julle gees en gedagtes moet nuut word…”  (Ef 4:23)

Bekering self is bv om die oue te laat staan en nuut te begin leef.

Dit is om jou ou verstokte en sondige denkraamwerk agter jou te plaas en nuut met oë van geloof te begin kyk.

Johannes begin sommer hier vroeg in die evangelie, net na die verhale van die roeping van die dissipels om te vertel van nuwe wyn by die troue in Kana, die tempel word nuut uitgevee en dan kom hierdie verrassende ontmoeting tussen Jesus en Nikodemus – oor die nuwe .

Wie is Nikodemus?

Maar toe kom Jesus en Hy gee vir hulle ’n ander prentjie van God.

En as mense vir Hom vrae gevra het, dan het hy nie vir hulle na dogmas verwys nie.

Hy het vir hulle stories vertel.  Gelykenisse.  “Die Koninkryk van God is sóós….”.

Terwyl die Fariseërs geleer het “God is só…”.  Want hulle het mos geweet!

Dit was dus ’n radikaal ander manier van praat oor God en geloof.

 

En een aand toe raak die vrae in Nikodemus se hart net een te veel.

Die Heilige Gees maak dat hy net doodeenvoudig in Jesus se oë moet gaan kyk met al sy vraagtekens.

En met goeie redes, kan ons aflei, sluip hy onder beskerming van die donker na Jesus toe.

Hy wil bietjie anoniem bly.

Ferdinand Deist noem Nikodemus ’n nagdissipel in teenstelling met sy ander dagdissipels.

Nagdissipels is die mense met die vrae.   Alles is nie vir hulle so glashelder soos vir ’n Petrus en Johannes nie.  Nagdissipels worstel met Jesus en met geloof.

En dit neem dikwels lank om duidelikheid oor alles te kry.

Miskien is jy ’n nagdissipel!

Jy gaan miskien nog lank loop met jou vrae.

Maar onthou:  dit is eers in die ontmoeting met Jesus dat jy groter duidelikheid kry.

Soos Nikodemus!

Nikodemus groet Jesus met ’n waarderende woord oor Jesus se lering wat duidelik van God moes kom.  Ook Jesus se wondertekens het vir hom daarop gedui dat Jesus meer was as ’n gewone rabbi.

Die Joodse rabbi buig voor die Goddelike Rabbi.

Presies wat Nikodemus wou vra, word nie eers uitgespreek nie.

Nee, Jesus weet dit klaar.  Dit gaan oor die nuwe lewe waarvoor Jesus staan.

En daarom hierdie diepgaande opmerking:

“Dít verseker Ek jou:  (Letterlik: “Amen.  Amen!”) As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

 

Nou is hierdie ’n nuwe konsep vir Nikodemus.

Ons ken van kleins af die gedagte van wedergeboorte.  Daaroor is teologies baie geskryf.

Hier in die 500 ste jaar na die Hervorming lees ons weer die Heidelbergse Kategismus wat sê:

“Ons glo dat die Heilige Gees ’n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry.  Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes.  Dit maak Hom ons eie en soek na NIKS anders as na Hom nie.”  (Art 22).

Ons ken hierdie nuwe vlam wat ontvlam en wat die nuutheid van Christus in ons lewens indra.

Vir Nikodemus, was dit egter iets radikaal nuut.

Hoe verstaan hy dit?

Al wat hy daarvan kan maak is dat hy fisies weer gebore moet word soos ’n babatjie.

Hy sien ’n terugkruip in sy moeder se baarmoeder!   … en dit kan tog nie!

En dit is waarom Jesus vir hom mooi moet verduidelik:

Nie gebore word uit die water van die privaat swembadjie van die baarmoeder alleen nie, maar ook gebore uit die Heilige Gees.

In jou museumgallery moet daar dus twee skilderye hang:

 

En dadelik kry jy die aanvoeling dat, net soos jy nie veel aandeel kon hê by jou baba-geboorte nie, net so kan jy ook nie veel aandeel hê by jou nuwe geboorte nie.

Maar jy kan dit waardeer!

En jy kan die Drie-enige God daarvoor loof.

En jy kan dankbaar uit daardie nuutheid gaan leef.

 

Daarom nog ’n opmerking oor die terme wat Jesus hier gebruik:

As iemand nie anōthen (Grk: ἄνωθεν)  gebore word nie, kan hy nie die koninkryk van God sien nie.”

Hierdie anothen is ’n meerduidige term:

 

Sien die rykheid van die term:

Dit is ’n aanduiding van ruimtelikheid:  Die nuutheid kom van bo. Maw dit kom uit die hemel uit.  God neem die inisiatief.  God stuur sy Seun as Verlosser.

Hy doen dit omdat hy vir mense lief is.

Al wat ons moet doen is om dit te glo.

Daarmee het ons eintlik die hele Evangelie saamgevat.

Dit is waarop die gesprek dan ook verder uitloop:

Vers 14-16)

Moses het die slang in die woestyn hoog op ‘n paal gesit; so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan hê.

Daarmee word verwys na Jesus se kruisiging, en waarskynlik ook sy opstanding en sy hemelvaart.

En hier in lydenstyd moet ons die kruis weer mooi raaksien.

En dan word dieselfde gedagte van vers 15 herhaal in die bekende vers 16:

“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Maar die uitdrukking anothon het ook ’n tydsgebonde element.

 

Dit is iets wat die eerste keer nuut gebeur.

Sien, God spesialiseer daarin om met mense nuut te begin.

Trouens Jesus self is God se nuutheid wat hy in ons ou stowwerige en sondige lewe kom skenk.

Miskien is dit ons uitdaging om hierdie nuutheid te waardeer en opnuut te glo.

 

Maar die nuutheid is nie ’n nuutheid vir net een moment van ons lewe nie.

Dit is iets wat nuut bly.

Alle ander nuwe dinge se sprankel verdof en ons raak daaraan gewoond.

Maar omdat die nuutheid van van anothen geleë is in die Goddelike persoon van Jesus Christus, is dit ’n nuutheid wat ons elke dag nuut beleef.

Want ons leef elke oomblik in sy nuwe liefde en in sy nuwe genade.

 

Derdens is die anethen waarskynlik ook ’n kwalitatiewe term:

“nuut – van bo tot onder”.

Geen deel van jou wese en geen deel van jou lewe kan uitgesluit bly nie.

Jy ontvang die nuutheid van bo tot onder, van kop tot tone.

En as daar ’n stukkie oudheid terugsluip, dan moet dit uitgesmyt word.

Dit is bekering.

Moenie toelaat dat die nuutheid een oomblik êrens in jou lewe verdring word deur die oudheid nie.

 

En nou wonder ek laastens:

Wat het Nikodems gedoen met hierdie radikale en verrassende boodskap van die nuutheid van God?

Het hy die nuutheid aanvaar?

As ons net hierdie teks lees, dan oorskadu die boodskap uiteindelik vir Nikodemus.

Hy skuif op die agtergrond.

 

En dan wonder ek of Johannes nie doelbewus die einde van hierdie verhaal so bietjie oop laat nie.

Miskien wil Johannes ons nooi om in ons eie lewe iets met hierdie verrassende boodskap te doen.

Miskien wil hy sê:  Vergeet van Nikodemus!

Gryp jy net hierdie nuutheid!

Glo die nuutheid in Christus.

Gaan leef elke dag vanuit hierdie nuutheid.

Dan sal jou museum ’n inspirasie wees vir elkeen wat dit kom besoek.

 

Maar dan verras Johannes ons:

Nog twee keer lees ons so terloops die naam van Nikodemus raak in die Evangelie:

In Joh 7:47 lees ons dat die Fariseërs hulle vervies vir die dom-onnosel mense wat agter Jesus aan loop.

Maar dan is dit Nikodemus wat insinueer: “Miskien moet julle ’n slag na Hom gaan luister , kollegas.  Miskien moet julle ’n nagtelike besoek aan Hom gaan bring!”

 

Daardie gesprek oor die nuutheid van Bo het blykbaar in sy hart gaan vassit.

En iets van Jesus se nuutheid het in sy hart begin groei.

 

En dan kry ons ’n laaste keer ’n opmerking oor Nikodemus.

Dit is in Joh 19:38-40. (lees)

 

Hierna het Josef van Arimatea, wat ‘n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. Nikodemus, wat ‘n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ‘n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring.  Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

 

Nikodemus en Josef van Arimatea was was altwee nagdissipels.

En dit is hulle wat Jesus se liggaam van die kruis afhaal en dit balsem.

En die vraag is waarom sou iemand so iets doen?

Waarom sou jy iets doen wat die dissipels nie eers doen nie?

Al sterf Jesus, kan Nikodemus nie vir Jesus los nie.

Die nuutheid in sy lewe was net te groot.

Die nuutheid het in sy gene gaan vassit.

Ek sluit:

Nikodemus se lewe gee vir my hoop.

Dit beteken nie dat ek alles moet verstaan nie.

Dit beteken ook nie dat ons soos die dagdissipels heeldag agter Jesus moet aanloop nie.

 

Al wat nodig is, is dat ons na Jesus sal luister.

Ons moet die nuutheid laat inbreek in ons nag.

 

Miskien beteken dit ’n eerste oorgawe en bekering an Jesus.

Miskien beteken dit ’n nuwe oorgwe aan de nuutheid

Miskien beteken dit net ’n nuwe leef uit die vorwondering oor die nuutheid.

Amen