Jesus lag 2Ons is vanjaar besig met ’n reeks oor Bybelfigure.  Tans is Abraham aan die orde.

Die eeste verhale van die totstandkoming van ’n Godsvolk het te make met hierdie Abraham.

Verlede Sondagaand het ons uit Gen 12 gehandel oor die wonder daarvan dat God ons seën sodat ons op ons beurt vir die wêreld tot seën kan wees.

Vanaand gaan dr Andre uit dieselfde gedeelte voort om te handel oor die avontuur daarvan dat God met ons op reis gaan, sonder dat die eindbestemming vir ons die deurslaggewende hoef te wees/mag wees.

Gen 18 handel nou oor ’n insident meer as 20 jaar sedert Abraham weggetrek het vanuit Ur van die Chaldeërs – ten noorde van Palestina.  Met die vertrek uit Ur het die Here vir hulle ’n belofte gemaak, nl dat hulle ’n nageslag sal hê.  Maar nou is dit al 24 jaar later en steeds is daar nie ’n kinderstemmetjie in die huis nie.

Abraham en Sara het duidelik ’n groot vraagteken begin plaas agter hierdie “Roepstem” met Sy baie beloftes.

Nou is hier ’n baie interessante gebeurtenis….

SKRIFLESING:  Gen 18:1-15

Tema: Om saam met God te begin lag.

Om te lag, lekker uit jou maag uit te lag, is een van die kosbaarste geskenke aan die mens.

In ons teksgedeeltes is daar ’n refrein (wat ek netnou gaan uitwys) van mense wat lag.

Dit nooi ons daartoe uit om bietjie na te dink oor die laghandeling.

En dit nooi ons in om meer te begin lag/saam lag.

En dan begin ons wonder wat is dit wat maak dat mens lag?

Watter bestanddele is nodig vir ’n situasie om daaroor te begin lag?

Wat is “humor” wat lagspiere normaalweg begin prikkel?

Die antwoord en die definisie is nie so maklik nie!

Ek vind dat ek byvoorbeeld myself totaal slap lag oor Youtube videos waar ouens dom goed aanvang en hulself disnis val – vanaf fietse en rolskaatse en trampoliens af.

En eintlik is dit nie snaaks nie!  Dit is seer!

Maar dit is tog baie snaaks wanneer “dom soos grond” bloukolle kry!!

Dan is daar ook vorme van lag wat niks met humor te make het nie.

Want jy kry ’n vernederende uitlag van iemand.

Daarteenoor: jy kry ook ’n vreugdelag as jou span die Curriebekerwedstryd wen.

erder is daar die persepsie dat iets waaroor jy lag verspot behoort te wees.

En ons wil ons mos nie ophou met ligsinnigheid nie!

Daarom dink ons dat lag en iets ernstigs nie by mekaar pas nie.

Daarom dink ons miskien dat lag ook nie pas by godsdiens nie.

Vandag sal ons sien hoe God en lag baie met mekaar te make het.

Miskien wil die Here ons vandag leer om te lag …

…. om weer te begin lag,

… om saam met God (!) te begin lag!

En dan wonder ek of Jesus ooit gelag het.

Ons ken Jesus mos as die Man van Smarte en ons weet van sy trane oor Jerusalem.

En tog vertel die evangeliste nooit vir ons van Jesus se lag nie.

Maar waarom sou Jesus as volledige mens, met ’n ligte geloofstred, nie ook dikwels lekker saam met sy dissipels gelag het nie?

Wat is my verbasing groot dat Ps 2 sê dat God lag:

Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit …”

Diegene wat Sy gesag uitdaag, word deur God uitgelag.

Want Hy weet hulle is nie ‘n match vir Hom nie.

Ek hou nogal van die skilderye wat Jesus al laggend uitbeeld.

Dit is so ‘n bietjie buite-die-boks kykie na God.

 

Terug na Abram en Sara:

Geloof is die voorwoord tot humor.

En God se beloftes is die begin van ‘n groot gelaggery.

Daar by Mamre, diep op hul reis deur Kanaan, kry hulle onverwags drie vreemde gaste.

Alles rondom hierdie drie gaste is misterie.  Misterie hang soos ‘n miswolk rondom hulle.

Hulle kom op ‘n vreemde tyd daar aan. Op die warmste van die dag rus mens in Palestina.

Wie is hulle?  Waar kom hulle vandaan? Waarheen gaan hulle? Hulle word nie bekendgestel nie.

Die “stukkie brood” waarmee Abraham hul uitnooi word ‘n oordadige feesmaal.

Hulle ken die naam van Abraham se vrou.

Hulle weet dat sy kinderloos is.

Hulle ken selfs haar gedagtes.

Wie is die gaste?

Eers in die volgende hoofstuk blyk dit dat hierdie misterie-gaste niemand minder is nie as God self en twee engele.

Die tafel word gedek vir die buitengewone.

Die gewone is ook teenwoordig:  Vroue… hulle word nie gesien nie.

Hulle bly in die kombuis (of tent) en maak kos.

Die buitengewone is ‘n verrassend aankondiging:

‘Toe sê die een: “Ek sal beslis volgende jaar hierdie tyd na jou toe terugkom, en dan sal jou vrou Sara ‘n seun hê.” Sara het by die tentopening gestaan en afluister, en die een wat gepraat het, was aan die buitekant.’

Net die afluistery van binne die tent is al half komies.

En Sara lag in haar stilligheid. Die hele ou liggaam van 90 jaar ouderdom skud soos sy probeer om ongehoor te lag.

Die glimlag vertrek die bruingebrande plooie van die woestynson.

Die rede:  Tannie Sara was al in haar post-menoupousale fase.  Dan kry jy nie meer kinders nie.  Dan kan jy nie meer kinders kry nie! Sara en Abraham se ouderdom word doelbewus by herhaling genoem.

Van kinders kry is daar absoluut geen sprake!

Haar lag weerspieël hierdie onmoontlikheid.

Trouens, sy het hierdie lag by Abram self geleer.

Toe dieselfde aankondiging in die vorige hoofstuk aan Abraham gedoen is, lees ons (17: 17):

Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ‘n man van honderd ‘n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ‘n kind in die wêreld bring?

Sara het by Abraham die siniese kleingeloofslag geleer.  So stilletjies in die binneste.

Sodat ander dit hopelik nie sal sien nie.

Maar Abraham en Sarah se lag weerspieël die lag van mense uit alle tye.

In hierdie lag weerklink die kritiese ongeloof van die modern mens wat weet wat moontlik is en wat nie moontlik is nie.

Ons hoor van baie ander mense se wonder-ervarings.

Maar dit sal tog nooit met my kan gebeur nie…!?

Toe vra die Here vir Abraham: “Waarom lag Sara? Waarom dink sy: sal ek werklik ‘n kind in die wêreld bring noudat ek oud is?  Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.”

Is iets te buitengewoon vir die Here?” (Gen 18:14)

Sien, daar is terreine wat gewoon is.  Dit is die mens se speelparkie.

Dan is daar terreine wat vir die mens buitengewoon is.  Dit is God se speelpark.

En wanneer God in ons speelparkie kom speel, dan raak die buitengewone ook daar moontlik.

God kom neem partykeer ons speelparkies oor.

En dan spoel Sy seën en almag daaroor

– dat die buitengewone gewoon raak … en die gewone buitengewoon!

En Gen 21 vertel van die onmoontlike wat moontlik geword het.

En daar lê klein Isak’n jaar later in ma Sara se arms.

En wat beteken Isak?  “Hy lag.”

Pa het jare terug gelag.  Ma het ‘n jaar vantevore gelag. Die was die siniese spotlag van wat hulle gedink het wel moontlik of onmoontlik is.

Nou sal hulle elke dag herinner word aan hulle gelaggery van vroeër jare – elke keer as hulle na klein Isak roep!

 

En ‘n nuwe lag breek los:

Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde!   Almal wat dit hoor, sal saam met my lag.  Wie sou kon droom dat ek ooit ‘n kindjie sou hê?” (Gen 21:6. Nuwe Lewende Vertaling)

Dit is geloofslag wat die inleiding word tot ‘n geloofskoor wat saam begin lag.

Dit is wat ons rondom die nagmaalstafel ook moet wees.  Ons moet ‘n lagkoor word deur hierdie Woord en die Heilige Gees wat in ons werk.

 

Hoe raak dit ons elke-dag se lewe?

Daar is ‘n klompie refreine van ons dag wat maak dat ons ongelowig lag – soms in die stilligheid, soms blatant openlik…

“Ons sien ‘n omkeer van aardverwarming. Ha! HA!”

“Ons sien ons kinders wat nie in die toekoms in Dubai hoef te gaan werk nie. Ha! HA!”

“Ons sien ‘n verhouding van versoening in ons eie familie. Ha! HA!”

“Ons sien ‘n Suid-Afrika sonder rassisme. Ha! HA!”

“Ons sien finansieel ‘n omkeer uit ‘rommelstatus’. Ha! HA!”

“Ons sien ‘n einde aan korrupsie, geweld, swak regering en Nkandla.  Ha! HA!”

“Ons sien ‘n gemeente wat in Universitas sy 4-voudige roeping vreugdevol uitleef. Ha!”

Ons lag spottend hieroor omdat ons dink dit is te buitengewoon.

 

Ek sluit af:

Die vraag is:  Wat verwag ons nog van die Here?

Verwag ons meer as die menslik-gewone van die Here?

Of verwag ons die buitengewone van die Here, omdat Hy God is?

Ek dink God lag soms so bietjie teleurgesteld omdat ons so klein oor Hom dink.

Maar Hy lag ook omdat Hy weet dat ons kleingeloof in geloof gaan verander.

Kyk bietjie terug en sien hoe God al gehandel het in Sy buitengewone almag:

God nooi ons vanoggend in om saam met Hom te kom lag …  oor die buitengewone wat gewoon word.

Omdat ons Hom, die buitengewone God, begin vertrou in ons gewone…!

Amen