Geloof gaan ten diepste oor ’n reis.  Ons is op weg – met reisgenote en ’n Navigator.

 Dit is ook wat ons Nuwe Testamenties so mooi sien in die Emmausgangers se reis saam met die opgestane Heer.

 Die reis van die Israeliete hier was ’n woestynreis.

Hier, soos ook elke ander plek waar die woestyn in die Bybel ter sprake kom,

                        is die woestynreis  ’n tyd van skaarste.

Dit is daarom ook ’n tyd waarin mense bewus word van hul broosheid en afhanklikheid.

Dit is ’n tyd waar die reisiger se treë dikwels nie “links en regs…” is nie,

         maar “hoop- wanhoop…”.

 Dit is egter ook ’n tyd van voorsiening (water, manna, kwartels) omdat God daar is.

Omdat die Here self in die woestyn teenwoordig was, het hulle eerstehands geleer en gesien hoe die Here beheer oorneem.

 Dit het hulle ook geleer om die Here op ’n dieper  en nuwe manier te leer ken.

 Coenie Burger skryf so mooi: 

“Die woestyn is die plek waar jou oë weer kan oopgaan om die wonder van gewone dinge in die lewe te waardeer.

Die woestyn kan ’n plek vol verrassings word.”

 Vandag kan vir jou so ’n stukkie verrassing word.

 Baie mense lewe hul hele lewe lank op een plek.

Hierdie week vertel ’n vriend by ’n kerkvergadering in Johannesburg van mense wat hy geken het daar in Kareedouw se omgewing.

Hulle het slegs 16 km van die see af gewoon, maar die oom was in sy hele lewe nog nooit by die see nie!

 Hoe dit moontlik is, sou ons oor wonder.

Miskien was hy nou nie juis ’n avonturier nie.

Miskien was hy baie lief vir sy plasie.

Miskien het die vreemde hom bang gemaak.

 Hy was net gemaklik daar waar dit vir hom bekend is.

 Ons praat van gemaksones.

 Maar gemaksones, hoe veilig dit ook mag voel, kan ook baie gevaarlik word.

 Brian Tracey sê:

“You can only grow if you are willing te feel awkward and uncomfortable when you try something new.”

 Hy sê dus dat dit ’n voorwaarde is vir groei – om uitgeskud te word uit jou gemaksones.

 Dit is amper soos valskermspring.

Daar is geen manier dat jy die arendsvisie van bo kan kry,

                               die adrenalien in jou are kan voel en

                   die wind deur jou hare kan voel …..as jy nie uit die vliegtuig spring nie!

 Die Israeliete is soos hedendaagse bankamptenare net skielik verplaas.

Die Here het hulle uitgeskud uit hul leunstoele langs die “vleispotte.”

 Ons word ook uitgedaag na ’n nuwe lewe op reis saam met die Here.

Die geloofslewe is ’n lewe in transito.

 Die evangelies konfronteer ons met die aanhoudende uitnodiging om weg te beweeg van waar dit gemaklik is, van waar ons graag wil bly en waar ons tuis voel.

 Ons word uitgenooi en uitgedaag na die terreine van dienslewering,

                 na waar die konflik en die onversoenlikheid is,

                       om juis daar die agente van verandering te word.

En Israel was nie regtig lus hiervoor nie.

Daarom hulle verset.

Daarom hulle terugverlang na die gemaksones.

En daarom moet hulle soos ’n wilde perd  ingebreek word.

Dit was die enigste weg na gehoorsaamheid en diensbaarheid.

 Volgens Deut 8:2, 3 het die Here die woestyntyd van Israel gebruik om sy volk “dissipline te leer”.

 Nou is daar twee dissiplines waartoe hulle ingebreek moes word:

 1.  Die eerste is dat hulle die Here self beter moes leer ken.

 ’n Besondere ervaring waaroor die skrywer berig, word nie juis nader omskryf nie.  Dit is dat hulle, nadat Moses die klomp bymekaar kry, na die woestyn se kant toe kyk en “toe word die magtige teenwoordigheid van die Here sigbaar in die wolk.” (VS 10)

 Dit moes iets besonders gewees het!

So besonders dat dit die verslaggewers se asem skoon weggeslaan het, want hulle probeer dit nie eers beskryf nie.

 Ek dink elkeen van ons wil graag so iets sien.

En tog het die die Here vir ons sy Seun gegee wat sigbaar vir ons mens geword het – juis om God aan ons sigbaar te maak.

En dan versuim ons om die filmvertonings in die Woord te gaan kyk. 

    Hoe dom kan ons wees – ons wat juis so ’n behoefte het om “sy magtige    

                         teenwoordigheid” te sien.

 En verder sien ons ook nie raak hoe die Here Jesus gestalte kry in sy kinders rondom ons se optredes nie.  Ons sien dit nie raak nie omdat ons nie met geloofs-oë probeer kyk nie.

 Die volk moes ook die Here beter leer ken in sy geduld en in sy genade.

 Die refrein van die volk se verset loop dik in die verhaal.

En tog, ten spyte daarvan, lees ons nie dat dit as slaanstok gebruik word nie.

Ons wag vir die Here se oordeelshandeling, maar dit bly verrassend uit.

                                God is inderdaad genadig!

Al wat hulle kry is die Here se sorg!

                      Hoe kry hulle dit?

Die aand kom plak swerms kwartels sommer daar in die kamp. 

              En hul eet Kentucky tot hul monde blink is!

En die volgende oggend lê Sasko en Albany se miniatuur-broodjies spierwit rondom die kamp.

                                           Manna.

 Hoeveel keer moet ons in ons wanhoop nog ontdek dat ons maar die Here kan vertrou met ons nood-behoeftes?

 Hier is ’n onderstreping in die gebeure wat volg.

Daar moet vir elkeen net genoeg opgetel word vir die dag.

Maar party van hulle is so besorg oor môre dat hul sommer ’n klompie in die vrieskaste ook probeer bêre.  Maar die volgende dag is alles vrot en die hele wêreld stink.   En Moses is BOOS!

 Ten diepste is dit hul ongeloof wat gestink het.

                       En dit het vir hulle ’n verleentheid geword.

Dit is presies dieselfde boodskap wat ons Here Jesus vir ons in Mat 6 vanaf vers 25 gee:

            “Kyk na die lelies in die veld en die voëltjies in die lug……”

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra:  wat moet ons eet, en wat moet ons drink en wat moet ons aantrek nie….  Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het.”

 Hy is die God wat omvattend voorsien!

Leer om Hom te vertrou!

Leer om daarom minder paniekerig te leef!

 Kom ons trek die lyn net deur na ons fokus op lidmaatbemagtiging.

Ons het verlede Sondag gesien hoe ons moet bid vir liefde, en om die lengte en breedte en hoogte en diepte van die Here se liefde te ken.

Ons het gesê dit is die motivering hier tussen ons kop en ons hande.

 As ons egter nie vir God gaan vertrou nie, dan gaan dit daardie handjies van ons wat moet oopgaan in diens, in spasmas laat saamtrek.

Hoekom?

Want dan gaan hulle krampagtig alles moontlik probeer vashou!

           Dan begin jy jou manna oppot!   En dit gaan begin stink!\

 Want jy wil alles vashou omdat jy bang is dat jy môre uit energie en hulpmiddels gaan uithardloop.

Dan vertrou jy nie vir God om jou genoeg krag te gee vir jou diens vandag en jou oorlewing môre nie.

 Vertroue in God maak dat jou hande oopgaan.  En dit gaan nie net oor geld en hulpmiddels nie.  Dit gaan oor offerbereidheid en diensvaardigheid in ’n gemeenskap  waar jy geplaas word om ’n verskil te maak.

 2.   Die tweede dissipline wat hulle moes leer, was gehoorsaamheid.

 Dit word ook geleer in die kos wat hul wederregtelik  vir die volgende dag opgepot het.

 God se opdragte was duidelik!

2 liter vir elke dag vir elkeen.

Behalwe op die sesde dag.

            Dan moes hul genoeg vir die Sabbat ook bymekaarmaak.

 Hul besluit egter eiesinnig om self hul eie planne te maak.

 Hulle begin God bevraagteken.  Hulle toets God en God weeg vir hulle te lig.

Eintlik is dit juis die teenoorgestelde wat gebeur:

               Hulle word getoets – en te lig bevind!

 Gehoorsaamheid aan die wil van die Here is nogal ’n uitdagende ding vir ons dag.

Ons leef in ’n tyd van individualisme en afwesigheid van enige noemenswaardige gesag.

Alles is blykbaar in ons dag onderhandelbaar.

En elkeen doen, soos in die Rigtertyd, soos hy goeddink.

 Hierdie mag een van die grootste uitdagings van die Christelike kerk van ons dag wees.:   Gehoorsaamheid!

 Gehoorsaamheid om na die Woord van die Here te luister.

Maar ook gehoorsaamheid om fyn te luister na die stem van die Heilige Gees wat in ons harte fluister.

 Hierdie radikale gehoorsaamheid is deel van die inbreekproses op ons geloofs-in-transito-reis.

Ons in-transito-reis is eintlik niks anders as navolging van Jesus nie.

Toe Hy honger geword het in die woestyn en die versoekings van mag, populariteit en indrukwekkendheid as geelwortel voor sy neus gehou is, het Jesus nie sy eie begeertes voorop gestel nie.

 Hy was gehoorsaam aan die wil van God – telkens gemotiveer vanuit die Woord met…                                

                                “Daar staan geskrywe…”

 Sluit af:

Partykeer lyk die “in transito” deur die woestyn vir ons te vreemd om sinvol te wees.

 Partykeer lyk dit na ’n groot risiko!

Soveel vreemde afdraaipaaie waarop die Here ons deur die woestyn laat trek!

Moenie dink jou persepsie van die vleispotte is so rooskleurig nie.

Die beste plek is om te wees is weg van jou gemakstoel, daar op die avontuurpad waar jy God, sy sorg en gehoorsaamheid aan Hom leer ken.

          Geniet die reis!

                  Geniet die vryval!

Gelukkig is daar ook ander waaghalse saam met jou in die lug!

                       En die beste van alles:  Die groot Valskerm is betroubaar!

 

                      Amen                                               Prediker:   Ds Retief Botha