Denkraamwerk Die Reformasie was ‘n proses wat in fases verloop het.

Daar was ‘n groeiende bewuswording dat die kerk besig is om die essensie van die geloof te mis.

Maar een van die keerpunte was toe die jong priester van Wittenberg sy 95 stellings teen die kerk se deur gaan vasspyker. Van daardie moment af het die hervorming momentum begin kry.

Een van die groot aksente was die klem op die Woord van God.

Daarom moet ons nie moeg raak vir die Woord van die Here nie.

Lees: Joh 6: 22-71

INLEIDING

Ons moet altyd baie versigtig wees vir ons eie denkraamwerke.

Ons het elkeen ‘n bepaalde stel oortuigings wat ons lewe rig.

Ons kan praat van denkraamwerke of paradigmas.

Die grense van hierdie denkraamwerke of paradigmas skuif egter nie maklik nie.

Want dit gee vir ons sekerheid.

Dit vat partykeer groot ingrepe om sulke raamwerke te skuif of te vergroot.

So moet jy eers skool toe gaan om te leer om bietjie buite die boks te dink.

Later kan dit naskoolse opleiding wees.

Partykeer is dit ‘n trauma wat jou denkraamwerk skuif.

Na die dood van ‘n kind of ‘n eerste familielid dink jy net nie meer dieselfde oor lewe en liefde nie.

My denkraamwerk het die afgelope drie weke geskuif.

Ek het anders begin dink oor studente-protes en hoe die Here dit in hierdie land kan gebruik.

My denkraamwerk is in die vorige eeu gevorm en daar was nie juis plek vir publieke protesoptogte nie. Ek het gedink “dit is darem te erg”.

En skielik het ek begin wonder of dit, as dit in die regte bane gestuur word, nie tot groot verandering en seën vir Suid-Afrika kan lei nie.

My denkraamwerk skuif.

Ek sien die nood van studente, veral ook uit die arm gemeenskappe duideliker.

Ek sien die groeiende nood op baie vlakke in SA.

In ons geestelike lewe moet denkraamwerke ook verbreed of skuif.

Die prentjie van “liewe Jesus” moet groei soos ons God beter leer ken in sy almag en heerlikheid.

Die Bybelse geloofswaarhede moet al duideliker onderskei word.

Ons moet ons roeping in ons konteks al beter leer verstaan en daaraan gehoorsaam wees.

Daar is ‘n gevaar dat ons bv oor God al kleiner kan dink. Dit gebeur gewoonlik soos ons al groter en meer selfstandig en al meer selfgenoegsaam word.

Dan moet ons denkraamwerk reggeskuif word … of oopgebreek word om God te kan akkommodeer.

2.  Alleen Christus)

Joh 6 is so ‘n leerskool.

Die hoofstuk begin by die wonder van die vermeerdering van die brood.

WOW! Jesus gee brood!

Dit is wat mense nodig het. Dit is wat mense dink hulle nodig het.

Hul denkraamwerk is brood. Vol brood. Net vol brood.

En dadelik skuif Jesus hul denkraamwerk van die sigbare beperkende twee vissies en 5 broodjies na Sy almag om wonders te doen en 10 000 mense te voed.

Die klein boksie-denkraamwerk word oopgebreek.

Jesus word dadelik groter. Hulle moet Hom in ‘n groter denkraamwerk akkommodeer.

Maar die skare dink steeds net aan hul kosbehoeftes.

En juis oor kos begin volg hulle Jesus.

Daar is skielik ‘n groot klomp volgelinge wat ook saamloop, maar met kos as die grootste dryfveer.

Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het.” (:26)

 

Nou begin Jesus se intense gesprekke met die groter skare.

Die lewe gaan oor meer as kos.

Daar is ‘n baie groter geestelike raakwerk wat moet vorm.

En Jesus sluit aan by die broodtema. En Hy brei dit uit met die wyn-tema.

Dit kry amper ‘n nagmaal-tema.

Om geestelik te lewe moet julle ook eet.

“Die brood wat God gee, is Hy wat uit die hemel kom en aan die wêreld die lewe gee.” (:33)

 “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. (:35)

 Die grootste sprong in ‘n mens se lewe is om jesus plek te gee in jou denkraamwerk.

Hy bring lewe. Hy bring die ewigheid in ons bestaan in.

Hy bring die hemel in ons aardse lewe in.

En daarom bring hy hoop.

Dit is natuurlik ‘n denkskuif wat nie net gebeur as jy die eerste keer vir Jesus ontmoet en met Hom in ‘n verhouding tree nie.

Dit is ‘n voortdurende dinamiese proses.

Ons denkraamwerk wat Jesus akkommodeer, het ‘n nare geneigdheid om voortdurend te krimp. Soos ons en ons agendas meer ruimte soek, so verklein (verkleineer!) ons Jesus.

En dan moet God ingryp om om Jesus weer groter te maak.

En heiligmaking is ‘n denkraamwerk wat bereid is om al groter te word.

Want Jesus is baie groter as wat jy en ek dink!

Dit is deel van die reformasie so herontdekking: Alleen Christus.

Mag die fees vandag ons help om weer met groter verwondering vir Jesus raak te sien.

Daarom sing ons ‘n lied wat ons help met hierdie oopbuig van ons denkraamwerk rakende Jesus.

Sing:   Lof en heerlikheid van Jesus. Lied 492:1,2 (In U is vreugde)

3. (ALLEEN DEUR GELOOF)

So skuif Jesus hul denkraamwerk groter as kos.

Dit gaan oor die lewe. En die lewe is meer as net hierdie deel van die lewe.

Die “ewige lewe” maak die hoorders in joh 6 jalers.

Daar kom selfs so ‘n bietjie hunkering na hierdie ewige lewe.

Hulle vra Hom toe: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?” (:28)

Die Jode se geestelike denkraamwerk het ook gekrimp tot waar hulle gedink het hulle moet iets doen om hierdie ewige lewe te kry.

Hulle het die Wet gehad en hul grootste uitdaging was blykbaar om alles te DOEN wat die wet voorskryf.

En daarom hul pogings om dinge te doen wat vir hulle hierdie ewige lewe te verdien.

En Jesus antwoord hulle: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Nou, reg! Geloof is ook iets wat gedoen moet word, maar dit is meer as dit.

Dit s ook iets wat gegee word.

Geloof self is ‘n geskenk.

Maar dit is ook die omhelsing van God.

Dit is die vasgryp aan God.

Dit is die elke-dag-se-stywer-vashou aan Jesus.

Daarom was dit ook een van die groot krete van die Reformasie.

Alleen Christus!

Maar ook ALLEEN GELOOF.

Ons gemeente is ‘n Sentrum vir Groei.

My gebed is dat jou geloof sal bly groei.

Die gemeente is ‘n sentrum vir Aanbidding.

My gebed is dat jou geloof in Jesus, en trouens, in God-Drie-enig sal groei tot ‘n groter geloof waar jy in al groter verwondering die Here elke dag ook al meer sal wil aanbid.

“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.” (:47)

Ons vra vir die Here groter geloof in gebed.

Gebed in sang: Lied 280:1,2,3 (Here, Redder, groot en magtig)

4 (Alleen genade)

Die volgende juweel in die gesprek van Jesus met die groot skare is die klem op GENADE.

Genade is ‘n konsep wat al minder in ons tyd verstaan word.

Want ons werk met regte en juridiese konsepte.

Ek sal jou dagvaar! Jy skuld my! Jy sal betaal! Al moet ek jou ook met my Mafia dreig.

Genade is om met ‘n sagter oog van liefde te leer kyk.

Ons leer dit by Jesus!

Vir die owerspel-vroutjie sê Hy: “Ek veroordeel jou ook nie! Gaan en sondig nie meer nie.”

Jesus werk nie met klippe nie!

Hy werk met liefde wat trek.

“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie na My toe trek nie; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (:44)

God trek ons ten spyte van die oordeel wat ons verdien.

“Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie.

Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.”

Die Gees doen wat ons nie kan doen.

Die Here gee genade wat ons nie verdien.

En waar jy dit ontdek, dan groei jou denkraamwerk oor God.

Jy leer iets meer van sy hart ken.

Maar dit maak dat jy ook volgens hierdie raamwerk begin handel.

Mag ons deel wees/word van God se groter genade-bediening.

Sing: Genade onbeskryflik groot.

Die genadebediening is eintlik deel van die “eet en drink” van Jesus se liggaam en bloed.

Dit is die deel kry aan Jesus se voller karakter en bediening.

Die term wat hier gebruik word vir die “eet” van Jesus dui eintlik op ‘n growwer term soos “kou” of “herkou” soos die van ‘n dier.

Dit sou bykans aan iets van kannibalisme kon laat dink.

 

En net daar raak hierdie groter en vergrotende denkraamwerk te veel vir die skare:

“Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?”

“Ons gaan waai! En hul doen dit ook!”

Daar was by hulle ‘n weerstand. Hul denkraamwerk was te min van ‘n spons … en te veel rigied geyk. Te klein.

Jesus se reaksie is interessant:

“Skrik dit julle af?”(Letterlik: Is dit vir julle ‘n skandaal?)

Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was?

Daarmee verwys hy (volgens kommentatore) na meer as Sy hemelvaart. Ook Sy ophang aan die kruis en die opstaan uit die graf.

Dit is net té ‘n groot denkskuif wat hul nie sou kon hanteer nie.

Ek sluit af.

Gelukkig was daar nog die klein dissipelkring.

Jesus daag hulle uit:

Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” (:67)

Blykbaar verwag Jesus ‘n negatiewe antwoord.

Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan?

U het die woorde wat ewige lewe gee.

En ons glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.”

 Ons is kinders van die Hervorming.

Jy word vandag uitgedaag om jou denkraamwerk te vergroot:

Meer plek vir die Woord.

Meer plek vir Christus.

Meer geloof in jou hart.

Meer verstaan van genade … en die bediening van genade.

Amen

Petrus se geloofsbelydenis was nie ‘n belydenis van selfversekerdheid nie.

Ek dink sy mindset is net baie uitgedaag.

Ek dink sy belydenis is bloot een van vertroue in Jesus.

Dit is ‘n belydenis wat sê: “Here, ek verstaan nie! My denkraamwerk is nog te klein.

Maar ek vertrou U… dat U deur U Woord en Gees my denkraamwerk sal vergroot

om iets van U heiligheid en Goddelikheid te verstaan.

Prediker: Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.