Dit is Week van Gebed. Week van Gebed is daar sodat ons doelbewus kan saam bid.
Maar dit is ook daar sodat ons die fokus weer kan plaas op ons elkeen se gebedslewe wat so ’n groot prioriteit behoort te wees.
Ons praat van “kurkprop-knieë”. Wat is dit?
As jy ’n kurkprop onder die water indruk en jy los hom….wat gebeur?
Ja, hy ‘pop’ op!
Ons geestelike knieë het dieselde geaardheid!
Hulle bly nie lank in gebed gebuig nie. Hulle ‘pop’ op!
Ds André het verlede week die selfoon gebruik as metafoor van hoe die verhouding tussen vriende vervlak.
Die selfoon leer ook vir my iets oor gebed waarvoor ons baie waaksaam moet wees.
Kom ek verduidelik:
Ek tel die selfoon op om ’n eenvoudige boodskappie vir my vrou te stuur.
• Maar dadelik sien ek daar is ’n boodskap – trouens sommer drie!… – van ander mense en instansies wat my aandag vra.
• En daar is ’n komiese video’tjie van ’n ou wat sy naam ruk op die WhatsApp-groep van die “Wilde Wynfees” (Van die Wild- en Wynfees!). Ek lag eers lekker en dan stuur ek hom vir my familie-groepie – om bietjie humor in hul lewens te kry!
• En my swaer, Paul, stuur net na die eerste reën die mooiste dankbaarheids-video van ’n ballerina op die musiek van Lord of the Dance. En ek aanbid sommer saam met hom vir 8 minute.
En as ek die selfoon neersit, dan onthou ek skielik – ek wou net vir my vrou ‘n “one-liner” boodskappie gestuur het!
Ons kan dit diagnoseer as ‘n “aandag-afleibaarheidsindroom”.
Daar is altyd iets wat my aandag wegtrek van die een ding wat prioriteit was…!
So werk dit dan ongelukkig ook met ons gebedslewe: “gebeds-aandag-afleibaarheid-sindroom”.
Jou gees sukkel om op jou gebed en die gebeds-inhoud te bly fokus.
Daar is te veel afleidings….!
Kom ons leer uit die pragtige verhaal van Hanna se gebedslewe in 1 Sam 1.
Terwyl ons dit lees, let op die intensheid waarmee Hanna se nood en emosies geteken word.
Lees 1 Sam 1:1-20
Waarom hou mense op met bid?
Waarom is gebed nie meer vir hulle prioriteit nie?
Waarom skiet daardie kurkprop-knieë op?

Miskien moet ons liewer op ’n positiewe noot vra:
“Waarom bid mense nog?”  “Hoekom moet ons bly bid?
Wat maak dat mense soos Hanna nog desperaat bid dat hulle selfs bereid is om hulself belaglik of ’n verleentheid te maak?
Ek onthou die dag jare gelede toe ’n dame, by ’n gebedsgeleentheid in die lesingsaal hier agter, opstaan en plat op die mat met die gesig op die grond voor die Here gaan lê.
My eerste gedagte was: “Dit is darem bietjie te demonstratief/oordrewe!”
Vandag is dit vir my die mooiste ding as by ons voor die erediens saam bid om te sien hoe almal op hul knieë kniel.
Wat het geword van te kniel voor God?
Wat het geword van so ernstig te bid dat jy nie omgee wat ander van jou dink nie?
Ons vraag is: Waarom bid mense? Waarom moet ons bid?

Ons teks gee vir ons drie antwoorde:
1. Dit is wanneer mense desperaat is!
Het jy gehoor hoe die skrywer praat van ’n vroutjie wat
“bitter hartseer” is,
“onbedaarlik” aan die huil is.
Sy praat van haar “ellende”.
Sy ervaar ‘n “diep terneergedruktheid”.
Sy noem dit haar “groot smart en leed”.
…Tot so ’n mate dat sy nie eers wil eet nie.
Vir haar was dit haar kinderloosheid. Baie pynlik!
Ek kom uit ’n familie wat kinderloosheid ken…
Ek hoop jy het iets wat vir jou swaar op die hart lê, want dan sal jy bid.
Trouens ek is van oordeel dat ons vir die Here baie dankie moet sê dat ons in ’n deel van die wêreld woon waar daar droogtes, rassisme, geweld, armoede…is!
Want dit maak dat ons bid!
Sou ons gebid het as alles in plek en maklik en goed was?
Nee! Want dan het ons nie gebed – en vir God! – nodig gehad nie.
Maar nou hou ons Week van Gebed en Dag van Verootmoedi Ons word daartoe gedwing deur omstandighede!
Sê vir God dankie dat jy in SA kan bly.
En sê dankie dat jy deel kan wees van ’n geloofsgemeenskap waar ons saam kan bid.

2. Dit is wanneer daar ’n gebedsritme is.
Gebedsritme is die asemhaling van die geloof
Het jy gehoor hoe hier ’n ritme is?
Elkana en sy gesin het “elke jaar uit sy stad na Silo toe gegaan” om daar by die tempel te aanbid (dit was nog in die rigtertydperk).
En dan is ek seker dat hierdie vrou daagliks voor God gekniel het.
Ons ouers het vir ons geleer jy bid soggens en saans … en aan tafel.
Natuurlik is dit nie iets wat wetties moet raak nie, maar daar is iets soos ’n gesonde en opbouende gebedsritme.
Japie leer vir ons dat die hele wêreld werk met tyd en ruimte.
As jy nie tyd het vir God nie… en as daar nie ’n ontmoetingsplek met God het nie, dan val jou ritme uiteen.
Miskien is dit tyd vir dissipline in jou lewe.
Hierdie selfoon (wat so baie skuld kry!) moet vir ons begin help.
Want hy kan ‘n “reminder” stel met ’n alarm wat afgaan.
En êrens in jou leefwêreld moet jy ’n plekkie soek wat vir jou ’n gereelde, daaglikse tempel is waar jy by God kan gaan kuier….. ’n plek vir stil word by God.
Kry dissipline in jou gebedslewe.
En neem jou gemeente se afkondigingsblaadjie saam en bid vir elke persoon wat daar ter sprake kom.
Ons vra hoekom bid mense…

3. Dit is wanneer mense vir God raaksien – so duidelik raaksien dat hul nie anders kan om met Hom in gesprek te wees nie.
Dit is die oop venster op God.
En ons het die geleentheid om in gebed vir God te erken en te aanbid.
As God vir jou ’n klein pikkie-godjie is, dan sal jy Hom nie te ernstig opneem nie.
As jy egter vir God in Sy Woord duideliker leer ken, dan sal jy smag daarna om meer in Sy heerlike en liefdevolle teenwoordigheid te wees.
Hoe het Hanna vir God gesien?
As “Here, Almagtige”. Letterlik: “Jahwe Sebaot” (Vers 11)
• Jahwe is God se verbondsnaam. Die getroue God wat met ons in verbondsverhouding kom tree het en nog nader en nader in geloofsverhouding met ons wil leef.
• “Sebaot” is letterlik “van die leërskare”. Maw die God “met die groot leërmag”.
Daarom die vertaling: HERE, Almagtige.
As Hy dan die Almagtige is, dan verdien Hy om aanbid te word.
Dan moet Hy geëer word.
Dan is Hy nie die “God of the gaps” nie / die God wat maar net die gapings moet invul waar ons nie regkom nie.
Hy is “Jahwe Sebaot” – in sy liefdevolle almag en majesteit.
En daarom bid ons!
Om Hom te verheerlik en te erken.
Vra vir God in jou gebed dat Hy al groter sal word in jou lewe, want dan sal jy ook jou eie regmatige plekkie voor Hom ken.
En jy sal daardie plekkie naby aan Hom elke dag kom opsoek om by Hom te kuier – en te soebat!
Dit is geloof – om by God te wees!
En selfs om saam met mede kinders-van-God by Hom te kuier- soos hier in ’n erediens!
Maar nou vra iemand op die geel kaartjie: Preek ’n bietjie oor onverhoorde gebede.
Hierdie teks help ons om gebedsverhoring bietjie beter te verstaan:
Ek glo dat hierdie gebedsnood van Hanna legitiem was.
Dit is ’n legitieme verwagting en behoefte van ’n vrou (en man) om kinders te hê.
En sy bid desperaat daarvoor.
Maar dit is nie ’n reg nie. Dit is net ’n voorreg.
Dit is iets wat die Here as geskenk uit louter genade kan gee, of nie kan gee nie.

Daarom is daar normaalweg drie maniere waarop God kan reageer op ’n gebedsversoek:
1. Die Here kan “JA!” sê.
2. Die Here kan “Nee!” sê, of
3. Die Here kan sê “Wag ’n bietjie”.
As die Here “Ja” sê dan is ons gewoonlik baie dankbaar.
Maar oppas ook wat jy vir die Here vra.
Na aanleiding van Jabes se gebed in 1 Kronieke 4:10 het ek ook 12 jaar terug vir die Here gevra “vergroot my grondgebied”. En toe gee die Here nie vir my ’n ekstra plot nie, maar ekstra verantwoordelikheid – by die Kuratorium.
Veeleisend, maar tog ook heerlik verrykend vir daardie tyd.
(“Jabes het die God van Israel aangeroep met die woorde: “Stort u seën oor my uit, vergroot my grondgebied, neem my onder u beskerming en weerhou onheil van my sodat geen smart my tref nie.” God het laat gebeur wat hy gevra het.)

As die Here egter “Nee” sê stel dit hoë eise aan ons geloof en sou ons kon vra “Waarom?”
• Is ek nie vir die Here belangrik genoeg nie?
• Is my geloof te swak?
• Is God nie lief genoeg vir my nie?
• Is God nie in staat om as “Almagtige” dit te gee nie?
Dit sal beteken dat jy miskien ernstig met God daaroor kan worstel.
Maar dit kan jou verhouding met God verdiep as jy nie verbitterd raak nie.
Miskien moet jy iets daaruit leer.
Miskien het God ’n ander, en selfs groter, plan wat jy nog net nie verstaan nie.

Maar dan is daar ook die antwoord van “Wag ’n bietjie”.
“Die tyd is nog nie ryp nie”.
Of “Jy is nog nie gereed nie”.
Hanna se antwoord op haar gebed was vir lank gewees: “Wag ’n bietjie!”
Vers 7 sê “So het dit jaar vir jaar gegaan.”
En haar gebed was nie maar net kort skietgebedjies nie.
Vers 12 sê “sy het lank tot die Here gebid.”
Hierdie vroutjie ken van pleit en soebat.
Tot by die punt dat Eli haar verdink van dronkenskap.
Maar as dit nie vir haar desperaatheid was nie, sou sy nie soveel tyd by God deurgebring het nie. Dan sou sy miskien nooit vir God so intens as Jahwe Sebaot leer ken het nie.
En uiteindelik het God tog (soos sy in vers 11 gevra het) “op haar ellende gelet, aan haar gedink en haar nie vergeet nie.”
Dit is Jahwe Sebaot!
Maar, vra iemand in die liturgiese werkgroep, wanneer weet ek om op te hou bid vir ’n saak?
Wanneer aanvaar ek die goddelike Nee?
Wanneer stop ek soebat … en vertrou God net met die uitkoms?
Dit gebeur as God vir jou vrede gee…!
Maar hierdie vrede is nie ’n logiese besluit of boedel oorgee nie.
Vrede kom wanneer jy vrede by God vind en die Heilige Gees vir jou vrede gee.
Dit vra dikwels worsteling
Dit vra geloof en dit vra vertroue.
Maar sien ook die belangrikheid van gelowige gespreksgenote in hierdie worsteling.
Eli word haar (aanvanklik kritiese) gesprekgenoot.
Maar sy kan haar situasie by hom verwoord en hy kan haar uiteindelik bemoedig.
Vers 18 sê: “Sy het toe geloop en gaan eet, en sy was nie meer bedruk nie.”
Sy het vrede gekry!

Ek sluit af met ’n laaste kosbare ontdekking:
Moet nooit die waarde daarvan onderskat om geesgenote te hê nie.
Ek lees die verrassende opmerking oor die gebeure na klein Samuel se geboorte.
Dit gaan oor Hanna se man Elkana:
“Toe Elkana en sy hele gesin (die volgende jaar) gaan om die jaarlikse offer aan die Here te bring en sy gelofte te betaal, het Hanna nie saamgegaan nie…”
Nêrens lees ons dat Elkana ’n gelofte aan die Here gemaak het nie. Net Hanna.
Maar Elkana het intussen ingekoop op sy vrou se gelofte.
Hulle was nie net man en vrou nie, maar geesgenote wat saam op reis was na God se bestemming vir hulle.
Moet nooit die waarde van jou geestelike reisgenote onderskat nie.
Moet nooit die waarde van jou geestelike gebedsgenote onderskat nie.
Die een die naaste aan jou is miskien naby genoeg om jou gebedsgenoot te wees.
Nooi mekaar in om gebedsgenote te wees.
Neem die week se hele lys van gebedsake en maak dit die beginpunt van julle gebedsreis vir hierdie jaar.
Vul dit aan.
Soek tyd en plek vir gebed.
Soek om God raak te sien as Jahwe Sebaot. Neem jou nood en behoeftes na God – passievol, hoopvol.
Moenie ophou bid vir ’n saak voordat die Heilige Gees jou nie vrede gee nie.
En kry vir jou gebedsgenote wat bereid is om
saam met jou geloftes te maak en geloftes te betaal.
Dit is eintlik niks anders as om Jesus na te volg nie. Hy het Hom ook telkens “in stil plekke teruggetrek om te bid”. En om intens te bid soos in Getsemane voor die kruisiging.
Amen
Prediker: Ds Retief Botha. Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.