12 Desember 2010 

Die onverklaarbaarheid en onvoorspelbaarheid van die lewe is iets wat ons met alle mag en geweld probeer vermy.  Dit is moeilik vir die moderne mens om te glo dat iets onverstaanbaar of onverklaarbaar kan wees.  Inteendeel, “onverklaarbaar” is net nie die taal van die moderne wetenskap nie.  Ons raak al hoe meer professioneel wanneer dit kom by die voorspelbaarheid van die lewe.  Ons weet al hoe die weer oor 7 dae gaan wees!  Met ons navigasiestelses verdwaal ons nie meer nie, met ons hartsonars en skanderings kan ons gesondheid voorspel en die lewe ’n bietjie uitrek.  Ons weet min of meer wat die gemiddelde lewensverwagting van mans en vroue is, wanneer ons gaan ophou werk en wat ons pensioen gaan wees.  Met ander woorde broers en susters, ons lewens raak al hoe meer afgemeet en voorspelbaar, wetenskaplik.  Dit gee vir mense gemoedsrus en sekuriteit.

Daarom nie snaaks dat ‘n bekende teoloog nou die dag op televisie sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat die meeste groot teoloë wonderwerke vandag sal ontken.  Want u sien, wonderwerke is iets onwetenskaplik.  Jy sukkel om dit te verklaar of selfs te voorspel.  En lyk vir my die onverklaarbaarheid of selfs die onverwagse daarvan bring by mense en nou ook by gelowiges twyfel en spanning.  Die Bybel is natuurlik vol van die onverwagse, onverklaarbare, bo-natuulike, Goddelike ingrypinge van die Here in mense se lewens!  Siekes, blindes, lammes, dooies, noem maar op.  Mense wat op een of ander onverklaarbare manier deur die Almagtige Here aangeraak.

Een van hierdie wonderverhale vind ons soos ‘n juweel in 2 Konings 4 waar ons ’n vroutjie ontmoet in die moeder van doodloopstrate.  Haar man is dood en al wat sy geërf het was ’n klomp skuld wat sy op die ou einde nie kon betaal nie.  Nou in daardie dae het skuldberading redelik maklik en eenvoudig gewerk.  As jy nie kon betaal nie was die wet eenvoudig: jou seuns in ruil vir jou skuld.  Natuurlik ‘n baie wrede ding om te doen, maar as jy mooi daaroor dink, slawe was baie belangrik in daardie tyd en om die dienste te kry van twee predikantskinders kon sekerlik iets beteken het!  Maar hier is hierdie vroutjie, sy het ‘n man verloor, sy het feitlik geen besittings meer nie, sy sukkel om dag tot dag kos op die tafel te sit en die ergste van als, nou gaan sy haar enigste kosbare besitting, haar kinders ook verloor.  Sy was moeg en desperaat, eintlik in ‘n hoek gedryf, op die randjie van ineenstorting.  En haar nood bring haar by Elisa, God se verteenwoordiger!

Ek sal jou help, sê hy.  “Sê vir my: wat het jy in jou huis?”  En met hierdie vraag konfronteer Elisa haar met die feit dat sy op haar eie nie kat se kans het om uit die gemors te kom nie.  Sy antwoord ook so: Ek het niks in my huis nie!  My planne is op!  Ek is radeloos!  Ek het so baie nodig, maar tog so min om my uit hierdie gemors te kry.  My eie kapasiteit en vermoëns om my uit hierdie krisis te kry, laat my liederlik in die steek.  U sien, somtyds gebruik die Here die beproewinge en die laste van die lewe om ons op ‘n plek te bring waar ons ook soos hierdie vrou moet erken: Here ek kan nie, Here ek het nie, Here trek ‘n streep deur my geloof in myself en help my!  My liewe broer en my liewe suster, so lank as wat ek en jy dink ons kan goed hanteer, so lank as wat ek en jy dink ons sal self regkom, so lank sal ons bly sukkel.  Want hoekom moet die Here ons dan help as ons dink ons kan onsself help?  As long as we think we can, He won’t!

En die oomblik toe hierdie vrou besef, my vermoëns en my planne en my finansiële keuses gaan my nêrens bring nie, is die grond voorberei vir die onverklaarbare, onvoorspelbare, vir ‘n wonderwerk om te gebeur!  En die opdrag kom: gaan leen al wat ‘n leë kruik is.  Wat ‘n absurde ding om van iemand te vra!  Dink nou net wat het die bure gedink van hierdie vrou soos sy in die straat afstap en al wat ‘n kruik is na haar ou huisie aandra!  Ek wonder wat die vrou vir haar bure gesê het.  Moenie my vra hoekom nie, maar ek kom leen kanne want ek is bankrot.  Ek weet nie hoe die Here dit gaan doen nie, maar die man van God het gesê ek moet kanne kry.  Maar sy waag dit om kruike te gaan leen!  En kan jy jouself indink wat in daardie klein ou huisie gebeur het daardie dag?  Daar sit hierdie ma met haar 2 kosbare seuns rondom al hierdie leë kanne.  En as dit nie gaan werk nie, is dit hulle laaste sit saam en het sy regtig dan alles verloor.  Haar lewe is op die spel.  Sy tel die vlessie met die laaste bietjie olie op en waag dit om dit uit te gooi.  En die wonder vind plaas!  Soos wat sy die olie uit haar vlessie gooi, maak sy die een kan na die ander vol van hierdie kosbare olie.  Onverstaanbaar, onverklaarbaar gooi sy haar letterlik uit die skuld uit toe God in haar lewe ingryp!

Broers en susters, partykeer druk die lewe jou in ‘n hoek waar al jou planne op is en jy bloot net nie weet watter kant toe nie.  Ek glo elkeen van ons was al daar.  Miskien is jy vanmôre in so ‘n hoek.  Jy gaan beslis nog in jou lewe weer daar wees.  Tye waar jy vir lewe en dood vasklou en nie anders kan as om hulpeloos na God te roep nie.  En dit is dikwels in sulke tye wat geloof die buitengewone vra, die vreemde vra, soos om kruike te gaan leen en jou laaste bietjie olie uit te gooi.  Maar dit is sulke tye wat die saadjie geplant word vir ‘n wonderwerk om te gebeur.

Iets wat my in hierdie gedeelte opgeval het, was die woorde in vers 3.  Elisa gee die opdrag om die kruike te gaan leen, maar dan voeg hy by: “sorg dat jy nie te min leen nie.”  Met ander woorde, pak soveel kanne uit as wat jy kan!  Maak soveel bymekaar as wat jy in die hande kan kry!  Eintlik ‘n aangrypende gedagte dat die hoeveelheid kanne wat sy neergesit het, die hoeveelheid seën sou wees wat sy sou kry!  Vriende, daar was geen limiet aan die hoeveelheid olie nie!  Die enigste limiet was die hoeveelheid kruike wat sy uitgesit het vir God om vol te maak!

Ek lees ‘n verhaaltjie van twee mans wat gaan visvang het.  Hulle het die hele dag daar langs die water gestaan en visvang, maar die een man het ‘n vreeslike snaakse gewoonte gehad.  Elke keer as hy ‘n vis gevang het, het hy ‘n liniaal uitgehaal en die vis gemeet.  En as die vis langer as die liniaal was het hy dit teruggegooi.  So snaaks genoeg het hy al die klein vissies gehou en al die groot visse terug gegooi.  Sy maat wat hom die hele dag dopgehou het, kon dit later nie meer uithou nie.  Ek het nog nooit ‘n man gesien visvang soos jy nie!  Hoekom gooi jy die groot visse terug en hou al die kleintjies?  Die man antwoord hom toe.  Want ek het net ‘n 30cm braaipan!.  I believe so often God wants to give us twelve-inch blessings, but all we have is eight-inch faith.

Hoeveel ruimte maak jy in jou lewe vir die Here om jou te verras?  Hoeveel ruimte maak jy vir die Here om die onverwagse en die onverklaarbare in jou lewe te laat gebeur?  Hoeveel ruimte maak jy vir ’n wonderwerk van die Here in jou lewe?  Verwag ons dit nog van ’n God vir wie niks onmoontlik is nie?  Of het ons geloof nie dalk ook te realisties of wetenskaplik geword nie?  Mooi afgemeet en uitgesorteer wat ons dink vir God moontlik is of wat ons uit ervaring geleer het Hy gaan of behoort te doen.  Het ons nie vir God al so mooi onder die knie dat ons niks meer verwag as wat ons van onsself verwag nie?  Ons kan ook al mooi elimineer wat ons dink moontlik en onmoontlik kan wees.  Ons kan met ’n paar slim argumente die onmoontlike afmaak as onwerklik en onrealisties bloot net omdat dit nie inpas binne die afgemete realiteit van ons wêreld en geloofslewe vandag nie.  Ons het al redelike sekerheid wat kan en wat kan nie in ons geloofslewe gebeur nie.  Ons bid ook dikwels vir ‘n saak, maar iewers in ons agterkop het ons reeds besluit of God dit gaan doen of nie.  Ons is al tevrede met die drempels van ons geloof.  Ons weet al hoeveel kanne om uit te pak om ‘n bevredigende oplossing van die Here te kry en daarom verwag ons nie veel meer van Hom nie!

U sien, maar somtyds vra geloof iets anders.  Somtyds moet ons dit waag om meer kanne uit te pak, selfs as wat nodig of logies lyk.  Somtyds moet ons meer van die Here verwag as die “normale” of dit wat ons tradisioneel van Hom ontvang het.

Om in die geloof die onmoontlike te ontvang, moet ons die onmoontlike van God verwag!  Moet ons leer om meer en meer van die Here te verwag!  Meer en meer kruike uit te pak!  Meer en meer in ons lewens vir die Here die ruimte te maak om ons te verras met die oorvloed uit Sy skatkamers!  Want Hy is die Almagtige broers en susters, wat meer kan doen as wat ons bid of selfs aan kan dink!  So lank as wat ons die leë kanne voor Hom neersit, so lank sal die olie uitgegiet word!  Want dit is nie die olie wat ooit opraak nie, maar die kruike wat ons uitpak!

U sien broers en susters, geloofsgroei kom ook met geloofsmoed.  Jy groei in die geloof wanneer jy in die geloof waag.  Wanneer jy die moed het om buite jou boksie, buite jou verwysing, buite jou realistiese verwagtinge van God, Hom vir meer te vertrou.  Om te kan sê: Here, hierdie situasie lyk vir my onmoontlik, binne my verwysing of binne my geloofsraamwerk weet ek nie of U dit gaan doen nie, maar Here ek gaan kanne leen en dit uitpak!  Ek waag dit om iets buitengewoon van U te verwag!  Ek maak vir U die ruimte om die onmoontlike moontlik te maak!  Ek verwag ’n wonderwerk van ’n wonderlike God!

My broer en suster, wat is jou verwagting van die Here?  Verwag jy nog dat die Here situasies kan omdraai?  Verwag ons nog in die geloof die menslik onmoontlike van die Here?  Skep jy in jou huis en in jou lewe vir die Here die ruimte om die onmoontlike moontlik te maak?

Ek wil afsluit en die net ’n bietjie wyer gooi vanmôre.  Wat is Reddersburg gemeente se verwagting van die Here?  Wat verwag ons moet Hy hier doen?  Hoeveel kruike word in die geloof uitgesit vir die Here om met Sy seënende olie vol te maak?  Of sit ons dieselfde kanne jaar na jaar uit juis omdat ons weet dit is haalbaar en moontlik en realisties?  Daarom beplan ons en visialiseer ons dit wat ons dink moontlik is.  Dit wat tradisioneel haalbaar is.  Sien ons nog die Here die onmoontlike hier doen?  Vertrou ons die Here vir meer?

Miskien moet ons dit in die geloof waag om in ons gemeentes meer van die Here te verwag.  Miskien moet ons dit waag om die leë kruike uit te pak en God te vertrou.  En dis wanneer ons die onmoontlike in die geloof verwag dat die Here die onmoontlike doen en daar groei kom.

Dis ook die boodskap van Kersfees.  ’n Verwagte Messias wat gekom het om die wêreld met Sy teenwoordigheid te verras.  Die Messias wat die onmoontlike kom doen het.  Onverwags het hierdie Babaseun mense aangeraak, genees, laat loop, laat opstaan.  Want Hy is God en vir God is niks onmoontlik nie.

Mag die Almagtige Here jou weer verras met wat Hy kan doen!  Mag Hy die gemeente verras met wat Hy kan doen!  Mag ons meer in die geloof waag en soos hierdie vrou sien hoe die onmoontlike voor haar eie oë moontlik word.  Verwag weer van God die onverwagse!  Amen