André Oosthuizen : andrej@webafrica.org.za
Ons het hierdie vakansie baie vis gaan vang.
- Wie van julle hou nog van visvang?
Wie sal my glo as ek vir julle sê dat ons hierdie visse gevang het met hierdie stok en stuk tou?
Nee, as ek regtig ’n vis wil vang moet ek die regte toerusting hê. Ek het die regte toerusting saamgebring om vir julle te wys… ’n visstok, lyn, hoeke en sinkers. Nou is ek mos reg om vis te gaan vang né?
- Nou sê maar ek het die regte visvang-goed en ek lê op my bed en lees al die visvangboeke of kyk op die televisie al die stories van visvang, gaan ek ’n vis gevang kry? Hoekom nie? Want om boeke te lees vang nie vis! Jy moet jou goed inpak en gaan daar waar die visse is, dam toe of see toe.
- Nou die laaste ding, ek sien baie keer by die see kom daar mense van Gauteng aan met ’n visstok wat sommer nog so blink van nuutgeit en ’n nuwe coolerbox met aas en paar ander drinkdingetjies ook in. Dan sit hulle die aas aan en gooi in, maar as die aas die water slaan dan begin hulle al in katrol. Dan gooi hulle in, en katrol uit. En dan vang hulle niks vis nie! Hoekom nie? Want hulle los nie die aas in die water dat die vis dit kan ruik en eet nie. Hulle het nie geduld nie. Om vis te vang moet jy geduld hê. Jy moet bereid wees om jou aas in die water te laat lê en ’n bietjie te wag tot die vis byt.
So jy moet drie dinge weet wanneer jy gaan visvang.
- Jy moet die regte toerusting hê
- Jy moet na die vis toe gaan
- Jy moet geduldig wees
Vandag wil ek vir julle ’n visvang storie uit die Bybel vertel.
- Het julle geweet daar is visvang stories in die Bybel?
Kom ek vertel weer vir julle die visvangstorie uit die Bybel. Dit kom uit Lukas 5. Julle kan maar die storie in die Bybel kyk terwyl ek hom vertel, dit is ’n ware storie.
Eendag was daar manne wie se werk dit was om vis te vang. Hulle het bote gehad en in die bote was daar nette wat hulle in die water gegooi het om die visse mee te vang. Soos visvang maar werk het hulle partykeer regtig gesukkel om vis gevang te kry. En as hulle nie vis vang nie was hulle in die moeilikheid. Want dan het hulle niks gehad om te eet nie en het hulle ook nie geld gehad nie, want hulle moes die visse wat hulle vang verkoop vir geld. So hulle het nie net vis gevang vir die lekker nie, dit was hulle werk!
So vertel Lukas ons, het hulle eendag probeer om vis te vang, maar weer niks gevang nie. Hulle sit toe maar op die strand en maak hulle nette reg. Toe kom Jesus daar by hulle verby. En nadat Jesus so bietjie met hulle gesels het sê Jesus vir hulle: Vat julle bootjie en gaan vang weer vis, julle sal baie visse vang. Hulle was eintlik moeg vir visvang, maar besluit toe maar om te doen soos Jesus vir hulle gesê het. En weet julle wat? Hulle vang toe so baie vis dat die nette wou skeur! Ek dink nie hulle het al ooit so baie visse gevang nie!
Toe hulle nou met die baie visse uiteindelik op die strand kom, sê Jesus vir hulle ’n snaakse ding. Hy sê vir hulle: Los alles net so en volg My. Ek sal julle vissers van mense maak. En weet julle wat? Hulle het alles net so gelos, hulle visse, die boot, hulle familie en agter Jesus aangeloop.
Hulle het toe vissers van mense geword!
- Wat beteken dit om vissers van mense te word?
Ek dink ons maak ’n groot fout wanneer ons dink vissers van mense beteken net dat ons mense vir Jesus moet vang wat nie in Hom glo nie. En ek dink nie dit is nie waar nie. Ons moet nie net mense vang wat nie in Jesus glo nie. Vissers van mens is mense wat ander mense nader aan Jesus bring. Ek dink dit is wat vissers van mense beteken.
Om mense vir Jesus te vang beteken dat ons mense nader aan Jesus moet bring. En daardie mense is natuurlik mense wat nie in Jesus glo nie, maar daar is ook baie ander mense wat in Jesus glo maar ver van Jesus af voel.
Weet julle, daar is baie mense wat vandag moeg en moedeloos en hartseer is en wat wonder of Jesus naby hulle is. Jesus voel vir hulle ver. En wanneer jy met daardie mense praat en vir hulle sê dat Jesus nie regtig ver is nie, maar by hulle dan is jy besig om mense vir Jesus te vang, want jy bring hulle nader aan Jesus.
Daar is van julle maatjies wat in Jesus glo, maar wat nie kerk toe gaan op ’n Sondag nie. Julle moet hulle nader bring! Jy moet hulle saam nooi kerk toe, dan is jy ‘n visserman van mense. Want jy bring hulle nader aan Jesus.
Jesus se vissermanne, bring ander mense nader aan Jesus. Jy katrol hulle nader aan Jesus. En daar is baie maniere hoe ons mense na Jesus toe kan katrol, nader aan Jesus kan bring. Ek het aan ’n paar ander maniere ook gedink. Byvoorbeeld:
- Ons het elke dag ’n kans om mense nader aan Jesus te bring. As iemand vir jou vra “hoe gaan dit” kan jy sê goed. Of jy kan vir iemand sê: “dit gaan goed dankie oom, want Jesus sorg vir my.” As jy sê, want Jesus sorg vir my. Wat gebeur? Daardie maatjie dink aan Jesus! En so bring jy die maatjie nader aan Jesus! .
- Ek kom agter dat baie mense nie meer bid voor hulle eet nie. En as maatjies by ons kom kuier dan raak ons skaam om te bid vir die kos. In ’n restaurant is ons baie skaam, want ons weet die mense kyk vir ons. Maar wat sal gebeur as ons onthou ons moet mense vang vir Jesus en ons bid en die ander mense sien dit? Hulle sal aan Jesus dink en dalk nader aan Jesus kom.
- Om oor Jesus met iemand te praat kan maak dat iemand nader aan Jesus kom – vir Jesus gevang word. Baie keer dink ons ons moet vir mense Bybelversies gee wanneer ons oor Jesus praat. Maar dit is nie altyd so nie. Elkeen van ons het stories hoe Jesus ons al gehelp het, of Jesus ons gesond gemaak het, of Jesus ons getroos het toe ons nie lekker gevoel het nie.
- Wie van julle het ’n storie van hoe Jesus julle gehelp het? Kom vertel gou vir ons.
As jy hierdie storie vir ander mense vertel dan vang jy mense. Mense sal nader kom aan Jesus!
- Liewe onderwyser, jy het elke dag die geleentheid om 30/35 kinders vir Jesus te vang. Dankie dat julle Jesus lief het en dat julle ons kindertjies inkatrol vir Jesus. Hou daarmee vol
Slot:
Elkeen van julle is Jesus se vissermanne.. Onthou julle aan die begin het ek gesê daar is 3 dinge wat jy moet onthou van visvang?
- Wat was dit?
Die toerusting, jy moet dam toe gaan en jy moet geduldig wees. Om Jesus se visserman te wees moet jy hierdie 3 dinge onthou.
- Julle het die toerusting – julle het Bybels en word geleer by die skool en die kerk van Jesus
- Maar julle, ons kan nie net hier in die kerk bly praat van visvang nie. Gaan dit mense vir Jesus vang? Nee! Wat moet ons doen? Ons moet uitgaan na die visse toe. Môre by die skool of by die werk.
- En moenie moedeloos raak as dit lyk of mense nie na jou luister nie. Ons moet geduldig wees, want Jesus sal met daardie mense verder werk.
Jesus kom gee vir jou en vir my ’n baie belangrike werkie. En dit is om vissermanne van Jesus te wees en mense nader aan Jesus te bring.
- Wie wil in hierdie week vissermanne vir Jesus gaan wees?
Ons gaan vir julle ’n vissie gee by die kruis vanaand om julle te herinner dat julle vissers van Jesus moet wees wat mense nader aan Jesus bring. Amen