Picture1Kom ons stel vanmôre ons lewe voor as ’n leë vles.  As jy so bietjie van buite af na jou lewe kyk, sal jy sien wat alles daarin gepak is, of anders gestel, waarmee jy jou lewe volmaak.  En daar is ook net soveel plek om vol te maak.  Soos hierdie vles, kan ons ook net soveel inpak in ons lewens voordat dit vol is!  So dit is nogal ’n belangrike vraag vanmôre as ons vra: waarmee pak jy jou lewe vol?    

Die eerste ding wat ek hier inpak is sekerlik my werk of my besigheid.  Dit vat ’n groot deel van my lewe.  Dan kom my vrou en kinders wat ek weet belangrik is en baie van my tyd moet kry.  Ek moet darem sorg vir genoeg geld en pensioen en beleggings.  My vriende neem sekerlik van my tyd en dan moet ek ook darem kan ontspan en genoeg vrye tyd inruim om te gaan gholf speel of te gaan oefen.  Jy sou sekerlik nog ’n paar ander goed ook kon inpak wat vir jou belangrik is.  Maar so pak ons ons lewens vol.

Wat ons dikwels nie verstaan nie is dat jy self beheer het oor dit waarmee jy jou lewe volmaak.  Ek bedoel mense kla dikwels oor ’n besige lewe so asof hulle geen beheer oor hulle eie lewe het nie.  Maar die feit is vriende, ek kan mos kies wat ek hier insit en wat ek nie hier insit nie.  Ek kan kies hoeveel van my tyd ek waaraan spandeer.  Dit is mos my lewe!  Ek pak hierdie vles vol!    Maar ek dink julle sou met my kon saamstem dat dit is soos ’n doodgewone, normale ou se lewe min of meer vandag lyk.  Volgepak!

Maar nou… Waar is God se plek?  Oo ja, ons moet Hom ook nog hier iewers inkry.  Eintlik weet ons dat Hy die meeste plek moet kry, maar Hy kom die meeste van die tyd laaste in en kry dit wat oorbly.  Hy kry dit wat oorbly van my tyd en die Here kry ook dit wat oorbly van my geld en dit wat oorbly van my energie (Sit die bal by en laat dit afval!).  Jy sien, partykeer val die Here sommer heeltemal uit omdat daar regtig nie vir Hom ook plek is nie.

(Probeer die bal opsit) Maar die meeste van ons probeer darem om vir Hom so ’n plekkie te gee al is dit net sommige Sondae van die kwartaal as die weer te sleg is vir visvang of die kinders se sport en huiswerk oor die naweek was nie te veel nie.  Maar dis ons lewe.

En voor jy hier kom sit het vanmôre was jy redelik tevrede met dit wat in jou lewensvles gepak is né.  Ek bedoel, dis tien teen een soos jou lewe nou al vir ’n hele paar jaar is.  En jy het tot vandag toe so aangegaan.  Miskien sonder dat dit jou eers gepla het of sonder dat jy ordentlik daaroor gedink en gebid het.  Dit was die kerk en die Here se plek in jou lewe!

Jy sien, Psalm 84 gaan in sy wese oor God se plek in ons lewens.  As jy weer die psalm lees sal jy agterkom hoeveel plek en tyd die Here opneem in hierdie digter se lewe.

Trouens, hy begin om sy liefde vir die Here te verklaar en gaan dan verder om te sê in vers 2: Ek versmag van verlange na die tempel van God.  Nou moet ons iets van Psalm 84 verstaan.  God se plek in ons lewens word op twee maniere verduidelik in die psalm.  Daar word gepraat van die tempel van die Here en dan oor die Here self.  Kom ek wys dit vir julle:  Vers 2-5 gaan oor die tempel, dan gaan 6-10 weer oor God en 11 oor die tempel en 12-13 weer oor God

Hy skryf oor die tempel

Vers 2: Hoe lief het ek u woning Here, Almagtige!

Vers 3: Ek versmag na verlange na die tempel van die Here

Vers 4: selfs ’n mossie het ’n nes en ’n swaeltjie ’n plek vir haar kleintjies daar by u altare, Here, Almagtige

Vers 5: dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is

Vers 11: een dag in u tempel is beter as duisend daarbuite.  Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God.

Dan skryf hy oor God

Vers 6: dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind

Vers 7: Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ’n dorre laagte trek

Vers 8: Keer op keer ontvang hulle nuwe krag

Vers 12: Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van die wat reg lewe nie

Vers 13: Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!

Die tempel en die Here self is twee kante van dieselfde saak.  Hy verlang na God se teenwoordigheid in sy lewe!  En dit lyk asof hierdie twee sake sy lewensvles volmaak!  Hy smag daarna dat die Here en sy kerk meer en meer plek sal kry in sy lewe,  want hy weet dit gaan goed met mense wat hulle lewens met God volmaak.  Drie keer sê hy dit:

vers 5: “Dit gaan goed met mense vir wie u huis ’n tuiste is

vers 6: “dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind

vers 13: “dit gaan goed met mense wat op U vertrou!

Hierdie ou het een groot saak, een groot begeerte en dit is dat God sy lewe sal volmaak!  En hy sê dit in vers 11: selfs een dag saam met God is beter as ’n duisend sonder Hom!

Vers 8 – Keer op keer ontvang hulle nuwe krag…  Jy sien vriende, as jy jou lewe met God volmaak sal jy keer op keer nuwe krag kry vir dit wat jy elke dag in jou lewe moet doen en trotseer.  Die Here sal jou met sy krag volmaak!  By God sal jou dors geles word as die woestyn van jou werk en jou bekommernis en jou vrese en jou hartseer en jou onsekerheid jou uitdroog.  Daar is ’n verband tussen jou krag en God se plek in jou lewe.  Hoe meer daar van God in jou lewe is, hoe meer krag en vreugde en betekenis sal daar in jou lewe wees.

Slot

Daar is iets fout met my rekenaar.  Partykeer gaan staan hy net en wil hy nie verder werk nie.  Ander kere vat hy baie lank vir programme om ordentlik oop te maak voordat ek daarop kan werk.  Dit is nogal ’n frustrasie!  Nou ek is nie baie goed met rekenaars nie.  Al wat ek weet is dat as jou rekenaar stadig is of kort-kort gaan staan, kan jy een van drie dinge doen.

  1.  Jy kan van die onnodige programme delete en meer plek maak want jou rekenaar is tien teen een oorvol.
  2. Jy kan dit defragmenteer.  Dan pak die rekenaar weer alles wat in sy kop is reg sodat dit makliker inligting kan terug kry.
  3. If all else fail –  RESTART.  Jy kan enige rekenaarboffin vra wat om te doen met ’n rekenaar wat hang en hy sal altyd eerste vra, het jy al ge-restart!

Die Here het die afgelope tyd met my gepraat oor my lewensrekenaar.  Ons hardeskywe lyk regtig soos hierdie vles.  Ons prop dit vol met ’n klomp goed wat ons dink belangrik is en so raak ons lewens vol en deurmekaar.  Totdat dit ook vashaak!  Ons raak moeg en moedeloos en vreugdeloos gehardloop en op die ou einde pak ons die Here laaste in of val Hy af.

Dalk is dit tyd dat jy gaan kyk watter programme maak jou vol en stadig en moeg!  Miskien is daar ’n paar programme wat net plek en tyd vat wat jy eenvoudig maar moet delete om meer tyd en meer plek vir die Here te maak.  Want wat ek weet is dat die Here meer plek in ons lewens moet kry!

Miskien is dit nodig dat ek en jy moet bid dat die Heilige Gees weer vir ’n slag ons lewens sal kom de-fragmenteer.  Weer kom regpak!  Miskien moet ons die goed in ons lewens net so ’n bietjie rondskuif sodat God weer die beste plek en tyd in ons lewens kan kry.

Die evangelie is een van RESTART!

Dank die Here dat Hy altyd uit genade bereid is om ons lewens reg te pak, uit te vee en die RESTART  knoppie te druk.  Mag vanmôre in jou lewe ‘n restart wees!  Amen

Stilgebed – Ek wil geleentheid gee vir stilgebed waarin jy jou lewensvles voor die Here uitpak om te kyk wat alles daarin is en waar God se plek is.    

Prediker: André Oosthuizen

andrej@webafrica.org.za