Elia buite grot

1 Kon 19                                                Prediker:  Ds Retief Botha

Van die gevaarlikste plekke om geestelik te wees, is ’n geestelike hoogtepunt.

Maar almal van ons is bly oor geestelike hoogtepunte.

Trouens … ons soek en verlang na daardie hoogtepunte!

Dit is waar jy…

Maar sulke hoogtepunte is gevaarlike plekke om te wees omdat dit dikwels gebeur dat dit dan gevolg word met ’n geestelike en emosionele krisis.

Ons sou ook kon praat van ’n geestelike depressie.

Dit is waar ons vir Elia kry.

Hy sit moedeloos onder die skrapse skaduweetjies van die ou besembossie in die woestyn.

Hy wens dat hy moet doodgaan.

Hy sê:  “Nou is dit genoeg, Here!”  Letterlik: “dit is te veel!”

Wat is dit wat nou vir hom te veel word?

Kyk, daardie Karmel-gebeure was nogal cool.

En God het homself klinkklaar bewys as die enigste en die lewende God.

Die vuur uit die hemel het sommer die hele altaar ook verbrand.

Elia hoor nog die Israeliete wat roep:  “Die Here is God!  Die Here is God!”

 

Maar toe kom daar ’n nuwe geluidjie by:

Dit is die stem van Isébel wat sê: “Mag die gode my om die lewe bring as ek nie met jou maak soos jy met die Baälpriesters gemaak het nie!”

En Elia skrik hom byna dood.  En hy vlug.

En hy verloor alle perspektief.  Alles word donker en sinloos.

 

Hoe dit werk, weet ek nie, maar dit is die ding wat dikwels gebeur.

En dit gebeur veral met die toegewyde mense.  Dit gebeur met entoesiaste.

Dit gebeur met “go-getters”.  Die teleurstelling is net te massief.

 

Natuurlik moet ons nie die strategie van Satan onderskat nie.  Hy sal elke geleentheid gebruik om jou nuwe entoesiasme onder ’n donker kombers van teleurstelling en pessimisme in te skuif.

 

En so sit Elia toe daar onder die besembos:  “Nou is dit genoeg, Here!

Nou sou ek vanaand graag vanuit die Woord vir jou wou wys hoe die Here hierdie profeet daar uit sy geestelike depressie uit optel.

En die Here  doen inderdaad vreeslik baie moeite om hierdie profeet terug te lei dat hy weer sy roeping moet besef en dat hy weer perspektief moet kry.

Die Here gee selfs vir hom spesiale  fisiese sorg en boonop nog ’n Godsverskyning.

(Ons kom daarheen terug.)

 

Maar dit lyk nie vir my of dit gebeur dat hy sy roeping weer opneem nie.

Wat baie belangrik was, is die Here se laaste drie opdragte in vers 15 en 16.

En mens sou wens dat hy sy roeping verstaan en die opdragte gaan uitvoer.

Ons sou wens dat hy “in sy spore sou omdraai…” (:15)

 

As dit so was, sou ek vir julle kon vertel van die Here se plan om geestelike depressie teen te werk.

Ek sou vir jou kon sê:  Dit is dieselfde God wat so met mense werk!  Vertrou Hom.

Tel jou kop op en gaan leef die roeping wat die Here jou gegee het.

 

Wat was die drie opdragte?

  1. “Gaan salf ’n nuwe koning vir die land van Aram.”  Dit sou die boodskap dra dat God regeer oor die hele wye wêreld en nie net oor Israel nie
  2. “Gaan salf ’n nuwe koning vir die tienstammeryk van Israel.”
  3. “Gaan salf ’n nuwe profeet wat jou kan opvolg.”

 

Elia doen nie een van hierdie dinge nie.

Kyk saam met my as jy so bietjie verder blaai in die Elia- en Elisa-verhale.

Daar in 2 Kon 8:11-13 lees ons van die nuwe koning van Aram. Sy naam is Gasael.

Hy ontmoet Elisa (opvolger-profeet).  Elisa salf hom ook nie as nuwe koning nie.

Elisa gee hom aangedaan die mededeling dat hy die nuwe koning sal wees en dat hy die een sal wees wat vir Israel baie hartseer en ellende sal bring.

 

Geen salwing deur Elia.  Net die mededeling heelwat later deur die opvolger-profeet.

 

  1.  Dan lees ons van die nuwe koning van Israel.  Sy naam is Jehu.  Hy word wel gesalf, maar nie deur Elia nie.  (2 Kon 9:1-12)Dit is een van Elia se profete-onder-opleiding wat gestuur word om daar onder geheimhouding die opvolger vir Agab te gaan salf met sy botteltjie olie.

En dan moes hy laat spaander voordat Agab hiervan uitvind.

 

Die argument dat die take indirek deur Elia uitgevoer is, gaan nie op nie.

Hy voer dit nie uit nie!

Geen salwing deur Elia.

 

  1.  Die roeping van die opvolger moes ook met ’n salwing gebeur.  Ons lees daarvan in 2 Kon 9:1-3.

As Elia egter daar by Elisa verbyloop waar hy besig is om met die osse sy groot boerdery se lande te ploeg, dan gooi hy bloot sy mantel oor Elisa.

Elisa besef die betekenis van die handeling.

As hy vir Elisa toestemming vra om eers sy familie te gaan groet, dan is daar ’n opvallende ongeërgdheid in Elia se antwoord:

“Gaan as jy wil.  Ek hou jou mos nie terug nie.” (1 Kon 19:20)

 

Sien, vir die derde maal voer Elia nie sy opdrag uit nie.

Maw , Elia het nie sy passie, sy roeping en sy gehoorsaamheid herwin nie.

Dit was sekerlik waaroor die Here gedroom het, maar dit het helaas nie gebeur nie.

 

Nou ontstaan die vraag:

Waarom word hierdie verhaal vir ons vertel?

 

Onthou dat hierdie verhaal eers laat in die ballingskaptyd op skrif gestel is.

Dit is die tyd toe die gelowiges daar in die ballingskap vra:

“Waarom sit ons in die ballingskap?”

“Waar is God?  Het Hy ons nie in die steek gelaat nie.”

 

En toe vertel die ou gryse rabbi hierdie verhaal van Elia.

Hy vertel van die volk en sy koning Agab se goddeloosheid en ongehoorsaamheid.

Hy vertel hoe getrou God sy profeet Elia se geloof daar by Krit en Sarfat versterk het.

Hy vertel van Karmel se gebeure waar God hom as die lewende en antwoordende God bewys het.

En ten spyte daarvan het die volk aangehou om te sondig.

 

En selfs die profeet Elia kon nie sy roeping volhou nie.

Ook Elia het sy roeping versaak.

 

En so val die lig retrospektief in die ballingskap nie baie vleiend op die verbondsvolk en op die profeet Elia nie.

Wat wel helder uitstaan in hierdie verhaal is God se volhardende getrouheid.

Niemand kan sê dat God nie volhardend en getrou bemoeienis met hierdie besembos-profeet gemaak het nie.

 

En dit is hoekom ek wil terugkom na die Here se bemoeiing met Elia:

Eintlik is daar 3 fases:

  1. Die besembos
  2. In die grot op Horeb.
  3. Buite die grot met die Godsverskyning

Kyk die Here se betrokkenheid in elkeen van die fases:

 

  1. Die besembos

Hy lê onder die ou bossie en wens om te sterf. Hy raak moedeloos aan die slaap.

Die Here stuur ’n engel wat vir hom kos (roosterbrood en water) bring.

Hy eet dankbaar, maar kap weer net daar om – depressief!

 

Die engel maak hom weer wakker:

“Eet maat, jy moet ver loop!

Jy moet daar na Horeb, die berg van God, loop waar hy met Moses gepraat het.

Daar wil Hy ook met jou praat.”

Dan toer hy die bykans 300 km na Horeb vir sy afspraak met God.

 

2.  In die grot op Horeb.

Daar in die grot vra God vir hom ‘n belangrikste vraag.

Dit is die vraag wat God vir elkeen elke dag wil vra:  “Wat maak jy hier?”

 

Maar Elia verstaan niks meer van sy roeping nie.  Hy is totaal gepreokkupeerd met sy onvergenoegdheid en bedreigdheid.  En die detail van sy klagtes is ook skoon uit perspektief.  Hy is NIE die enigste wat alleen oorgebly het nie.

In vers 17 praat die Here van 7000 wat nie voor Baäl gebuig het nie.

 

 

3.  Buite die grot met die Godsverskyning

Dan roep die Here hom uit na die bek van die grot.

Daar gee die Here 4 duidelike tekens:

Wind, aardbewing, vuur en … iets baie sagkens soos ’n fluistering in die windstilte.

 

Ten spyte van die asemrowende van die eerste 3 tekens wat hul op die omgewing wreek, onderskei Moses dat God nie in die kragtige natuurtekens was nie, maar wel in die verrassende sagtheid van stilte.

Ek dink hierin lê iets belangriks in aansluiting by verlede week se prediking uit Jes 30:15 dat “ons krag lê in stil wees en vertroue”.

Ten spyte van God se almag kom Hy verrassend sag en genadig oor na mense.

Veral in Christus Jesus het God sy gesig baie sag en broos na ons gedraai.

 

Terug na die Godsverskyning daar by die bek van die grot…

Dan:  As Elia besef dat God daar is en hy sy gesig met ’n mantel toemaak,

dan kom God weer met presies dieselfde vraag:  “Wat maak jy hier, Elia?”

Mens sou verwag dat hy later sou begin praat oor sy behoefte om God weer duidelike raak te sien.  Of dat God hom moet help met sy roepingsuitklaring.

Maar, en dit is die teleurstellende,  hy het nog presies en woordeliks dieselfde ou perspektief met klagtes!!

Hy het nie een treetjie gevorder nie!

Hy het onverklaarbaar sy totale perspektief op God en sy geroepenheid verloor!

 

Miskien was die opdragte wat hy nie uitvoer nie, God se laaste poging om hom weer in sy profetespore te kry, maar dit slaag ook nie.

Hy is net besorg oor sy demissie en wil sy tuig so gou moontlik neerlê.

Daarom dat hy dadelik die derde opdrag eerste skuif en hy soek net iemend om sy profetemantel te dra.

Hy tree uit.

Hy tree uit ten spyte van God se herhalende getrouheid en moeite met Hom.

Sien, so skuif die fokus weg van die teleurstellende Israel en selfs sy No 1 profeet.

Die fokus val, ook vandag, op God wat aanhoudend versorg en aanhoudend bemoedig en aanhoudend tot verantwoording roep…

Hy openbaar Hom selfs op verrassende wyses – en op maniere dat mense Sy teenwoordigheid nie kan mis verstaan nie.

 

Later sou Hy nog meer verrassend en nog meer volhardend sy Jesus-gesig vir ons kom wys.

Hy is regtig volhardend getrou in sy pogings om ons naby aan Hom te hou.

Hy volhard daarin om sy kinders terug te roep na hul Godgegewe roepings.

 

So getrou dat Hy ook vandag vir jou kom vra:

“Wat maak jy hier, ou maat?”

“Wat maak jy hier?”

Sluit:

Hoe sien jy vandag jou roeping?

Hoe sien jy jou roeping in SA?

Ek gaan die vraag vir jou oop los dat jy dit in die komende week weer en weer met God daaroor kan praat.

Ek hoop dat jy verder vorder as wat Elia gevorder het.

En  miskien het dit te make daarmee dat jy …

Die Here vra:  “Wat maak jy hier?”

 

Amen

Elia buite grotPrediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.