Skrik by die grafMarkus eindig sy evangelie op ‘n baie skielike  en stomp manier.

Dit is hierdie teks wat ons nou pas gelees het tot by Mark 16:8.

Kom ek verduidelik:

Ons het nie meer die heel oorspronklike weergawe van die Evangelie nie.

Al die weergawes wat ons het, is weergawes wat oor honderde jare oorgeskryf is. Afskrifte van afskrifte. Oral het mense, met verskillende bedoelings, en ek glo dat dit almal goed bedoel was, hier en daar veranderings aangebring.

As Skrifkenners nou al die weergawes langs mekaar gaan plaas, dan kan jy met ‘n paar goeie tegnieke ‘n goeie beeld kry van wat die inhoud van die mees oorspronklike manuskrip was.

Hier is een voorbeeld van hoe oorskrywers ook die idee sou kry dat die evangelie darem té stomp eindig en het hulle uit die ander evangelies ‘n klompie gegewens ingetrek wat moes help dat die einde nie so vreemd moes wees nie.

Daar is selfs ‘n alternatiewe korter Markusslot:

“Maar die vroue het alles wat vir hulle gesê is, kortliks vir Pertrus en die ander by hom vertel. Daarna het Jesus self deur hulle die heilige en onverganklike evangelie oor die ewige redding van die ooste tot die weste laat verkondig.”

Sien die tipiese goeie bedoelings tot afronding van die Evangelie?

 

As ons nou weer die teks lees tot by die oorspronklike einde van die evangelie, dan klink dit regtig vreemd.

Dit is ‘n vreemde verhaal wat teologies nie baie sin sou maak om mense te oortuig van die betroubaarheid van die opstanding nie.

Ons kry hierdie vreemde slot wat vertel, nie van vroue se oortuiging van ons Here Jesus se opstanding nie, maar eerder van skrik en vrees en weghardloop.

Dít sou mense nie inspireer om te glo nie.

En tog is dit ook op ‘n manier ‘n eg menslike reaksie waarmee lesers sou kon vereenselwig:

 

Dit is vir ons menslik vreemd.

         Daarvan is ook die opstanding ‘n baie tipiese voorbeeld.

 

My reaksie op hierdie teks was dat dit ‘n teks is wat vertel hoe onverwags/onverhoeds hierdie vroue gevang is met die opstanding en die opstandingsboodskap.

Let wel: My vraag is nie of Jesus wel opgestaan het nie.

Daaroor is daar in die filosofie ook baie gedebatteer. Maar tog kan mense logies nie anders as om met ‘n groot mate van sekerheid, gebasseer op al die gegewens en getuienisse, te erken dat Jesus wel opgestaan het nie.

Die opstandingsverhaal is beide ‘n feite-verhaal en ‘n geloofsverhaal. Miskien kom ons makliker oor die weg met die geloofsverhaal as met die (vreemde) feite-verhaal.

Daarom ook die debat wat lewendig bly in die kerk oor die vraag of die opstanding nie maar net geestelik en simbolies verstaan moet word nie.

(Op webwerf: Luister na hierdie stukkie verrassende gebeure vanuit ‘n akademiese konteks:

“In April 2002, 100 philosophers gathered at Yale University for a conference on ethics and belief. One of the keynoters was Richard Swinburne, Oxford University professor and Greek Orthodox Christian. Using the tools of philosophy to explore religious faith is a growing cottage industry, it’s also called philosophy of religion, and here was one of the most celebrated philosophers of religion in the 20th century choosing as his topic whether or not it could be proven that Jesus rose from the dead. He used Bayes’s theorem to bring inductive logic to bear on whether Jesus is alive. After factoring into the equation the facts of Jesus’ life as well as the testimonies after his death, Swinburne calculated the probability of the resurrection at a whopping 97 percent. He later published his “proof” of the resurrection in the Oxford University Press book The Resurrection of God Incarnate (2003).” Leonard Sweet)

My vraag is nie of Jesus opgestaan het nie, maar eerder:

Wat sou gebeur het as die vroue regtig geglo het dat Jesus sou opstaan – soos Hy beloof het?

En daarmee saam die vraag aan elkeen van ons:                                                                              Wat sou gebeur as ons regtig glo dat Jesus opgestaan het?

Want sien: Net so min as wat die vroue in die verhaal gereed was vir die oop graf, net so min is ons daarvoor gereed!

Ek wil die stelling maak: Ons is nie gereed vir die lewe nie.                                                       

                                     Nog minder is ons gereed vir die LEWE!

 

Met hierdie vraag dan kyk ons weer na die verhaal:

Wat sou gebeur as ons regtig glo dat Jesus opgestaan het?

 

Baie vroeg! Johannes sê dat dit nog donker was.

Maar dit is ook donker in hul harte.

Wat gaan hul daar doen? Hul gaan met olie om die liggaam te gaan balsem.

Hulle verwag niks anders as die dood nie. En die balsem is om die dood te kontinueer. Om ‘n liggaam te balsem is om die liggaam (dooie liggaam!) langer te preserveer. Met die dood werk dit so. Jy wil net die liggaam sien en dit aanraak.   Dan kry jy op ‘n manier vrede/berusting (of jy dink so).

Ons sien dit ook in lugrampe, waarvan die laaste die een in die Alpe was. Die familie wil net die liggaam uitken, daaraan raak en dit huis toe bring. En begrawe.

          Ons hoor dit ook in die Keniaanse studenteslagting van verlede week.

As hierdie vroue die lewe verwag het/geglo het, sou hulle nie met balsemolie geloop het nie.

Dan sou hulle met vreugdevolle salfolie geloop het – soos Maria wat Jesus se voete aan tafel gaan salf het- met blydskap en dankbaarheid.

As ek en jy regtig sou glo dat Jesus opgestaan het

 

 

Terug na die vroue:

 

Hulle vra toe vir mekaar: “Wie sal vir ons die klip voor die ingang van die graf wegrol?” Die klip was baie groot, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat dit klaar weggerol is. (:3,4)

Hulle het nie ‘n plan nie! Hulle het net ‘n krisis!

Ons het allerlei groot klippe/baie groot klippe wat te groot is om te hanteer. Party van die klippe is fisies. Ander is emosioneel of geestelik.

Die opgestane Heer is die Heer van die almag.

Geen fisiese krisis/uitdaging is vir Hom te groot nie.

Geen emosionel krisis/uitdaging is vir Hom te groot nie.

Geen geestelike krisis/uitdaging is vir Hom te groot nie.

 Die vroue se kommer was toe al die tyd onnodig. Hulle het hulself net met al die angstigheid moeg gemaak. Die klip was klaar weggerol.

 Ek bekommer my ook oor allerlei dinge: SA, my kinders, my gesondheid, die toekoms, my finansies …..

Die opgestane Heer sê: “Daardie groot klippe is my speelalbasters!

         Gee dit vir my – en kom speel saam!”

 

Ek lees die in week die interessante vraag:

Waarom is die klip voor die graf weggerol?

Dit is tog nie weggerol om Jesus uit te laat nie. Hy sou in die toekoms deur toe deure verskyn!

Nee, die klip is weggerol vir mense om daar in te stap en die tekens van de opstanding te gaan sien! En dit te glo!

Paasfees roep ons om in die graf van Jesus in te stap en opnuut regtig te glo.

En as jy dit regtig glo, dan gee jy jou klippe met ‘n sug van verligting vir die Een met die Opstandingskrag.

Dan raak die donker om jou ook lig!

     Die lewe is net te veel om alles as groot klippe te sien!

 

 

Ons lees dat die vroue skrik as hulle die jongman met die lang wit klere daar in die graf sien sit (die ander evangelies praat van twee engele).

Hy sê vir hulle: “Moenie skrik nie!”

Wie van ons sou nie skrik as ons skielik ‘n engel sien nie? (en die lewe is rondom ons vol van God se engele wat ons bedien en beskerm!)

Die geesteswêreld gaan vir hulle so op ‘n skrefie oop. En hulle skrik ipv om bemoedig te word.

Daar is ook nog die transendensie-wêreld wat oopvou as hulle die boodskap hoor van Jesus wat opgestaan het.

Dit is “out of this world”!

Hierdie ontmoeting met die transendensie behoort ons eintlik met ‘n klomp vrede te vul.

 

 

Selfs al sou jy die Here êrens teleurgestel het soos Petrus, kan jy weet dat Hy jou nie afskryf nie.

Die Opgestane Heer spesialiseer in tweede kanse!

Moet daarom nie skrik vir die Transendensie wat jou in die oop graf ontmoet nie.

Omhels die Transendente Opgestane Heer en sorg dat jy altyd ‘n loflied gereed het.

Dit is terselfdertyd ‘n pad na ‘n toekoms saam met die Ogestane Here:

‘Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”’ (vers 7)

       Hy is al in die toekoms! Hy is al voor ons om die pad gelyk te maak en die groot klippe weg te rol.

 

 

Die vroue kry die opdrag:

Vers 7: “Maar gaan sê vir sy dissipels en in die besonder vir Petrus: Hy gaan julle vooruit na Galilea toe. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”

‘n Eenvoudige opdrag. Dit vra net ‘n bietjie gehoorsaamheid.

Maar wat gebeur?

Vers 8:   Hulle het uit die graf uitgegaan en weggehardloop terwyl hulle gebewe het van die skrik. Hulle het vir niemand anders iets daarvan gesê nie, want hulle was bang.

Dit is die einde van die evangelie.

   Ongehoorsaamheid. Skrik vir die transendente.

     Sien julle waarom dit so ‘n vreemde opstandingsverhaal is?

           Dit is alles behalwe oortuigend en bemoedigend.

Sou jy nie ook maar met goeie bedoelings ietsie wou probeer byskryf nie?

Die blye boodskap/Evangele kan tog nie eindig met vlugtende, histeriese en ongehoorsame vroue nie!

 

Gelukkig ken ons die verhaal verder…

       Ons weet die boodskap hét toe wel by Petrus uitgekom.

       En hy is nie net vergewe nie. Hy is ook nuut in sy amp teruggeplaas.

       En hy kon die rotsman van Jesus se kerk word.

 

Maar ander mense ken nie die verhaal verder nie.

Daarom sal jou en my lewe maar die bemoedigende slot van die evangelie moet wees.

Die troos is dat die opgestane Heer alreeds in die toekoms vir ons wag – by ons huise en skottelgoed en moedeloos rompslomp frustrasies.

 

Al wat dit vra is geloof in Sy opstanding en gehoorsaamheid.

       Gaan leef ‘n boodskap van hoop wat vertel van liefde en van ‘n duidelike Evangelie wat gedra word.

Mense moet in jou lewe die Transendente ontmoet – sonder om daarvoor te skrik.

 

Is jy gereed om met soveel LEWE saam te leef?

Dit is die lewe van ‘n mens wat regtig begin glo in die Opgestane Heer!

Ek gee vir jou geleentheid om (in stilte) in die oop graf in te stap (dan gaan ek vir julle iets oor Job vertel).

       

                                           Stilte

 In Job 19 lees ons:

“Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!”

Iemand wat in die diepste donkerte geleef het.

Hy is deur sy vriende verlaat.

Hy het beleef dat God hom in die steek laat.

Maar tsv al die donkerte getuig hy:

   “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job 19:25)

Daaroor komponeer GF Handel in 1741 in sy asemrowende Messias met die stuk wat sê   “I know that my Redeemer lives”.  Ons kyk na ‘n mooi UTube weergawe daarvan.