Joh 4:1-26

Prediking:  Om water te kry vir jou groot (Advents-)dors.

Die meeste van ons het nie ervaring van ernstige dors nie.

Ek kan persoonlik eintlik net ’n enkele weermag-ervaring en die Visrivier-canyon onthou:

2008 is die Visrivier droog.  Die rivier loop nie.  Daar is net stilstaande poele en daardie poele is so verbrak en vol slyk dat jy dit nie kan drink nie.

Die son brand ongenadig waar jy oor die klippe en deur die sand worstel.

Jou laaste bottel water is al teen 11 uur opgedrink.  Dan probeer jy weer van ‘n poelletjie se water skep, maar dit is totaal ondrinkbaar sout.  Selfs om dit te kook help nie.

Die chloor wat jy ingooi maak ook nie daarvan Fanta Orange nie.

Jy dehidreer en jy wonder wat gaan die volgende 3 dae van jou word.

Totdat jy verrassend by ’n genadige stroompie kom wat om ’n vreemde rede nog uit die berg uitsyfer.

En daardie lopende stroompie word ’n heerlike oase waar jy drink en drink en drink … en die waterbottels word almal vol gemaak.

Voordat jy jou rugsak optel gaan drink jy nog ’n keer diep uit die genadige ou stroompie blink water.

 

Hierdie stories in Johannes help ons om nader te kom aan die gevoel, nie net van fisieke dors nie, maar ook van ons geestelike dors.

Jesus en sy dissipels is te voet op reis.  Die hele reis is sowat 100 km.

Hoe en waar hulle oral oorslaap weet ons nie, maar ons weet dit is nou ook nie juis die reënwoude waardeur hul stap nie.

Wanneer die son op sy warmste is, kom hulle moeg by ’n put aan.

 

Blykbaar gaan koop die dissipels kos in die dorpie daar naby … Sigar.

Jesus bly alleen agter vir ’n klein erediens wat moes gebeur.

Jesus kyk in die put af en hy sien die water blink, maar hy het nie ’n emmer en ’n tou nie.

Dan kom daar nog ’n dorstige aan.

Sy moet die water wat sy en haar gesin nodig het aandra huis toe.

Want daar is nie ’n pypleiding en ’n elektriese waterpomp wat die reservoir by die dorp kan vol pomp nie.

En die water is nog swaar ook! 1 kg vir elke litertjie.

Net 20 liter raak al onmoontlik vir ’n vrou om so ver te dra.

Maar, afgesien van die huisgebruik, bestaan hierdie liggaam van ons blykbaar 90% uit water en hy moet elke dag water kry … ander gaan jy dood.

 

Geen wonder dat hierdie put vir die Samaritane so besonders kosbaar is nie.

Hulle eer elke dag hul voorvader Jakob wat hierdie put vir hulle gegrawe het.

 

Johannes sê daar is ’n ander dors, ’n dieper dors as net na water.

Dit is ‘n dors wat geles moet word, maar ons kan dit nie uit die Visrivier se stroompie of die dorpsreservoir of uit die Sigar-put les nie.

Dit is ’n dors na Hom wat langs die waterput sit!

Jy word eers wat Hy jou bedoel het om te wees … as hierdie dors geles word!

 

Ps 63 verwoord dit baie raak:  “Ek soek U, o God, my God,

ek dors na U;

Ek smag na U

soos in ’n dor en droë land,

’n land sonder water.

Ek wil by U in die heiligdom wees

om daar U mag en grootheid te ondervind.” (:2, 3)

Die opskrif van die Psalm sê Dawid het dit geskryf nav sy verblyf in die Judea-woestyn.

Ook Dawid ken die dors.

Hy ken ook die GROOT DORS!

 

Ons fisiese dors is eintlik ’n sakrament wat die Here vir ons gee om ons telkens daaraan te herinner dat ons ’n GROOT dors het wat geles moet word.

Miskien moet jy op jy waterglas die woorde van Ps 63 gaan skryf.

 

Die probleem met hierdie geestelike dors is dat dit eintlik vreeslik diep lê.

Jy kan op die oppervlak, en in jou vreeslike doenig-wees in jou lewe, hierdie dors-behoefte totaal mis.

Want jy is besig om H2O en Coke – en jou bier en jou whisky- te drink.

En jy dink jy kom heeltemal goed reg.

En daardie groot dors word nie noodwendig bevredig nie.

Daardie dors word nie eers noodwendig bevredig as jy kerk toe kom nie.

Nee, jy het nodig om die lewende water te ontdek,

dit te proe en dit te drink met groot dorstige teue.

 

En elkeen van ons se dors verskil seker ook nog van die ander s’n.

Miskien moet ons in ons huise begin praat oor hoe ons daardie dors beleef.

Miskien kan ons mekaar help om meer van die dors te verstaan.

 

En hoe meer jy drink, hoe meer dors word jy!

Dit is dus ’n dors wat nie ophou nie … nooit nie!

Trouens in die hemel gaan daardie dors ook nog bestaan, met die een verskil dat jy in die poel van Lewende Water sal kan swem en drink … en drink  …. en drink!

 

Hierdie dors kan ook nie deur my self geles word nie.

Daardie lewende water is iets wat gegee word.

Die Here gee dit.

Daarom is die beste plek om te gaan soek …. by Jesus Christus.

’n Baie persoonlike, intieme geloofsverhouding met Jesus Christus.

Dit is die enigste plek.

 

As jy op enige ander plek gaan soek, dan gebeur soos met die Samaritaanse vrou wat telkens weer dors kry en telkens weer water moet kom haal.

Om kunsmatige dorslessers te soek in jou eie ego, jou prestasies of jou kinders se prestasies, vermaak, eiendom, sekuriteite, luukshede – is alles futiele oefeninge en gaan niks aan jou ewige dors doen nie.

 

Waar kom hierdie dors van ons vandaan?

Dit kom eintlik uit God se dors na ons!!!

En ons weet dat God na ons dors omdat Hy sy Seun Jesus Christus na ons toe gestuur het.

Hy het sy Advents-Seun gestuur om ons na Hom toe te trek.

Ons dors is eintlik die eggo van God se dors in my binneste.

 

Hy kom knoop ook vandag met jou ’n gesprek aan soos met die vrou daar by die Sigar-fontein.

Dit is die werk (vers 32 en 34) waarvoor Jesus gestuur is en wat Hy moes kom voltooi.

Dit is eintlik die tweede beeld wat hier vanuit die konteks daar by die punt gebruik word:

  1.  Die Water wat Jesus gee en nie die put nie.
  2. Nie die kos wat die dissipels moes gaan koop nie, maar die voedsel van gehoorsaam te gaan doen waartoe Hy geroep is.

Dit is om mense na Hom toe te trek.

 

Die verdere beeld wat Jesus in sy gesprek is net so interessant:

“Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

Die beeld van die borrelende fontein wys op die blywende en genoegsame aard van die verlossing.

Die konteks is egter baie interessant.

Die konteks vertel van Jesus se uitreik na die Samaritane (irriterende en gehate ou spulletjie wat hulle was in die oë van die Jode).

Jesus dors egter ook na hierdie randfigure.

En dit maak ’n dors in hulle wakker.

Vers 39 vertel van die reaksie dat hulle gretig aan die water begin drink – en “baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het…”

Haar geleste dors word dus ’n fontein van water wat oorborrel en oorvloei na al haar bure en na die gemeenskap en hulle drink gretig daarvan.

Miskien gaan dit eers regtig Kersfees word in ons families en gemeenskappe as ons nie net persoonlik weer diep drink uit die dors-lessende water van ons Here Jesus nie,

maar as die dankbaarheid begin oorvloei dat ander ook kan drink uit hierdie heerlike fontein.

 

Hierdie mag dit die twee fokuspunte van jou Adventstyd in 2012 word:

  1.  Drink diep!
  2.  Laat die water oorborrel na ander.

Dan raak ons dorsland-trek ’n reënwoudreis.

Dan raak ons staproete met brak poele ’n Visrivier-avontuur en ons word die vissers van mense!

 

Amen!