Hoe gaan dit?  Ons vra dit seker ‘n hele paar keer ‘n dag.  En wat is die mees algemene antwoord?  Goed dankie!  Dit is seker nommer 1 op die trefferlys van antwoorde.  Maak nou nie saak of dit regtig goed of regtig sleg gaan ni.  So, ons verwag dat mense so min of meer altyd opgewek en vrolik moet wees wanneer ons na hulle welstand vra, al is dit net ook op ‘n oppervlakkige manier.  Ons verwag dat almal goed dankie moet sê.  Nommer 2 op die trefferlys van antwoorde op die vraag hoe dit gaan verklap iets van ons uitkyk op die lewe: Ag wat help dit om te kla?  Wie gaan luister! 

So, om te kla is nie deel van wie ons is nie.  Ons word ook so grootgemaak, jy loop nie en kla nie.  Dit is half ‘n teken van ongeloof en ‘n gebrek aan vertroue om te kla.  Mense raak geïriteerd met mense wat gedurig kla en probeer hulle so ver moontlik vermy.  Selfs in ons geloofsbelewing laat ons baie min ruimte vir klaagliedere.  Ons is kognitief, elke klag het iewers ‘n logiese oplossing, daarom is kla onnodig, ongelowig. 

Ps 25 is in wese ‘n klaaglied.  Soos baie ander Psalms natuurlik saam met die hele boek Klaagliedere.  Nou die rede waarom Ps 25 ‘n klaaglied genoem word is omdat Dawid hier in groot moeilikheid verdwaald geraak het.  Sy moeilikheid het hom koers laat verloor.  Daarom dat hy in ʼn gebed, tot God roep, by Hom kla om hom tog net weer op koers te bring en op die regte pad te help.  Dawid het perspektief verloor onder al sy moeilikheid.   

In die aande wat volg, sal ons ʼn bietjie van naby kyk hoe God hom gehelp het om weer perspektief te kry en op die regte pad te kom.  Ek wil vir ‘n paar oomblikke stilstaan by die klaaglied vanaand.  Jy sien, die rede waarom Dawid kla is hier tweerlei. 

  1.  Hy ervaar moeilikheid van binne                               2.  Hy ervaar moeilikheid van buite

Moeilikheid van buite

Sy moeilikheid van buite is taamlik konkreet. In die woorde wat Dawid gebruik kom ons agter dat daar vyande is wat sy lewe bedreig.  Sy lewe is in gevaar en herhaaldelik verwys hy na mense wat hom haat.  Mense wat vir hom strikke stel en gate grawe om hom tot ʼn val te bring. 

Moeilikheid van binne

En natuurlik speel die gevaar en moeilikheid van buite in op hoe Dawid innerlik voel.  Dit werk mos so, druk van buite veroorsaak terneergedruktheid van binne.  En waarskynlik het die gevaar van buite ʼn ernstige traumatiese toestand by Dawid veroorsaak.  Hy stres en hy voel alleen en hy voel eensaam in sy moeilikheid.  En dit lei tot ʼn diepe hartseer by Dawid.

Moeilikheid van buite en van binne

Moeilikheid van buite en moeilikheid van binne het vandag net ander name.  Moeilikheid by die werk, moeilikheid in ons huise en huwelike, moeilikheid in ons land, moeilikheid wat ons in die koerant raaklees.  Dit alles speel natuurlik ‘n rol in hoe ons voel.  En dan kan dit gebeur dat ons so daardeur oorweldig word dat ons die pad byster raak.  Die moeilikheid kan ons so oorweldig dat ons perspektief verloor.  Baiemaal is daar in ʼn kerk, of in ʼn gemeenskap, of selfs in ʼn land dinge wat mense so onseker maak dat hulle verward en  ʼn bietjie verdwaas gelaat word.

Daarom sing Dawid ‘n klaaglied!  Hy sê openlik, dit gaan nie goed nie, ek is in die moeilikheid!  En hy neem sy klagtes openlik na God.  So anders as wat ons wil doen.  Ons wil sterk wees, ons wil vir mense en vir die Here wys ons geloof is sterk genoeg, ons sal regkom, ons sal oplossings vind, klagtes self uitsorteer.  Dawid kies vir ‘n ander roete: hy kla by God!  Jy sien, en hy kla nie net omdat kla hom beter laat voel nie. 

Dit is waar die klein Psalmbundeltjie van Ps 25 tot Ps 34 ter sprake kom.  Jy sien Ps 25-34 vorm eintlik ‘n eenheid.  So byvoorbeeld word Psalms 25 en 34 aan mekaar verbind omdat albei volgens die Hebreeuse alfabet gestruktureer is nie.  Maar ook omdat die een ʼn klaaglied is en die ander een ʼn danklied! As ʼn mens na Psalm 29 kyk en wat eintlik in die middel van hierdie Psalmbundeltjie lê word die prentjie baie interessant. Want jy sien, Ps 29 is ‘n loflied!  Dus, in hierdie Psalmbundeltjie kry jy Ps 25 klaaglied, (Ps 29) loflied, (Ps 34) danklied.  Met ander woorde om te kla is nie om hopeloos en pessimisties en moedeloos na God te roep nie.  ‘n Klaaglied word gesing met ‘n verwagting!  Ek sing my klaaglied omdat God dit gaan verander in ʼn loflied en my loflied gaan oor in ʼn danklied!

Dit is hoekom kinders van die Here by Hom kan kla.  Omdat ons weet, by God word klaagliedere lofliedere en lofliedere dankliedere! 

’n Klaaglied, ʼn evangeliese lied

Miskien moet ons tydens hierdie week van gebed net weer vir ‘n slag ʼn bietjie nadink oor die behoefte om soms maar net by God te kla.  Om te kla oor myself en die goed waarmee ek worstel, oor ons kinders, oor ons kerkfamilie wat tog so sukkel om in eenheid en versoening aan God gehoorsaam te wees, om te kla oor ons land en sy mense, oor moederaarde wat geplunder word; kla oor die sonde en onreg in die wêreld.  En ons klaaglied by God is ten diepste ʼn evangeliese lied waarin die saadjie van die verlossing en die uitkoms reeds aanwesig is. Laat ons by God kla, want dit is Hy wat klagtes omvorm in lof en dank.  Amen