PottebakkershandeVerlede Sondag het ons op ’n ontdekkingsreis begin gaan en toe het ons soos die Israeliete van ouds ’n paar kosbare eienskappe van God ontdek.

Toe het ek nou verder in die OT gelees en begin wonder oor God se heiligheid en dat Hy sonde en ongeloof nie kan uitstaan nie.

Ek  het begin wonder oor God se ongeduld/oordeel.

En ek het begin wonder oor die vraag:

Nou hoe lank is die lankmoedigheid van die Here regtig?

Kom daar nie ’n punt waar God so moedeloos raak met mense dat Hy hulle heeltemal afskryf  en uitroei nie?

Dit lyk my tog so!  Iets daarvan het gebeur in die verwoesting van Jerusalem en die wegvoer van mense in die ballingskap.

Maar sou dit nie die einde van alle hoop impliseer nie?

Lees Jeremia 18

Tema:     “Weerloos, maar tog ook weerbarstig  in die hand van die Pottebakker.”

Daar is ’n groeiende onvergenoegdheid in hierdie mooi land van ons.

Daar is ’n groeiende onvergenoegdheid met dienslewering, korrupsie, geweld, misbruik van mag…..

En mens begin vra die vraag:  Wanneer misluk ’n staat?

Wanneer gee ons vir ’n staat die  spottende bordjie van “Piesangrepubliek”?

Nou sou ons seker die mislukking van ’n staat vanuit verskillende hoeke kon bekyk:

Maar net so sou ons die vraag kon vra:

Nou is dit so dat die staat en die kerk en die individu in die OT Joodse tyd heeltemal vervleg was.

Die gelowiges was ook saam die kerk en dan was die hele staat ’n teokrasie onder God se regering.

So, wanneer ons die Woord van God in Jer 18 hoor praat van ’n mislukking in Jerusalem, kan ons die lyne net so deurtrek na die individu, die kerk en die staat –  selfs ook in ons dag!   Al werk ons met ’n moderne demokrasie.

 

En, kom ons sê dit maklik en eenvoudig:

’n Staat, ’n gemeente, ’n individu se lewe misluk as God en sy gebod van liefde nie ernstig geneem word nie.

As daar nie liefde en respek is vir God en as daar nie liefde en respek is vir mense nie,

dan is alles en almal gedoem tot mislukking. Dan val alles uitmekaar uit.

Sonder die uitleef van hierdie dubbele liefdesgebod kan ons nou al weet ons gaan een of ander tyd die borjie moet opsit: “MISLUK!”

Nou, kom ons kyk weer na die teks se vertelling:

Jeremia is die profeet wat vir bykans 40 jaar God se stem in Jerusalem verteenwoordig.

Die volk se geestelike en morele vlak is op ’n laagtepunt.

Dit impliseer ’n oproep tot bekering.

En as dit nie gebeur nie, dan moes die volk weet dat God se oordeel nie sal uitbly nie.

Jeremia praat harde taal.

Maar dit is omdat die volk totaal doof geraak het vir God se stem.

Hierdie spesifieke teksgedeelte se gebeure speel hom dan waarskynlik ook af aan die einde van die regerings van Jojagin en Jojakin, net voordat die eerste wegvoering in ballingskap in 587 vC plaasvind.

 

God stuur Jeremia daar af na die vallei waar die waterlopie en die lekker leemgrond is.

“Jy moet na die pottebakker se huis gaan. Ek sal daar met jou praat.”

Dit is waar die pottebakker sy nywerheid het.

Daar staan Jeremia en kyk wat aan die gebeur is in hierdie interessante bedryf.

En deur wat hy daar sien begin verstaan hy die boodskap wat God wil gee.

 

Miskien moet ons meer oop-oog deur die wêreld loop.

Miskien lê daar baie meer boodskappe in die gebeure rondom ons as wat ons dink.

Vra opnuut die Here om jou opmerksaam te maak in dit wat jy sien en dit wat rondom jou gebeur.

Daar is bv geen manier dat God nie vir ons iets te sê het in dit wat aan die gebeur is in Suid-Afrika nie!

 

Die pottebakker maak ’n pot.

Maar die klei breek uitmekaar. (Hebreeus: wenisgat – dit breek/misluk)

Dan frommel die pottebakker die klei op ’n hoop, brei dit weer ’n keer en begin van voor af.

Nou maak hy die pot soos hy dit wil hê.   Oënskynlik slaag dit hierdie keer.

“Ek het na die pottebakker se huis gegaan, en hy was toe besig om iets op die skyf te maak.

Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.” (vers 4)

 

Toe verstaan Jeremia die boodskap en hy dra dit so oor:

“Israeliete, Ek kan met julle doen soos die pottebakker met die klei doen.

Ek kan nou sê Ek wil ’n volk of ’n land uitruk en omgooi en verwoes,

en wanneer daardie volk ophou om die slegte dinge te doen waaroor Ek hulle wil straf, dan sal Ek besluit Ek straf hulle nie.

Of Ek kan nou sê Ek wil ’n volk of ’n land bou en plant,

maar wanneer daardie volk ongehoorsaam is en dinge doen waarvan Ek nie hou nie, dan sal Ek besluit Ek sal nie aan hulle die goeie dinge doen wat Ek belowe het nie.”

Dit klink inderdaad of mens maar redelik weerloos is teenoor hierdie God.

Hy sê dit mos:  Hy kan maak soos Hy wil!

Ons is maar soos  weerlose klei in die hand van die Pottebakker.

 

Maar daar is ook ‘n ander kant:

Die oordeel en onheil hang af daarvan of mense hulle aan God en sy opdragte steur of nie.

Net so hang die voorspoed en vrede daarvan af.

Gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid bepaal die verskil tussen voorspoed en misluk.

Ons praat van bekering.

En op grond hiervan was God nou, tragies genoeg, besig om vir hierdie spesifieke volk ’n ramp voor te berei.

God se geduld het opgeraak.

En inderdaad word die volk en die stad verwoes.  Die bloed vloei riviere diep.

Die lyke bly lê in die strate en word deur die roofdiere opgevreet (19:7).

‘n Klompie van die getraumatiseerde mense wat gespaar bly, word 2000 km te voet weggevoer na Babilon.

 

Die les:  mors met God en mors met mense wat vir Hom kosbaar is

–        en jy het moeilikheid!

 

Ons is inderdaad weerbarstige klei wat nie hou daarvan om volgens enige ander persoon se wense op te tree nie.

Hoe harder die klei is, hoe meer weerbarstig is dit.

Dit bied weerstand tot vorming.

Ons hou nie van God se vingerafdrukke op ons lewens nie.

Ons hou eerder daarvan om ons vingerafdrukke op ander te af te druk.

En dan land ons

Dit is waarmee Jer 19(:10,11) dan ook dreig:

“Jeremia, jy moet die kleipot breek. Die mense wat saam met jou gegaan het, moet dit sien, en jy moet vir hulle sê die Here wat oor alles regeer, sê: Jeremia het die kleipot gebreek en niemand kan dit heelmaak nie. So sal Ek hierdie volk en hierdie stad ook breek.”

 

En tog is dit gelukkig nie al wat ons oor God hoef te sê nie!

Onthou die opmerking:

“Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê.”

Ons mislukkings stop nie God se drome oor ons nie.

Selfs die donkerste uur het ’n sprankie van hoop met hiedie God naby hom.

Jou weerbarstige karakter sal nie maak dat God se genade ophou nie.

 

Selfs hierdie ballingskapvolk se oorblyfsel het teruggekeer Jerusalem toe.

Maar ook daardie klei was nie juis watwonders nie!

Dit is die mense wat hardgebak die Messias verwerp het toe Hy kom.

 

En nog ’n keer was God genadig.

Hy stuur sy Seun, Hy hang aan ’n kruis, die Erdepot word flenters gebreek, maar Hy rol die graf se klip weg en Hy kom vestig sy Pinksterkerk.

En Hy begin om steentjie vir steentjie sy kerk te bou.

Hy vorm vir hom ’n nuwe bruikbare erdepot.

Hy druk sy vingerafdrukke duidelik daarop af.

Ek en jy is deel daarvan.

 

En natuurlik het ons steeds ’n weerbarstigheid in ons.

Maar in die hand van die Pottebakker word ons mettertyd gebrei totdat ons bruikbaar is.

Die klipharte maak plek vir harte van liefde.

Partykeer is die breiwerk nog seer.

Soms voel die Here se vingers op ons te grof.

Maar Hy sal nie sy handewerk laat vaar nie.

 

Hy is besig om ons te maak soos Hy dit wil hê.

Moet nooit die Here se heiligmaking in jou lewe onderskat nie.

Partykeer ontdek jy selfs ’n sprankie dankbaar gewilligheid om gehoorsaam te wees:

 

En jy buig vanaand en sê vir die Here dankie dat Hy toe nie vir jou op die ashoop gelos het  as ’n nuttelose hoop potskerwe nie!

Amen

Prediker:  Ds Retief Botha.     Vir enige reaksie, e-pos gerus na rrbotha@hotmail.com.