Ek luister so lekker na my kinders as hulle speel.  Die rondhardloop en gelag maak ons huis vrolik en opgeruimd.  Sonder dat ons hulle geleer het speel hulle skool-skool en dan is die een die juffrou en raas verskriklik met die kinders.  Nou die dag het hulle kerk-kerk gespeel op die trappe en die een het vir die ander gepreek asof sy nooit ’n gelowige kan wees nie!  Maar kort-kort kom daar een aangehardloop vreeslik ontsteld met ’n vraag.  Na soveel keer se antwoord bly hulle die vragie vra: maar wie is nou die grootste of die oudste, of wie verjaar eerste, of wie is die langste. 

Dit gaan nie oor die feitelikheid van die antwoord nie, maar oor die lekker om te hoor jy is die grootste of die vinnigste of die sterkste.    

Lyk vir my of ’n hiërargie van belangrikheid ingebou word in ons gene.    Wie is die oudste, wie bly hier die langste, wie is die beroemste, die mees geleerde, die rykste?  Daar word T-hemde gedruk met die woorde: My pa is groter as jou pa!  Daarom kry jy in ons samelewing gewone mense, belangrike mense en dan die BBP’s – die baie belangrike persone.  Dit is nou hulle wat nuwe vliegtuie kry en altyd vir my ironies, alhoewel hulle bo aan die voedselketting is, kan hulle vir niks betaal nie en moet gewoonlik alles verniet kry! 

En dan is daar ons.  Gewone mense, maar as jy mooi eerlik daaroor dink, is of wil ons ook maar elkeen in ons eie kring ’n BBP wees.  In ons oë is daar altyd iemand minder belangrik as ons en iewers in ons gedagtes is ons hoër of belangriker of beter as iemand anders. 

Naäman was ook so!  Hy was die hoof van die weermag, ’n dapper soldaat, ’n man van aansien.  Hy en die koning was dik tjomme!  Trouens, Naäman was ’n sleutelspeler in die regering van Sirië, destyds Aram.  Naäman het baie oorwinnings op sy kerfstok gehad.  Aram was die vyand van Israel en was onder sy leierskap onder andere verantwoordelik vir die dood van koning Agab.   Maar daar was een probleem met hierdie beleërde leier.  En hierdie probleem het sy belangrikheid en status bedreig.  Hy het ’n velsiekte gehad.  Nou die kans dat dit melaatsheid was is seker nie uitgesluit nie, alhoewel die velsiekte op daardie stadium nie so erg was dat dit hom geïsoleer het of van interaksie met mense weerhou het nie.  ’n Mens kon seker die velsiekte sien, maar dit was ’n al hoe groter bedreiging vir Naäman. 

Interessant, reg deur die verhaal van Naäman word die kontras duidelik tussen die belangrikes en onbelangrikes, die grotes en die kleintjies.  Want dan ontmoet ons iemand aan die onderkant van die belangrikheidslysie.  Trouens, haar naam word nie eers genoem nie, so onbelangrik is sy.  Al wat ons weet is dat dit ’n dogtertjie is wie se lewe verwoes is.  Sy is ontvoer en is eintlik ’n slagoffer van groot mense se politieke konflik.  Sy is sonder rede weg gevat van haar ma en pa, na ’n vreemde land toe geneem om ’n bediende te word van die belangrike koning se belangrike vrou. 

En ek het oor hierdie dogtertjie gewonder.  Hierdie naamlose mensie waarby ’n mens so maklik verby lees.  Hoeveel hartseer was daar nie in haar ou lewetjie nie?  Hoeveel aande het sy haarself aan die slaap gehuil van verlange?  Hoeveel onbeantwoorde vrae was daar nie in haar hartjie nie?  Hoe onregverdig moes die lewe nie vir haar gewees het nie?  En tog, speel hierdie onbelangrike dogtertjie ’n vreeslike belangrike rol in die lewe van belangrike mense. 

Sy vra of spreek die wens uit dat Naäman tog net by die profeet in Samaria sal uitkom.  Nou ons weet profete was die verteenwoordiging van God.  Met ander woorde, wat sy vra is dat Naäman God sal ontmoet!  Verbysterend dat hierdie dogtertjie, seergemaak deur die onregverdigheid van die lewe, in ’n vreemde land saam met vreemde mense wat God nie eers ken nie, God daar kom bekendstel!  En haar eenvoudige woorde is toe die begin van ‘n pad van genesing vir hierdie groot man.  Nie net genesing van ’n siekte nie, maar genesing van sy totale lewe!

Die boodskap van hierdie naamlose dogtertjie kom toe by Naäman uit, en vreemd genoeg, hy gryp na die grashalmpie.  Maar getrou aan sy status volg hy die magsroete.  Hy vertrek met ’n brief van die koning as verwysing, 10 stelle deftige klere, 342 kg silwer en 68 kg goud.  Die arme ouens wat dit moes dra! 

En hy kom by die belangrike koning van Israel aan en dié skeur sy klere omdat hy hom nie kan help nie.  Die koning is magteloos!  En Elisa hoor van hierdie tantrum en hy stuur vir die koning ’n boodskap in vers 8: “Hoekom het u u klere geskeur?  Laat Naäman na my toe kom, sodat hy kan besef dat daar ’n profeet in Israel is.”  Liewe koning, hoe is dit moontlik dat jy van God kan vergeet?  Hoe kan jy vergeet dat daar Iemand groter en wyser is, Iemand wat nog altyd vir ons gelei en gehelp het?  Die Almagtige wat hierdie situasie kan omkeer en verandering bring. 

En die oomblik toe Naäman op sy deftige wa klim en van die belangrike koning af wegry na die teenwoordiger van God, begin sy reis na verandering, geloof en gehoorsaamheid. 

Oo ek like hierdie storie!  Hy stop met sy grand wa en baie persente voor die deur van Elisa.  Nou sien ek hom al!  En hy wag voor die deur en hy sit en as hy ’n toeter gehad het het hom seker al ’n paar keer gedruk, maar niemand kom uit om hierdie BBP te ontvang nie!  En na ’n ruk kom ’n boodskap: gaan was jou in die Jordaan!  En natuurlik is hy hewig ontsteld!  Want Sirië, waar hy vandaan kom, het in die eerste plek darem groter riviere as die ou Jordaan stroompie.  En as die profeet nog vir hom iets groots gegee het om te doen, sy hande geswaai en oor die plek van siekte geplaas het, sou dit darem meer gepas gewees het vir ’n ou van sy statuur.  Dan sou hy dit oorweeg het, maar nie sommer net ’n ou boodskappie van iemand om in ’n stroompie te gaan bad nie!  En Naäman gryp die teuels, ruk die ou waentjie in ’n rigting en ry weg. 

En dan kom die mindere weer by die meerdere en verander die kleinste die situasie wanneer sy slawe hom oortuig om tog maar die klein oplossing aan te gryp.  En Naäman gaan nederig af na die Jordaan en nadat hy hom 7 keer gebad het verander die belangrike weermaghoof se vel, ironies, in dié van ’n klein seuntjie!

Maar dit was nie net sy vel wat verander het nie.  In baie kringe word hierdie verhaal beskou as die bekering van Naäman.  Hy het van sy pretensies, sy grootheid en eiewaan ontslae geraak en die God van Israel ontmoet. 

Interessant, heel aan die begin lees ons dat Naäman oorwinnings behaal het omdat die Here dit vir hom gegee het.  Maar Naäman het dit nie toe eers geweet nie, want hy het nie die Here geken nie!  Hy ontmoet nou eers die God wat al lankal by hom betrokke was!  En alles is die produk van ’n klein naamlose dogtertjie wat woorde van hoop gebring het!     

Vriende, mag, status, belangrikheid en eiewaan is besig om verwoesting in ons ou landjie te saai.  Mense is in oorlog om belangrik te wees, groot te wees, bo aan lysies, strukture en betaalstate te wees.  En in hierdie oorlog is dit die kleintjies wat seerkry en swaarkry.  Hulle wat in die sweet van hulle aangesig elke dag maar hulle brood verdien, die kinders, die armes, die onbelangrikes.  Hulle word in die spervuur verder afgebreek en verneder.  En tog was dit juis die mense waarna Jesus uitgereik het, waaroor Hy Hom ontferm het. 

My vraag aan myself hierdie week was: wat is ons rol en betrokkendheid by hierdie oorlog?  Jy sien, dit is ’n regerings-ding, maar ook nie net ’n regerings-ding nie!  Die gevaar is dat ons, dan verwys ek na Christene en gemeentes, ook mag verval in hierdie bose kringloop van belangrikheid.  Dat ons ons ook besig hou met onbenullige vrae soos: wie is nou die grootste kerk, wie het die meeste lidmate, wie het die meeste geld, wie onderhou die meeste dominees of pastore, wie rokkel die meeste mense af, wie werk waar die grootste?  Met die gevolg dat God met ons besig is, soos met Naäman, maar ons ook nie eers meer daarvan bewus is nie. 

Want ons het groter goed om aan aandag te gee!  Die armes en werkloses en siekes, die swakkes wat rondom ons uitgebuit word en dood gaan, hulle nood lê gelukkig nie op ons vlak nie!  Ons bly darem nog lekker en redelik gemaklik.  Ons moet net sorg dat die deure oop bly en die verwarmers hier aan bly.  Ons hou van hoofopskrifte haal, voorbladnuus wees en die klein dingetjies los vir die klein mensies en bediendes om te doen. 

Miskien daarom dat Jesus toe maar ’n voorskoot aantrek nadat sy dissipels stry oor wie die belangrikste is.  Want wie die belangrikste wil wees, moet die minste kan wees.  Dit is die omgekeerde reël van Jesus se koninkryk!  Nie met mag en krag nie, maar in nederigheid en afhanklikheid word ons diensbaar.  Hande swaai en waai, ja dit trek meer aandag, maar miskien word ons vandag meer as ooit, in die land waarin ons woon, geroep tot klein dingetjies.  Geroep om die klein oplossings wat te maklik en voor die hand liggend lyk, die gewone netelige en nietige werkies te bly doen. 

Vriende, ek dink Universitas gemeente moet maar aanhou en uithou en uitbou daaraan om eenvoudig lief te wees vir alle mense, kos te gee, te versorg, op te hef, straaltjies van hoop te bring, selfs daar waar niemand weet of van hoor nie.  In jou kantoor, by jou bure, jou bediende, die kinderhuis, ’n telefoon optel,, ’n gat toemaak, ’n papiertjie optel, iemand in die straat in die oë kyk.    En ons doen dit nie deur groot vergaderings en kommissies  nie, maar in elkeen se gehoorsaamheid en eie nederige bydra, waar ookal. 

Slot: Vriende, die Here gebruik klein mensies en doen deur hulle groot dinge!  Miskien was jy nog nooit gereed om klein dingetjies te doen nie, omdat jy gedink het God gebruik net groot mense sonder ’n geskiedenis.  Dan moet jy vanmôre hoor hoe die Here juis ’n dogtertjie sonder ’n naam en met ’n geskiedenis gebruik om lewens te verander. 

Of miskien was jy nog altyd te groot om die klein dingetjies vir God te doen.  Dan moet jy hoor dat groot-wees lê in klein-wees. 

Hoe wonderlik sal dit nie wees nie; die dag as kinders van die Here in ’n land waarin mense groot wil wees, die voorbeeld stel van klein-wees!  Ons land sal nie verander sonder klein mensies nie!  En ons is die agente van verandering wanneer ons lewens die voorbeeld van nederige, naamlose, onselfsugtige diens aan ons Skepper is.    

Ek bid dat die Here sy gemeente, vir my en vir jou, so sal aanraak en verander dat ons bereid sal wees om die klein dingetjies te doen, ter wille van die grootheid van ons God.  Ek weet nie wat jou klein bydrae hierdie week gaan wees nie, ek weet nie of ander dit sal weet of eers raaksien nie, maar wat ek weet is dat God groot dinge deur klein mensies doen.  Amen