25 Desember 2010

In die begin het God die hemel en die aarde geskep.  Waarskynlik biljoene jare gelede.  Hoe presies Hy dit gemaak het, bly ’n Godswonder.  Maar wat Hy gemaak het, was alles goed, in harmonie volmaak en so ontsagwekkend groot dat die mens se gedagtes nie eers die omvang daarvan kan raai of bedink nie.  En in Sy skepping maak God die venster op ’n skrefie oop sodat ons iets kan verstaan en iets kan beleef van die grootheid en misterie van God.  Kyk na die volgende….  (SKYFIE)  Albert Einstein het eenkeer gesê: “Wat die onbegryplikste van die skepping is, is dat ons as skepsels hoegenaamd iets daarvan kan begryp.” 

God skep sodat elke stukkie skepping deel kan word van die orkes wat lof en eer aan Hom bring.  En as Dawid in Psalm 8 met dieselfde verwondering staan voor die groot skepping van God sê hy: “As ek die hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?  U het hom net ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon, U laat hom heers oor die werk van u hande…”  Broers en susters, binne hierdie skepping, maak God vir ons as mens lewensruimte, en op hierdie amper onsigbare spikkeltjie kroon Hy ons as die kroon van Sy skepping om dit wat Hy so mooi en volmaak in harmonie geskape het, te geniet en op te pas.    

En baie vinnig, sommer op die eerste paar bladsye van die mens se bestaan, lees ons wat maak die mens toe met dit wat God vir hom gegee het?  Kortom, ‘n gemors!  En die mooie en skone verander baie vinnig in ’n wêreld vol besoedeling, ’n wêreld van moord en vernietiging, swaarkry en lyding.  Dit word toe die refrein van die mensdom, deur al die eeue heen van Kaïn en Abel se dae af.  Die refrein van swaarkry, vernietiging, gebrokenheid.  En vriende, dit is steeds die storie, die ruimte, die refrein van Kersfees 2010.  Al probeer ons tydelik die donker ligter maak met ons liggies en die vreugde aanblaas met ons persente en etes, bly dit vandag ’n Somerkersfees in die hartjie van ‘n land en ’n wêreld vol donkerte en gebrokenheid. 

Broers en susters, dit wat stukkend is, het ons stukkend gemaak.  Die gebrokenheid is hier waar ons bly!  Hierdie spikkeltjie tussen biljoene ander spikkeltjies!  Dit is op hierdie spikkeltjie wat die mens teen sy Skepper gedraai het.  Dit is op hierdie amper onsigbare korreltjie waar die mens chaos veroorsaak het.  Dit is op hierdie kolletjie waar die mens God probeer wees en dit is hier waar die mens dit wat God gemaak het, probeer vernietig.  Maar liewe vriende, in verhouding tot God se hele skepping, dit wat buite om hierdie wêreldjie is waarin ons leef, is alles steeds in plek, alles in hulle baan, perfek in sy hand, ongesteurd!  Want dit wat stukkend en gebroke is, is hier waar die mens met sy sondigheid kom afbreek het. 

En daarom vra Dawid: “Wat is die mens dan dat U nog aan hom dink?”  Hoekom sien U nog enigsins hierdie spikkeltjie op die spikkeltjie raak?  En dit, broers en susters, is ’n Kersfeesvraag.  En dit is die vraag wat Johannes in die eerste hoofstuk kom antwoord.    

Johannes vertel van Kersfees op ’n ander manier.  Hy vertel nie, soos die ander evangelies, van Jesus se geboorte, Josef en Maria, die herders en wyse manne nie.  Johannes skryf een sin oor Kersfees.  Vers 14: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.”  En in hierdie een sin word die hele betekenis van die Kersboodskap ryklik saamgevat. 

God se plan met die stukkende wêreld was nie om te vernietig nie, nie om daarvan te vergeet nie, maar om heel te maak, te herstel, op te bou en genesing te bring!  En die plan waarmee God heling in die gebrokenheid bewerkstellig, is om sy eie Seun na hierdie spikkeltjie te stuur.  Die Woord wat eens geskep het, word mens en kom woon saam met mense, tussen mense.  Ja die Woord neem die gestalte van ’n slaaf aan om op hierdie spikkeltjie aan nog ’n kleiner spikkeltjie mens gelyk te word.  God kom woon tussen gewone mense!  En dit is vir Johannes Kersfees!

Jesus kom en word deel die deurmekaarheid.  Deel van die hartseer.  Deel van die pyn en lyding en vernedering en bekommernis.  Hy word ’n mens in ’n gebroke wêreld en kom beleef wat ons beleef.  Hy kom voel wat ons voel, kom sweet soos ons sweet.  Alles om te kan verstaan waar ons lewe en alles sodat Hy kan vergewe.  Hy sit nie iewers ver soos ’n Kersvader op sy stoel en toekyk nie.  Hy word deel van ons daaglikse lewe.  En omdat God mens geword het verstaan Hy ons menslikheid.  Inteendeel Johannes wys reg deur die evangelie juis op Jesus se menslikheid.  Sy moegheid, sy dors, sy hartseer, sy bekommernis sodat ons daarin kan hoor dat God met ons assosieer.  God verstaan.  Hy verstaan ons twyfel en dikwels ongeloof.  Hy verstaan ons moedeloosheid en somtyds radeloosheid.  Hy verstaan ons menslikheid, want die Woord het mens geword en dit is Kersfees! 

Die boodskap van Kersfees, broers en susters is nie ‘n sprokie van ’n stal en ’n krip en sterre iewers in Betlehem jare gelede nie.  Die Kersboodskap vat grond as Jesus by ons kom woon!  Letterlik, Hy kom slaan tent op by ons.  Die tent van ontmoeting was in die Ou Testament die simbool van God se teenwoordheid by die volk.  Waar hulle getrek het, is die tent saam gedra en opgeslaan as teken dat God oral en altyd by hulle is en sal wees.  Dit is ook hierdie tent wat dikwels met rook en wolke gevul is en vanwaar God met sy kinders gepraat het.  So kom sê Johannes in vers 14, Jesus is God se tent!  In Christus Jesus het God by jou kom tent opslaan, sodat jy nooit sonder God sal wees nie!  En sodat jy nooit hoef te wonder waar God is, of Hy jou raaksien en jou hoor en of Hy met jou wil praat nie!  Jy hoef ook nie te wag vir rook en wolke nie, want God praat daagliks in verstaanbare taal, omdat Hy met jou praat deur die Woord en die Woord wat mens geword het!   

My liewe broer en suster, nog ‘n Kersdag sal oor ’n paar uur verby wees, maar Kersfees sal nooit in jou lewe ophou nie!  Want Jesus het in jou hart en in jou lewe kom tent opslaan, permanent!  Jy sal nooit sonder God in jou lewe wees nie!  Hy kom woon by jou as die Immanuel!  Met jou in jou swaarkry, met jou in jou hartseer, met jou in jou eensaamheid, met jou in jou siekte, met jou in jou bekommernis, met jou in jou vreugde, met jou elke tree van jou lewe.  Hy is met ons in die gebrokenheid van hierdie wêreld waarin ons leef, want Hy het sy tentjie ook in Suid-Afrika kom opslaan!  En al lyk dit somtyds vir ons of dit wat God geskep het buite beheer is, hou Hy alles veilig styf vas in sy hand.  Want die Lig het na die wêreld toe gekom en die donker kan dit tot in ewigheid nooit oorweldig nie.(Meer hieroor môre-oggend)

Slot:

Hierdie tyd van die jaar, ’n week voor die nuwe jaar, is ’n tyd van oorgang.  Die Kersversierings gaan afgehaal en die liggies afgeskakel word.  Die koerante se berigte gaan steeds volgende jaar ontstel.  Die gebrokenheid van ons Somerkersfees is deel van die wêreld waarin ons leef.  Maar wanneer God kom tent opslaan tussen ons, maak Jesus een vir een, stukkie vir stukkie weer heel totdat Hy weer kom.   En Hy begin sommer weer vanmôre by jou wat die Kersboodskap gehoor het en dit nou glo. 

Mag u hierdie Kerstyd herinner word aan die Almagtige Skeppergod wat in al sy grootheid by jou kom tent opslaan.  Kersdag gaan verby, maar dit sal altyd Kersfees in jou lewe bly!  Want Hy is die Kersfees, die Immanuel, die Lig in die donker met ons, God by ons! 

Mag u ’n wonderlike geseënde Kersfees hê.  Mag ons ‘n ander geboorte prentjie vanmôre sien as net ’n aardse stal met wyse manne.  Bo en groter as hierdie wêreld is God.  Maar ook  binne en deel van hierdie wêreld is God.  Dit is Kersfees!  Want die Woord het mens geword en onder ons kom woon.  Amen